Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
DEUTERONOMY
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 33
Deut Afr1953 33:1  En dit is die seën waarmee Moses, die man van God, die kinders van Israel geseën het voor sy dood.
Deut Afr1953 33:2  En hy het gesê: Die HERE het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tien duisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle.
Deut Afr1953 33:3  Ja, Hy het die stamme lief. Al sy heiliges — hulle is in u hand; en hulle was gelaer by u voet; elkeen ontvang iets van u uitsprake.
Deut Afr1953 33:4  Moses het ons die wet beveel, 'n besitting vir die vergadering van Jakob.
Deut Afr1953 33:5  En Hy het Koning geword in Jesúrun, toe die hoofde van die volk vergader het, die stamme van Israel almal saam.
Deut Afr1953 33:6  Laat Ruben lewe en nie sterwe nie, en laat sy manne 'n aantal wees.
Deut Afr1953 33:7  En dít vir Juda, en hy het gesê: Hoor, HERE, die stem van Juda, en bring hom na sy volk toe; met sy hande het hy geveg vir hulle, en wees U vir hom 'n hulp teenoor sy teëstanders.
Deut Afr1953 33:8  En van Levi het hy gesê: U Tummim en u Urim is vir die man, u gunsgenoot, u wat deur U beproef is in Massa, met wie U getwis het by die waters van Mériba;
Deut Afr1953 33:9  wat van sy vader en sy moeder gesê het: Ek sien hom nie, en sy broers nie erken het en van sy seuns niks geweet het nie; want hulle het u woord bewaar en u verbond gehou.
Deut Afr1953 33:10  Hulle sal Jakob u verordeninge leer en Israel u wet; hulle sal reukwerk voor U neerlê en 'n voloffer op u altaar.
Deut Afr1953 33:11  Seën, HERE, sy krag, en laat die werk van sy hande U welgevallig wees; verpletter die lendene van die wat teen hom opstaan en hom haat, sodat hulle nie kan opstaan nie.
Deut Afr1953 33:12  Van Benjamin het hy gesê: Die beminde van die HERE — hy sal veilig by Hom woon; Hy beskerm hom die hele dag en woon tussen sy berghange.
Deut Afr1953 33:13  En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die HERE is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê,
Deut Afr1953 33:14  en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane
Deut Afr1953 33:15  en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels
Deut Afr1953 33:16  en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het — laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers.
Deut Afr1953 33:17  Sy eersgebore stier — heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tien duisende van Efraim, en dit is die duisende van Manasse!
Deut Afr1953 33:18  En van Sébulon het hy gesê: Verheug jou, Sébulon, oor jou togte, en Issaskar, oor jou tente.
Deut Afr1953 33:19  Hulle sal volke na die berg roep; daar sal hulle offers van geregtigheid offer; want hulle sal die oorvloed van die see insuig en die verborgenste skatte van die sand.
Deut Afr1953 33:20  En van Gad het hy gesê: Geseënd is Hy wat vir Gad ruimte maak; hy gaan lê soos 'n leeuin en verskeur die arm, ja, die hoofskedel.
Deut Afr1953 33:21  En hy het vir hom 'n eerstelingsaandeel uitgekies, want daar was die deel van 'n veldheer bewaar; en hy het gekom na die hoofde van die volk, hy het die geregtigheid van die HERE uitgevoer en sy verordeninge met Israel.
Deut Afr1953 33:22  En van Dan het hy gesê: Dan is 'n jong leeu wat uit Basan uitspring.
Deut Afr1953 33:23  En van Náftali het hy gesê: Náftali, versadig van geluk en vol van die seën van die HERE — neem jy see en suidland in besit!
Deut Afr1953 33:24  En van Aser het hy gesê: Geseënd is Aser bo die seuns; laat hy die liefling van sy broers wees, en een wat sy voet in olie insteek.
Deut Afr1953 33:25  Mag jou grendel yster en koper wees, en jou sterkte soos jou dae.
Deut Afr1953 33:26  Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid.
Deut Afr1953 33:27  Die ewige God is 'n woning, en onder — ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg!
Deut Afr1953 33:28  So het Israel dan veilig gaan woon, die bron van Jakob in afsondering, in 'n land van koring en mos; ja, sy hemel laat dou afdrup.
Deut Afr1953 33:29  Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? 'n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande julle al kruipende aan jou onderwerp; maar jy sal op hulle hoogtes stap.