Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
EPHESIANS
1 2 3 4 5 6
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 6
Ephe Afr1953 6:1  Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.
Ephe Afr1953 6:2  Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met 'n belofte —
Ephe Afr1953 6:3  sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.
Ephe Afr1953 6:4  En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.
Ephe Afr1953 6:5  Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus;
Ephe Afr1953 6:6  nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen
Ephe Afr1953 6:7  en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie,
Ephe Afr1953 6:8  omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy 'n slaaf is of 'n vryman.
Ephe Afr1953 6:9  En, here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.
Ephe Afr1953 6:10  Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.
Ephe Afr1953 6:11  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
Ephe Afr1953 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
Ephe Afr1953 6:13  Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.
Ephe Afr1953 6:14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,
Ephe Afr1953 6:15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.
Ephe Afr1953 6:16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
Ephe Afr1953 6:17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God —
Ephe Afr1953 6:18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
Ephe Afr1953 6:19  en vir my, sodat 'n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,
Ephe Afr1953 6:20  waarvoor ek 'n gesant is in kettings, sodat ek daarin vrymoediglik mag spreek soos ek moet spreek.
Ephe Afr1953 6:21  En dat julle ook my omstandighede kan ken, hoe dit met my gaan, alles sal Tíchikus, die geliefde broeder en getroue dienaar in die Here, julle bekend maak.
Ephe Afr1953 6:22  Ek het hom juis daarvoor na julle gestuur, dat julle ons omstandighede kan ken en hy julle harte kan troos.
Ephe Afr1953 6:23  Vrede vir die broeders en liefde, met geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus!
Ephe Afr1953 6:24  Die genade sy met almal wat onse Here Jesus Christus in onverganklikheid liefhet! Amen.