Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOEL
1 2 3
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 2
Joel Afr1953 2:1  Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby —
Joel Afr1953 2:2  'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom 'n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.
Joel Afr1953 2:3  Voor hom uit verteer 'n vuur, en agter hom brand 'n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit 'n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.
Joel Afr1953 2:4  Sy voorkoms is soos dié van perde, en net soos ryperde so hardloop hulle.
Joel Afr1953 2:5  Soos die gedruis van waens huppel hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van 'n vuurvlam wat die kaf verteer, soos 'n magtige volk wat vir die geveg opgestel is.
Joel Afr1953 2:6  Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek.
Joel Afr1953 2:7  Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie.
Joel Afr1953 2:8  En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid.
Joel Afr1953 2:9  Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos 'n dief.
Joel Afr1953 2:10  Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.
Joel Afr1953 2:11  En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?
Joel Afr1953 2:12  Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag.
Joel Afr1953 2:13  En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;
Joel Afr1953 2:14  wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy 'n seën sal agterlaat — 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE julle God.
Joel Afr1953 2:15  Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam!
Joel Afr1953 2:16  Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek.
Joel Afr1953 2:17  Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?
Joel Afr1953 2:18  Toe het die HERE geywer vir sy land en sy volk verskoon.
Joel Afr1953 2:19  En die HERE het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie meer tot 'n voorwerp van smaad onder die nasies nie.
Joel Afr1953 2:20  Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag en dit wegdrywe na 'n dor en woeste land; sy voorhoede na die Oostelike See en sy agterhoede na die Westelike See toe. En sy stank sal opstyg, en 'n slegte reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen.
Joel Afr1953 2:21  Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge!
Joel Afr1953 2:22  Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag!
Joel Afr1953 2:23  En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.
Joel Afr1953 2:24  Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.
Joel Afr1953 2:25  En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het — my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.
Joel Afr1953 2:26  Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
Joel Afr1953 2:27  En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die HERE julle God is, en niemand anders nie; en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
Joel Afr1953 2:28  En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.
Joel Afr1953 2:29  En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.
Joel Afr1953 2:30  En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare.
Joel Afr1953 2:31  Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom.
Joel Afr1953 2:32  En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.