Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
SONG OF SOLOMON
1 2 3 4 5 6 7 8
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 5
Song Afr1953 5:1  Ek het in my tuin gekom, my susterbruid, ek het my mirre met my balsem gepluk, ek het geëet van my heuningkoek met my heuning, ek het gedrink my wyn met my melk; eet, vriende, drink en word dronk, bemindes.
Song Afr1953 5:2  Ek het geslaap, maar my hart het gewaak. Hoor, my beminde klop: Maak vir my oop, my suster, my vriendin, my duif, my volmaakte! Want my hoof is vol dou, my haarlokke vol nagdruppels.
Song Afr1953 5:3  Ek het my kleed uitgetrek, hoe kan ek dit weer aantrek? Ek het my voete gewas, hoe kan ek dit weer vuil maak?
Song Afr1953 5:4  My beminde het sy hand deur die deuropening gesteek; toe het my binneste oor hom in beroering gekom;
Song Afr1953 5:5  ek het opgestaan om vir my beminde oop te maak, terwyl my hande drup van mirre en my vingers van vloeiende mirre op die handvatsels van die grendel.
Song Afr1953 5:6  Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan; ek het my besinning verloor toe hy gespreek het; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie.
Song Afr1953 5:7  Die wagte wat in die stad rondgaan, het my aangetref; hulle het my geslaan, my gewond; die wagte by die mure het my mantel van my afgeneem.
Song Afr1953 5:8  Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, as julle my beminde vind, wat sal julle hom vertel? Dat ek krank is van liefde.
Song Afr1953 5:9  Wat is u beminde meer as 'n ander beminde, o skoonste onder die vroue — wat is u beminde meer as 'n ander beminde, dat u ons so besweer het?
Song Afr1953 5:10  My beminde is skitterend wit en rooi, uitnemender as tien duisend.
Song Afr1953 5:11  Sy hoof is goud, suiwer goud; sy haarlokke is golwende, swart soos 'n raaf,
Song Afr1953 5:12  sy oë soos duiwe by waterstrome, in melk gewas, sittend by 'n volle bron.
Song Afr1953 5:13  Sy wange is soos balsembeddings, terrasbeddings van geurige plante; sy lippe is lelies wat van vloeiende mirre drup.
Song Afr1953 5:14  Sy hande is ronde stawe van goud, ingevul met chrisoliet, sy liggaam 'n kunswerk van ivoor, bedek met saffierstene.
Song Afr1953 5:15  Sy bene is marmerpilare wat rus op voetstukke van fyn goud; sy gestalte is soos die Líbanon, uitgesoek soos die seders.
Song Afr1953 5:16  Sy verhemelte is pure soetigheid, ja, hy is geheel en al die lieflikheid self. Dit is my beminde en dit is my vriend, dogters van Jerusalem.