Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
GENESIS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 37
Gene Afr1953 37:1  En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän.
Gene Afr1953 37:2  Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers — hy was nog jonk — met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.
Gene Afr1953 37:3  En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom 'n seun van die ouderdom; en hy het vir hom 'n lang rok met moue gemaak.
Gene Afr1953 37:4  Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.
Gene Afr1953 37:5  Ook het Josef 'n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.
Gene Afr1953 37:6  Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.
Gene Afr1953 37:7  Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.
Gene Afr1953 37:8  Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.
Gene Afr1953 37:9  Daarna het hy nog 'n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog 'n droom gehad — die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.
Gene Afr1953 37:10  Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?
Gene Afr1953 37:11  En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.
Gene Afr1953 37:12  En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.
Gene Afr1953 37:13  Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!
Gene Afr1953 37:14  Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.
Gene Afr1953 37:15  Daarop kry 'n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy?
Gene Afr1953 37:16  En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.
Gene Afr1953 37:17  Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.
Gene Afr1953 37:18  En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.
Gene Afr1953 37:19  En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan!
Gene Afr1953 37:20  Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: 'n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.
Gene Afr1953 37:21  Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie.
Gene Afr1953 37:22  Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie — sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.
Gene Afr1953 37:23  En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het,
Gene Afr1953 37:24  en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.
Gene Afr1953 37:25  Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens 'n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom — hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring.
Gene Afr1953 37:26  Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg?
Gene Afr1953 37:27  Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.
Gene Afr1953 37:28  En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.
Gene Afr1953 37:29  Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie! Daarop skeur hy sy klere,
Gene Afr1953 37:30  en hy gaan na sy broers terug en sê: Die seun is nie daar nie! En ek, waar moet ek heen?
Gene Afr1953 37:31  Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag 'n bok en steek die rok in die bloed,
Gene Afr1953 37:32  en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie.
Gene Afr1953 37:33  En hy het dit herken en gesê: Die rok van my seun! 'n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef!
Gene Afr1953 37:34  Toe skeur Jakob sy klere en trek 'n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank.
Gene Afr1953 37:35  En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.
Gene Afr1953 37:36  En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, 'n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.