Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
ISAIAH
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 38
Isai Afr1953 38:1  In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.
Isai Afr1953 38:2  Toe draai Hiskía sy gesig na die muur, en hy het tot die HERE gebid
Isai Afr1953 38:3  en gesê: Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met 'n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween.
Isai Afr1953 38:4  Toe het die woord van die HERE tot Jesaja gekom en gesê:
Isai Afr1953 38:5  Gaan sê vir Hiskía: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg,
Isai Afr1953 38:6  en Ek sal jou uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad; en Ek sal hierdie stad beskut.
Isai Afr1953 38:7  En dit sal vir jou die teken wees van die kant van die HERE, dat die HERE hierdie woord wat Hy gespreek het, sal volbring:
Isai Afr1953 38:8  Kyk, Ek sal die skaduwee op die grade wat dit gedaal het deur die son op die grade van Agas se sonnewyser, laat teruggaan, tien grade agteruit. En die son het tien grade teruggegaan op die grade wat dit gedaal het.
Isai Afr1953 38:9  Geskrif van Hiskía, die koning van Juda, toe hy siek was en van sy siekte gesond geword het.
Isai Afr1953 38:10  Ek het gesê: In die bloei van my dae moet ek heengaan in die poorte van die doderyk; ek word beroof van my orige jare.
Isai Afr1953 38:11  Ek het gesê: Ek sal die HERE nie sien nie, die HERE, in die land van die lewendes; ek sal die mense nie meer aanskou onder die inwoners van die wêreld nie.
Isai Afr1953 38:12  My woning is opgebreek en van my af weggevoer soos 'n herderstent; ek het my lewe opgerol soos 'n wewer sy weefsel; Hy sny my van die wewersbalk af; van dag tot nag gee U my prys.
Isai Afr1953 38:13  Bring ek myself tot bedaring tot die môre — soos 'n leeu só verbreek Hy al my beendere; van dag tot nag gee U my prys.
Isai Afr1953 38:14  Soos 'n swaweltjie of kraanvoël, so het ek gepiep; ek het gekir soos 'n duif; my oë het dof gekyk na bo: HERE, ek is benoud, wees U my Borg!
Isai Afr1953 38:15  Wat sal ek spreek, aangesien Hy my dit beloof het en Hy self dit gedoen het? Ek sal soetjies voortgaan al my jare vanweë die bitterheid van my siel.
Isai Afr1953 38:16  Here, by hierdie dinge leef 'n mens, en geheel en al is daarin die lewe van my gees: laat my dan gesond word en laat my lewe!
Isai Afr1953 38:17  Kyk, tot heil het die bitter, ja, bitter lyde my geword; maar U, U het my siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging. Want U het al my sondes agter u rug gewerp.
Isai Afr1953 38:18  Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie.
Isai Afr1953 38:19  Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag; die vader maak aan die kinders u trou bekend.
Isai Afr1953 38:20  Die HERE staan gereed om my te verlos; daarom sal ons op my snaarinstrumente speel al die dae van ons lewe, by die huis van die HERE.
Isai Afr1953 38:21  En Jesaja het gesê: Laat hulle 'n vyekoek neem en dit op die sweer sit, dat hy gesond kan word.
Isai Afr1953 38:22  En Hiskía het gesê: Wat is die teken dat ek na die huis van die HERE sal opgaan?