Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
ISAIAH
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 9
Isai Afr1953 9:1  Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het 'n lig geskyn.
Isai Afr1953 9:2  U het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word.
Isai Afr1953 9:3  Want die juk wat op hulle gedruk het, en die stok wat hulle rug getref het, die roede van hulle drywer, het U verbreek soos op die dag van Mídian.
Isai Afr1953 9:4  Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun, en die kleed wat in bloed gerol is, dien tot verbranding, 'n prooi van die vuur.
Isai Afr1953 9:5  Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —
Isai Afr1953 9:6  tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
Isai Afr1953 9:7  Die HERE stuur 'n woord in Jakob, en dit val in Israel;
Isai Afr1953 9:8  en die hele volk sal dit gewaarword, Efraim en die inwoners van Samaría, wat in trotsheid en grootsheid van hart sê:
Isai Afr1953 9:9  Die bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons bou; die wildevyebome is afgekap, maar ons sal seders in hulle plek neem!
Isai Afr1953 9:10  Maar die HERE gee aan die teëstanders van Resin die oorhand oor hulle, en hulle vyande sal Hy ophits:
Isai Afr1953 9:11  die Arameërs van voor en die Filistyne van agter, dat hulle Israel met volle mond kan opeet. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
Isai Afr1953 9:12  Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom wat hulle slaan nie, en hulle soek nie die HERE van die leërskare nie.
Isai Afr1953 9:13  Daarom sny die HERE van Israel af kop en stert, palmtak en biesie, op een dag.
Isai Afr1953 9:14  Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert;
Isai Afr1953 9:15  en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op 'n dwaalweg gebring.
Isai Afr1953 9:16  Daarom sal die Here oor hulle jongmanne nie bly wees nie en Hom nie ontferm oor hulle wese en hulle weduwees nie; want hulle is almal roekelose mense en kwaaddoeners, en elke mond spreek goddeloosheid. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
Isai Afr1953 9:17  Want die goddeloosheid brand soos vuur; dit verteer dorings en distels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in 'n rookpilaar opstyg.
Isai Afr1953 9:18  Deur die grimmigheid van die HERE van die leërskare staan die land in vlamme en het die volk geword soos 'n prooi van die vuur; die een spaar die ander nie.
Isai Afr1953 9:19  En hulle byt na regs en het honger; hulle vreet na links en word nie versadig nie; hulle eet elkeen die vlees van sy eie arm:
Isai Afr1953 9:20  Manasse vir Efraim, en Efraim vir Manasse, en hulle saam is teen Juda. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.