Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
ZECHARIAH
1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 4
Zech Afr1953 4:1  En die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos 'n man wat uit die slaap opgewek word.
Zech Afr1953 4:2  En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is.
Zech Afr1953 4:3  Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan.
Zech Afr1953 4:4  Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?
Zech Afr1953 4:5  En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.
Zech Afr1953 4:6  Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.
Zech Afr1953 4:7  Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!
Zech Afr1953 4:8  En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
Zech Afr1953 4:9  Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het.
Zech Afr1953 4:10  Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe — die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop — met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?
Zech Afr1953 4:11  Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan?
Zech Afr1953 4:12  En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom?
Zech Afr1953 4:13  Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.
Zech Afr1953 4:14  En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.