Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
ISAIAH
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 22
Isai Afr1953 22:1  Godspraak oor die dal van die gesig. Wat is dit dan met jou dat jy, jou hele bevolking, op die dakke geklim het,
Isai Afr1953 22:2  rumoerige, woelige stad, uitgelate vesting? Die wat in jou verslaan is, is nie deur die swaard verslaan en het nie in die oorlog gesterwe nie.
Isai Afr1953 22:3  Al jou owerstes het almal saam gevlug, sonder boog is hulle gebind; almal wat in jou gegryp is, is almal saam gebind; hulle het ver weggevlug.
Isai Afr1953 22:4  Daarom sê ek: Kyk weg van my af, dat ek bitterlik kan ween; dring nie aan om my te troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie;
Isai Afr1953 22:5  want dit is 'n dag van rumoer en vertrapping en verwarring deur die Here, die HERE van die leërskare, in die dal van die gesig — omgooi van mure en geskreeu na die gebergte toe!
Isai Afr1953 22:6  En Elam het die pylkoker geneem, met waens, manskappe, ruiters; en Kir het die skild ontbloot.
Isai Afr1953 22:7  Dan word jou beste dale met strydwaens gevul, en die ruiters staan gereed in die rigting van die poort;
Isai Afr1953 22:8  en die beskutting van Juda word weggeneem. En in dié dag kyk jy na die wapens in die Huis van die Bos,
Isai Afr1953 22:9  en julle sien die skeure van die stad van Dawid, dat hulle baie is, en julle vang die waters van die Onderste Dam op.
Isai Afr1953 22:10  En julle tel die huise van Jerusalem, en die huise breek julle af om die muur te versterk.
Isai Afr1953 22:11  En julle maak 'n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie.
Isai Afr1953 22:12  En in dié dag roep die Here, die HERE van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;
Isai Afr1953 22:13  maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.
Isai Afr1953 22:14  Maar die HERE van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê: Waarlik, hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe nie! sê die Here, die HERE van die leërskare.
Isai Afr1953 22:15  So sê die Here, die HERE van die leërskare: Kom, gaan in by daardie bestuurder, by Sebna, wat oor die paleis aangestel is, en sê:
Isai Afr1953 22:16  Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier 'n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom 'n woning uithol?
Isai Afr1953 22:17  Kyk, die HERE sal jou wegslinger, soos 'n man iets wegslinger, en jou vas inmekaar rol,
Isai Afr1953 22:18  jou vas inmekaar draai soos 'n tol garing, jou soos 'n bal wegslinger na 'n land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens wees, o skandvlek van die huis van jou heer!
Isai Afr1953 22:19  En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.
Isai Afr1953 22:20  En in dié dag sal Ek my kneg Éljakim, die seun van Hilkía, roep;
Isai Afr1953 22:21  en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda 'n vader wees.
Isai Afr1953 22:22  En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie.
Isai Afr1953 22:23  En Ek sal hom inslaan soos 'n pen in 'n vaste plek, en hy sal 'n eretroon wees vir die huis van sy vader.
Isai Afr1953 22:24  En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande kruike toe.
Isai Afr1953 22:25  In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal die pen padgee wat in 'n vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek en val, en die drag goed wat daaraan hang, raak tot niet, want die HERE het dit gespreek.