Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
EXODUS
Prev Up Next
Chapter 9
Exod Afr1953 9:1  Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
Exod Afr1953 9:2  Want as jy weier om hulle te laat trek en hulle nog langer vashou,
Exod Afr1953 9:3  kyk, dan sal die hand van die HERE wees teen jou vee wat in die veld is, teen die perde, teen die esels, teen die kamele, teen die beeste en teen die kleinvee met 'n baie swaar pes.
Exod Afr1953 9:4  En die HERE sal 'n onderskeid maak tussen die vee van die Israeliete en die vee van die Egiptenaars, sodat niks sal doodgaan van alles wat aan die kinders van Israel behoort nie.
Exod Afr1953 9:5  En die HERE het 'n bepaalde tyd gestel en gesê: Môre sal die HERE dit doen in die land.
Exod Afr1953 9:6  En die HERE het dit die volgende dag gedoen: al die vee van die Egiptenaars het doodgegaan. Maar van die vee van die kinders van Israel is nie een dood nie.
Exod Afr1953 9:7  Farao het toe gestuur, en kyk, van die vee van die Israeliete was daar nie een dood nie! Maar die hart van Farao was verhard, en hy het die volk nie laat trek nie.
Exod Afr1953 9:8  Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Neem julle twee hande vol roet uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitstrooi voor die oë van Farao;
Exod Afr1953 9:9  en dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland en aan mense en diere swere veroorsaak wat in blare uitbreek, in die hele Egipteland.
Exod Afr1953 9:10  So het hulle dan roet uit die oond geneem en voor Farao gaan staan, en Moses het dit na die hemel uitgestrooi. Toe word dit swere wat uitbreek in blare aan mense en diere.
Exod Afr1953 9:11  En die towenaars kon voor Moses nie staan vanweë die swere nie. Want die swere was aan die towenaars en al die Egiptenaars.
Exod Afr1953 9:12  Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy nie na hulle geluister het nie, soos die HERE aan Moses gesê het.
Exod Afr1953 9:13  Verder het die HERE aan Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
Exod Afr1953 9:14  Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur, en teen jou dienaars en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie.
Exod Afr1953 9:15  Want anders sou Ek my hand uitgestrek en jou en jou volk met die pes getref het, en jy sou van die aarde verdelg gewees het;
Exod Afr1953 9:16  maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.
Exod Afr1953 9:17  Versit jy jou nog teen my volk, dat jy hulle nie wil laat trek nie?
Exod Afr1953 9:18  Kyk, Ek sal môre omtrent sulke tyd 'n baie swaar hael laat reën soos wat in Egipte nie gewees het van die dag af dat dit gegrond is tot nou toe nie.
Exod Afr1953 9:19  Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie — op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe.
Exod Afr1953 9:20  Hy wat die HERE se woord gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy slawe en sy vee in die huise laat vlug;
Exod Afr1953 9:21  maar hy wat op die HERE se woord geen ag gegee het nie, het sy slawe en sy vee in die veld laat bly.
Exod Afr1953 9:22  Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal hael wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die veld in Egipteland.
Exod Afr1953 9:23  En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die HERE het hael op Egipteland laat reën.
Exod Afr1953 9:24  En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan 'n volk behoort het nie.
Exod Afr1953 9:25  En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere. Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek.
Exod Afr1953 9:26  Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael nie.
Exod Afr1953 9:27  Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer sonde gedoen. Die HERE is reg, maar ek en my volk het ongelyk.
Exod Afr1953 9:28  Bid tot die HERE, want daar is oorgenoeg donder van God en hael gewees; dan sal ek julle laat trek, en julle hoef nie langer te bly nie.
Exod Afr1953 9:29  Toe sê Moses vir hom: So gou as ek die stad uitgaan, sal ek my hande tot die HERE uitbrei: die donder sal ophou en die hael sal nie meer wees nie; sodat u kan weet dat die aarde aan die HERE behoort.
Exod Afr1953 9:30  Maar wat u en u dienaars betref — ek weet dat julle nog nie ontsag het vir die HERE God nie.
Exod Afr1953 9:31  En die vlas en die gars was weggeslaan, want die gars was in die aar en die vlas in die knop.
Exod Afr1953 9:32  Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, want hulle is later.
Exod Afr1953 9:33  So het Moses dan uit die stad gegaan van Farao af weg en sy hande tot die HERE uitgebrei. En die donder en hael het opgehou, en die reën het nie meer op die aarde gegiet nie.
Exod Afr1953 9:34  Toe Farao sien dat die reën en die hael en die donder ophou, het hy nog verder gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars.
Exod Afr1953 9:35  Ja, Farao se hart was verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie, soos die HERE deur die diens van Moses gespreek het.