Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
EXODUS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 38
Exod Afr1953 38:1  Hy het ook die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte, vierkantig, en drie el sy hoogte.
Exod Afr1953 38:2  En hy het sy horings op die vier hoeke gemaak; sy horings was, daarmee saam, uit een stuk: en hy het dit met koper oorgetrek.
Exod Afr1953 38:3  Hy het ook al die gereedskap van die altaar gemaak: die potte en die skoppe en die komme, die vurke en die vuurpanne. Al dié gereedskap het hy van koper gemaak.
Exod Afr1953 38:4  Ook het hy vir die altaar 'n traliewerk gemaak, 'n netwerk van koper, onder sy lys, onderaan tot by die helfte van die altaar.
Exod Afr1953 38:5  En hy het vier ringe aan die vier ente van die kopertraliewerk gegiet, as plekke vir die draaghoute.
Exod Afr1953 38:6  En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek.
Exod Afr1953 38:7  En hy het die draaghoute in die ringe gesteek, aan die kante van die altaar, om dit daarmee te dra; hy het dit hol, van planke, gemaak.
Exod Afr1953 38:8  Hy het ook die koperwaskom gemaak met sy kopervoetstuk, uit die spieëls van die diensdoende vroue wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het.
Exod Afr1953 38:9  Hy het ook die voorhof gemaak. Aan die suidekant, na die suide toe, was daar die behangsels van die voorhof, van fyn dubbeldraad-linne, honderd el lank;
Exod Afr1953 38:10  daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer;
Exod Afr1953 38:11  en aan die noordekant honderd el; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
Exod Afr1953 38:12  En aan die westekant was daar behangsels, vyftig el lank; daarby tien pilare met hulle tien voetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
Exod Afr1953 38:13  En aan die oostekant, teen sonop, was daar vyftig el;
Exod Afr1953 38:14  vyftien el behangsels vir die een kant, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke;
Exod Afr1953 38:15  en vir die ander kant — aan weerskante van die poort van die voorhof — vyftien el behangsels, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke.
Exod Afr1953 38:16  Al die behangsels van die voorhof rondom was van fyn dubbeldraad-linne;
Exod Afr1953 38:17  en die voetstukke van die pilare was van koper, en die kramme en die ringe van die pilare van silwer; en die oortreksel van hulle toppe van silwer; en hulle self, al die pilare van die voorhof, was van silwerringe voorsien.
Exod Afr1953 38:18  En die bedekking van die poort van die voorhof was veelkleurige werk, van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne: twintig el was die lengte, en die hoogte — tewens die breedte van die stof — vyf el, net soos die behangsels van die voorhof.
Exod Afr1953 38:19  Daarby vier pilare met hulle vier voetstukke van koper en hulle kramme van silwer, en die oortreksel van hulle toppe en hulle ringe van silwer.
Exod Afr1953 38:20  En al die penne vir die tabernakel en die voorhof rondom was van koper.
Exod Afr1953 38:21  Dit is die berekening van die koste van die tabernakel, van die tabernakel van die Getuienis, soos dit bereken is op bevel van Moses, deur die diens van die Leviete, onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
Exod Afr1953 38:22  En Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, het alles gemaak wat die HERE Moses beveel het.
Exod Afr1953 38:23  En saam met hom Ohóliab, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan, 'n ambagsman en kunstenaar en kunswewer in pers en in purperrooi en in bloedrooi stowwe en in fyn linne.
Exod Afr1953 38:24  Al die goud wat vir die werk gebruik is, by al die werk van die heiligdom — die goud wat as offer aangebied was, het bedra nege en twintig talente en sewe honderd en dertig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom.
Exod Afr1953 38:25  En die silwer van die geteldes van die vergadering was honderd talente en duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom;
Exod Afr1953 38:26  'n beka vir elke persoon, dit is 'n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom, van elkeen wat oorgegaan het na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, naamlik ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig man.
Exod Afr1953 38:27  En die honderd talente silwer het gedien om die voetstukke van die heiligdom en die voetstukke van die voorhangsel te giet; honderd voetstukke vir honderd talente, 'n talent vir 'n voetstuk.
Exod Afr1953 38:28  Maar van die duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels het hy kramme vir die pilare gemaak, en hy het hulle toppe oorgetrek en hulle van ringe voorsien.
Exod Afr1953 38:29  En die koper wat as offer aangebied was, het bedra sewentig talente en twee duisend vier honderd sikkels.
Exod Afr1953 38:30  En hy het daaruit die voetstukke van die ingang van die tent van samekoms gemaak en die koperaltaar en sy kopertraliewerk en al die gereedskap van die altaar;
Exod Afr1953 38:31  en die voetstukke van die voorhof rondom en die voetstukke van die poort van die voorhof en al die penne van die tabernakel, ook al die penne van die voorhof rondom.