Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
GENESIS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 4
Gene Afr1953 4:1  En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het 'n man verkry met die hulp van die HERE.
Gene Afr1953 4:2  Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het 'n skaapherder geword, en Kain 'n landbouer.
Gene Afr1953 4:3  En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE 'n offer gebring.
Gene Afr1953 4:4  En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,
Gene Afr1953 4:5  maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.
Gene Afr1953 4:6  En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?
Gene Afr1953 4:7  Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie — die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.
Gene Afr1953 4:8  En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.
Gene Afr1953 4:9  Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?
Gene Afr1953 4:10  En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.
Gene Afr1953 4:11  Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.
Gene Afr1953 4:12  As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; 'n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.
Gene Afr1953 4:13  Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra.
Gene Afr1953 4:14  Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: 'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.
Gene Afr1953 4:15  Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die HERE het 'n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie.
Gene Afr1953 4:16  Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.
Gene Afr1953 4:17  En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy 'n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog.
Gene Afr1953 4:18  En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg.
Gene Afr1953 4:19  En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla.
Gene Afr1953 4:20  En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere.
Gene Afr1953 4:21  Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel.
Gene Afr1953 4:22  En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, 'n smid wat allerhande koper— en ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Naéma.
Gene Afr1953 4:23  En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan 'n man dood wat my wond en 'n seun wat my kwes.
Gene Afr1953 4:24  Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal.
Gene Afr1953 4:25  En Adam het sy vrou weer beken, en sy het 'n seun gebaar en hom Set genoem. Want, het sy gesê, God het my 'n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.
Gene Afr1953 4:26  En ook vir Set is 'n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.