Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
ZECHARIAH
1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 11
Zech Afr1953 11:1  Open jou deure, o Líbanon, sodat vuur jou sederbome verteer!
Zech Afr1953 11:2  Huil, o sipres, omdat die seder geval het, omdat die pragtige bome verwoes is! Huil, eike van Basan, omdat die ontoeganklike woud afgekap is.
Zech Afr1953 11:3  Hoor! die gejammer van die herders, want hulle heerlikheid is verwoes. Hoor! die geknor van die jong leeus, want die pronkbosse van die Jordaan is verwoes.
Zech Afr1953 11:4  So sê die HERE my God: Wees herder van die slagskape —
Zech Afr1953 11:5  hulle kopers maak hulle dood, sonder om skuldig te voel; hulle verkopers sê: Geloofd sy die HERE; ek word ryk! En hulle herders het geen medelyde met hulle nie.
Zech Afr1953 11:6  Want Ek sal met die inwoners van die land geen medelyde meer hê nie, spreek die HERE; maar kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy naaste en in die hand van sy koning; en hulle sal die land verwoes, en Ek sal uit hulle hand nie red nie.
Zech Afr1953 11:7  En ek het die slagskape — waarlik ellendige skape! — opgepas; en ek het vir my twee stawe geneem. Die een het ek genoem: Lieflikheid, en die ander het ek genoem: Samebinding; en ek het die skape opgepas.
Zech Afr1953 11:8  En ek het die drie herders in een maand vernietig. Toe het my siel ongeduldig geword oor hulle, terwyl hulle siel ook van my afkerig geword het.
Zech Afr1953 11:9  Daarop het ek gesê: Ek wil julle nie meer oppas nie — wat sterwend is, laat sterwe; en wat verlore gaan, laat verlore wees, en laat die wat oorbly, mekaar se vleis verslind!
Zech Afr1953 11:10  Toe het ek my staf Lieflikheid geneem en dit verbreek, om my verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek.
Zech Afr1953 11:11  En dit is op dié dag verbreek. En so het die ellendiges onder die skape wat op my ag gegee het, bemerk dat dit 'n woord van die HERE was.
Zech Afr1953 11:12  Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer.
Zech Afr1953 11:13  Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker — die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi.
Zech Afr1953 11:14  Toe het ek my tweede staf, Samebinding, verbreek, om die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek.
Zech Afr1953 11:15  Daarop sê die HERE vir my: Neem weer vir jou die gereedskap van 'n herder, van 'n dwase.
Zech Afr1953 11:16  Want kyk, Ek sal 'n herder verwek in die land; na wat verlore is, sal hy nie omkyk nie; wat verstrooi is, nie opsoek nie; en wat gebroke is, nie genees nie; en wat nog regop staan, nie versorg nie. Maar die vleis van die vettes sal hy eet en selfs hulle kloue afruk.
Zech Afr1953 11:17  Wee die slegte herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm tref en sy regteroog! Mag sy arm heeltemal verdor en sy regteroog heeltemal verduister word!