Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
ACTS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 5
Acts Afr1953 5:1  Maar 'n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra 'n eiendom verkoop,
Acts Afr1953 5:2  en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en 'n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
Acts Afr1953 5:3  Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?
Acts Afr1953 5:4  As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.
Acts Afr1953 5:5  En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en 'n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.
Acts Afr1953 5:6  Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe.
Acts Afr1953 5:7  En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het.
Acts Afr1953 5:8  En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel.
Acts Afr1953 5:9  En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra.
Acts Afr1953 5:10  Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe.
Acts Afr1953 5:11  En 'n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.
Acts Afr1953 5:12  En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo.
Acts Afr1953 5:13  En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer.
Acts Afr1953 5:14  En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,
Acts Afr1953 5:15  sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val.
Acts Afr1953 5:16  En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.
Acts Afr1953 5:17  En die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was — dit is die party van die Sadduseërs — en hulle was met nydigheid vervul,
Acts Afr1953 5:18  en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit.
Acts Afr1953 5:19  Maar 'n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê:
Acts Afr1953 5:20  Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.
Acts Afr1953 5:21  En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer. Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal.
Acts Afr1953 5:22  Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê:
Acts Afr1953 5:23  Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie.
Acts Afr1953 5:24  En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word.
Acts Afr1953 5:25  En daar kom een en bring aan hulle berig en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk.
Acts Afr1953 5:26  Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word.
Acts Afr1953 5:27  Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê:
Acts Afr1953 5:28  Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring.
Acts Afr1953 5:29  En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.
Acts Afr1953 5:30  Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang.
Acts Afr1953 5:31  Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.
Acts Afr1953 5:32  En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.
Acts Afr1953 5:33  Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring.
Acts Afr1953 5:34  Maar 'n Fariseër met die naam van Gamáliël, 'n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels 'n bietjie buitentoe moes bring.
Acts Afr1953 5:35  Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne;
Acts Afr1953 5:36  want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n aantal mense — omtrent vier honderd — aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword.
Acts Afr1953 5:37  En ná hom het Judas, die Galileër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en 'n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi.
Acts Afr1953 5:38  En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word;
Acts Afr1953 5:39  maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie — dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.
Acts Afr1953 5:40  En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan.
Acts Afr1953 5:41  Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.
Acts Afr1953 5:42  En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.