Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
EZEKIEL
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 20
Ezek Afr1953 20:1  En in die sewende jaar, in die vyfde maand, op die tiende van die maand, het daar manne uit die oudstes van Israel gekom om die HERE te raadpleeg; en hulle het voor my gaan sit.
Ezek Afr1953 20:2  Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
Ezek Afr1953 20:3  Mensekind, spreek met die oudstes van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kom julle om My te raadpleeg? So waar as Ek leef, gewis, Ek laat my deur julle nie raadpleeg nie, spreek die Here HERE.
Ezek Afr1953 20:4  Wil jy hulle oordeel, wil jy oordeel, mensekind? Maak hulle dan die gruwels van hulle vaders bekend,
Ezek Afr1953 20:5  en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Die dag toe Ek Israel uitverkies het, het Ek my hand opgehef vir die geslag van die huis van Jakob en My aan hulle bekend gemaak in Egipteland; ja, Ek het my hand vir hulle opgehef en gesê: Ek is die HERE julle God.
Ezek Afr1953 20:6  Op dié dag het Ek my hand vir hulle opgehef, om hulle uit Egipteland uit te lei na 'n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, wat oorloop van melk en heuning — 'n sieraad is dit van al die lande.
Ezek Afr1953 20:7  En Ek het aan hulle gesê: Gooi weg, elkeen die verfoeisels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie: Ek is die HERE julle God.
Ezek Afr1953 20:8  Maar hulle was wederstrewig teen My en wou na My nie luister nie; niemand het die verfoeisels van sy oë weggegooi of die drekgode van Egipte laat staan nie. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in Egipteland.
Ezek Afr1953 20:9  Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle gewees het nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Egipteland uit te lei.
Ezek Afr1953 20:10  En Ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die woestyn gebring.
Ezek Afr1953 20:11  En Ek het hulle my insettinge gegee en my verordeninge aan hulle bekend gemaak, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe.
Ezek Afr1953 20:12  Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om 'n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat hulle heilig.
Ezek Afr1953 20:13  Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie en my verordeninge verwerp, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.
Ezek Afr1953 20:14  Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.
Ezek Afr1953 20:15  So het Ek dan ook my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek aan hulle gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning — 'n sieraad is dit van al die lande;
Ezek Afr1953 20:16  omdat hulle my verordeninge verwerp het en in my insettinge nie gewandel het nie en my sabbatte ontheilig het; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop.
Ezek Afr1953 20:17  Maar my oog het hulle verskoon, sodat Ek hulle nie verdelg het nie en geen einde aan hulle gemaak het in die woestyn nie.
Ezek Afr1953 20:18  Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie en onderhou nie hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie.
Ezek Afr1953 20:19  Ek is die HERE julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit.
Ezek Afr1953 20:20  En heilig my sabbatte; en hulle sal 'n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is.
Ezek Afr1953 20:21  Maar die kinders was wederstrewig teen My: hulle het nie gewandel in my insettinge en my verordeninge nie onderhou om dit te doen nie — wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; hulle het my sabbatte ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn te laat uitwoed teen hulle in die woestyn.
Ezek Afr1953 20:22  Maar Ek het my hand teruggetrek en gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.
Ezek Afr1953 20:23  Tog het Ék my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle sal versprei onder die nasies en hulle sal verstrooi in die lande;
Ezek Afr1953 20:24  omdat hulle my verordeninge nie gehou het nie, maar my insettinge verwerp het en my sabbatte ontheilig het en hulle oë agter die drekgode van hulle vaders aan was.
Ezek Afr1953 20:25  So het Ék dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie.
Ezek Afr1953 20:26  En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die HERE is.
