Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
ISAIAH
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 29
Isai Afr1953 29:1  Wee Ariël, Ariël, stad waar Dawid laer opgeslaan het! Voeg jaar by jaar; laat die feeste hulle kringloop volbring —
Isai Afr1953 29:2  dan sal Ek Ariël benoud maak, en daar sal geklaag en geklag wees, en dit sal vir My soos Ariël wees.
Isai Afr1953 29:3  En Ek sal in 'n kring teen jou laer opslaan en jou met wagposte beleër en skanse teen jou oprig.
Isai Afr1953 29:4  Dan sal jy diep uit die grond spreek, en op dowwe toon sal jou woord uit die stof voortkom; en jou stem sal uit die grond opkom soos dié van die gees van 'n afgestorwene, en uit die stof sal jou woord piep.
Isai Afr1953 29:5  Maar die menigte van jou vyande sal word soos dun stof, en die menigte van die tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal heeltemal onverwags gebeur.
Isai Afr1953 29:6  Vanweë die HERE van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van 'n verterende vuur.
Isai Afr1953 29:7  En soos 'n droom, 'n naggesig, sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen Ariël, ja, almal wat teen hom oorlog toe trek en teen sy bergvesting en hom benoud maak.
Isai Afr1953 29:8  En soos 'n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en — sy siel is leeg; en soos 'n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en — hy is moeg en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Sion.
Isai Afr1953 29:9  Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.
Isai Afr1953 29:10  Want die HERE het oor julle uitgegiet 'n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë — die profete — toegesluit en julle hoofde — die sieners — toegebind.
Isai Afr1953 29:11  So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van 'n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël.
Isai Afr1953 29:12  Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.
Isai Afr1953 29:13  En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is,
Isai Afr1953 29:14  daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.
Isai Afr1953 29:15  Wee hulle wat planne diep verberg vir die HERE, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons?
Isai Afr1953 29:16  o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?
Isai Afr1953 29:17  Sal dit nie nog 'n baie kort rukkie duur dat die Líbanon in 'n vrugteboord verander word, en die vrugteboord vir 'n bos gereken word nie?
Isai Afr1953 29:18  En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien.
Isai Afr1953 29:19  En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die HERE, en die behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel.
Isai Afr1953 29:20  Want gedaan is dit met die tiran, en klaar is dit met die spotter, en uitgeroei is almal wat op ongeregtigheid bedag is —
Isai Afr1953 29:21  hulle wat 'n mens as sondaar brandmerk ter wille van 'n woord, en strikke span vir hom wat vir die reg opkom in die poort, en die regverdige met nietige voorwendsels wegstoot.
Isai Afr1953 29:22  Daarom, so sê die HERE tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het: Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie;
Isai Afr1953 29:23  want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees;
Isai Afr1953 29:24  en hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry, en die murmureerders sal lering aanneem.