Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOSHUA
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 7
Josh Afr1953 7:1  Maar die kinders van Israel het hulle vergryp aan die bangoed; want Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed geneem, sodat die toorn van die HERE ontvlam het teen die kinders van Israel.
Josh Afr1953 7:2  Daarop het Josua manne van Jérigo af gestuur na Ai wat by Bet-Awen lê, oostelik van Bet-el, en hy het met hulle gespreek en gesê: Trek op en verken die land; en die manne het opgetrek en Ai verken.
Josh Afr1953 7:3  Toe hulle by Josua terugkom, het hulle vir hom gesê: Al die manskappe hoef nie op te trek nie; omtrent twee duisend man of omtrent drie duisend kan optrek, en hulle sal Ai verslaan; moenie al die manskappe met 'n tog daarheen vermoei nie, want hulle is daar maar min.
Josh Afr1953 7:4  So het daar dan van die manskappe omtrent drie duisend man daarnatoe opgetrek; maar hulle moes vlug voor die manne van Ai;
Josh Afr1953 7:5  en die manne van Ai het uit hulle omtrent ses en dertig man doodgeslaan en hulle agtervolg van die poort af tot by Sebárim en hulle verslaan op die afdraand; en die volk se hart het versmelt en soos water geword.
Josh Afr1953 7:6  Toe het Josua sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die HERE, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en hulle het stof op hul hoofde gegooi.
Josh Afr1953 7:7  En Josua het gesê: Ag, Here HERE, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons oor te gee in die hand van die Amoriete, sodat hulle ons kan vernietig? Het ons tog maar besluit om oorkant die Jordaan te bly!
Josh Afr1953 7:8  Ag Here, wat sal ek sê nadat Israel vir sy vyande die rug gegee het?
Josh Afr1953 7:9  En as die Kanaäniete en al die inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei; wat sal U dan vir u grote Naam doen?
Josh Afr1953 7:10  Toe sê die HERE aan Josua: Staan op; waarom tog lê jy op jou aangesig?
Josh Afr1953 7:11  Israel het gesondig en het ook my verbond oortree wat Ek hulle opgelê het, en ook geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg.
Josh Afr1953 7:12  En die kinders van Israel sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle sal hul vyande die rug gee, omdat hulle self 'n ban geword het. Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die ban onder julle uit verdelg nie.
Josh Afr1953 7:13  Staan op! Heilig die volk en sê: Heilig julleself teen môre; want so sê die HERE, die God van Israel: Daar is 'n ban in jou midde, Israel! Jy sal nie kan standhou voor jou vyande totdat julle die ban onder julle uit verwyder het nie.
Josh Afr1953 7:14  Kom dan môre vroeg aan volgens julle stamme; en die stam wat die HERE deur die lot aanwys, moet aankom volgens die geslagte; en die geslag wat die HERE aanwys, moet aankom volgens die huisgesinne, en die huisgesin wat die HERE aanwys, moet aankom man vir man.
Josh Afr1953 7:15  En hy wat in besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en 'n skanddaad in Israel begaan het.
Josh Afr1953 7:16  En Josua het vroeg in die môre klaargemaak en Israel laat aankom volgens sy stamme; en die stam van Juda is aangewys.
Josh Afr1953 7:17  Toe hy die geslagte van Juda laat aankom, het die lot die geslag van die Sargiete aangewys; toe hy die geslag van die Sargiete laat aankom man vir man, is Sabdi aangewys ;
Josh Afr1953 7:18  toe hy sy huisgesin man vir man laat aankom, is Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, aangewys.
Josh Afr1953 7:19  Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die HERE, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie.
Josh Afr1953 7:20  Toe het Agan Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die HERE, die God van Israel, en so en so het ek gedoen.
Josh Afr1953 7:21  Ek het naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en twee honderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder.
Josh Afr1953 7:22  Toe Josua dan boodskappers stuur en hulle na die tent loop, lê dit daar begrawe in sy tent, en die silwer daaronder.
Josh Afr1953 7:23  En hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit na Josua en al die kinders van Israel gebring en dit voor die aangesig van die HERE uitgeskud.
Josh Afr1953 7:24  Daarop het Josua en die hele Israel met hom saam Agan, die seun van Serag, geneem met die silwer en die mantel en die goudstaaf en sy seuns en sy dogters en sy beeste en sy esels en sy kleinvee en sy tent en alles wat aan hom behoort het, en hulle het hul na die dal Agor gebring.
Josh Afr1953 7:25  En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.
Josh Afr1953 7:26  En hulle het 'n groot hoop klippe op hom gestapel wat tot vandag toe daar is. Toe het die HERE Hom afgewend van die gloed van sy toorn. Daarom noem hulle daardie plek Dal Agor tot vandag toe.