Ezek Afr1953 20:27  Daarom, mensekind, spreek met die huis van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Verder het julle vaders My in hierdie saak smaadheid aangedoen, dat hulle troubreuk teen My begaan het:
Ezek Afr1953 20:28  toe Ek hulle in die land gebring het waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee, het hulle uitgekyk na al die hoë heuwels en al die digte bome, en hulle het daar hul offers geslag en daar hul aanstootlike offergawe gegee en daar hul lieflike offergeur gebring en daar hul drankoffers uitgegiet.
Ezek Afr1953 20:29  Toe het Ek aan hulle gesê: Wat is dit vir 'n hoogte waarheen julle gaan? En hulle het dit Hoogte genoem tot vandag toe.
Ezek Afr1953 20:30  Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Wat? Julle is verontreinig in die weg van julle vaders, en julle hoereer agter hulle verfoeisels aan;
Ezek Afr1953 20:31  ja, deur die aanbieding van julle offergawes, deur julle seuns deur die vuur te laat gaan, is julle verontreinig met al jul drekgode tot vandag toe — en sou Ek My deur julle laat raadpleeg, o huis van Israel? So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek laat My deur julle nie raadpleeg nie!
Ezek Afr1953 20:32  En wat in julle gees opgeklim het, sal sekerlik nie gebeur nie — dat julle sê: Ons wil soos die nasies, soos die geslagte van die lande wees, deur hout en klip te dien.
Ezek Afr1953 20:33  So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal gewis met 'n sterke hand en met 'n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid oor julle regeer.
Ezek Afr1953 20:34  En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur 'n sterke hand en deur 'n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid.
Ezek Afr1953 20:35  En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig.
Ezek Afr1953 20:36  Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE.
Ezek Afr1953 20:37  En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond.
Ezek Afr1953 20:38  En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
Ezek Afr1953 20:39  Maar julle, o huis van Israel, so sê die Here HERE: Gaan weg en dien elkeen sy drekgode; maar hierná — sekerlik sal julle na My luister en my heilige Naam nie meer ontheilig met julle offergawes en julle drekgode nie.
Ezek Afr1953 20:40  Want op my heilige berg, op die verhewe berg van Israel, spreek die Here HERE, daar sal die hele huis van Israel, hulle almal, My dien in die land; daar sal Ek 'n behae in hulle hê en daar sal Ek julle offergawes eis en die eerstelinge van julle aanbiedinge by al julle heilige gawes.
Ezek Afr1953 20:41  As 'n lieflike geur sal Ek 'n behae in julle hê wanneer Ek julle uit die volke uitlei en julle uit die lande versamel waarin julle verstrooi was, en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies.
Ezek Afr1953 20:42  En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle in die land van Israel bring, in die land waar Ek my hand oor opgehef het om dit aan julle vaders te gee.
Ezek Afr1953 20:43  Daar sal julle dan dink aan julle weë en al julle handelinge waarmee julle jul verontreinig het, en julle sal vir julself walglik wees vanweë al jul slegte dinge wat julle gedoen het.
Ezek Afr1953 20:44  En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek met julle handel ter wille van my Naam en nie volgens julle verkeerde weë of julle verdorwe handelinge nie, o huis van Israel, spreek die Here HERE.
Ezek Afr1953 20:45  Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
Ezek Afr1953 20:46  Mensekind, rig jou aangesig na die suide en laat jou rede druppel teen die suide en profeteer teen die bosveld, die Suidland,
Ezek Afr1953 20:47  en sê aan die bos van die Suidland: Hoor die woord van die HERE: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek steek 'n vuur in jou aan wat in jou elke groen boom en elke droë boom sal verteer; die uitslaande vlam sal nie uitgeblus word nie, maar daardeur sal alle aangesigte verbrand word van die Suidland af tot die noorde toe;
Ezek Afr1953 20:48  en alle vlees sal sien dat Ek, die HERE, dit aangesteek het; dit sal nie uitgeblus word nie.
Ezek Afr1953 20:49  Toe sê ek: Ag, Here HERE, hulle sê vir my: Spreek hy nie altyd in gelykenisse nie?