Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
ACTS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 28
Acts Afr1953 28:1  En eers toe ons gered was, het ons te wete gekom dat die eiland Melíte genoem word.
Acts Afr1953 28:2  En die inboorlinge het ons buitengewone mensliewendheid bewys, want hulle het 'n groot vuur aangesteek en ons almal daarby gebring weens die reën wat gedreig het en weens die koue.
Acts Afr1953 28:3  En Paulus het 'n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en 'n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt.
Acts Afr1953 28:4  En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis 'n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered.
Acts Afr1953 28:5  Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie.
Acts Afr1953 28:6  En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy 'n god was.
Acts Afr1953 28:7  Nou het die hoof van die eiland, wie se naam Públius was, in die omgewing van daardie plek 'n stuk grond gehad, en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik geherberg.
Acts Afr1953 28:8  En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.
Acts Afr1953 28:9  En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees.
Acts Afr1953 28:10  En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien.
Acts Afr1953 28:11  En ná drie maande het ons afgevaar in 'n skip van Alexandríë met die skeepsmerk Castor en Pollux, wat op die eiland oorwinter het.
Acts Afr1953 28:12  En ons het by Sirakúse gekom en daar drie dae gebly.
Acts Afr1953 28:13  Daarvandaan het ons omgeseil en by Régium aangekom en een dag later het die suidewind opgekom, en op die tweede het ons Putéoli bereik,
Acts Afr1953 28:14  waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly; en so het ons na Rome gegaan.
Acts Afr1953 28:15  En die broeders wat van ons lotgevalle gehoor het, het ons daarvandaan tegemoetgekom tot by die Appius-mark en die Drie Herberge; en toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed gevat.
Acts Afr1953 28:16  En nadat ons in Rome gekom het, het die hoofman oor honderd die gevangenes oorgelewer aan die bevelhebber van die leër. Maar aan Paulus is dit vergun om op sy eie te woon met die soldaat wat hom moes oppas.
Acts Afr1953 28:17  En ná drie dae het Paulus die vernaamste Jode saamgeroep en, nadat hulle vergader het, vir hulle gesê: Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine.
Acts Afr1953 28:18  Hulle het my ondersoek en wou my loslaat, omdat daar in my niks was wat die dood verdien nie.
Acts Afr1953 28:19  Maar toe die Jode daarteen opkom, was ek verplig om my op die keiser te beroep, nie asof ek iets het om my volk van te beskuldig nie.
Acts Afr1953 28:20  Om hierdie rede dan het ek versoek om u te sien en toe te spreek, want dit is oor die hoop van Israel dat ek met hierdie ketting geboei is.
Acts Afr1953 28:21  En hulle het vir hom gesê: Ons het geen briewe oor u van Judéa ontvang nie; ook het niemand van die broeders hier aangekom en iets slegs van u berig of gepraat nie.
Acts Afr1953 28:22  Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.
Acts Afr1953 28:23  En hulle het vir hom 'n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in 'n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus.
Acts Afr1953 28:24  En sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly.
Acts Afr1953 28:25  En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek
Acts Afr1953 28:26  en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
Acts Afr1953 28:27  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
Acts Afr1953 28:28  Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.
Acts Afr1953 28:29  En toe hy dit gesê het, het die Jode, onder groot woordestryd met mekaar, weggegaan.
Acts Afr1953 28:30  En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het,
Acts Afr1953 28:31  terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.