Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
LUKE
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 8
Luke Afr1953 8:1  En daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom,
Luke Afr1953 8:2  ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het,
Luke Afr1953 8:3  en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het.
Luke Afr1953 8:4  En toe daar 'n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur 'n gelykenis:
Luke Afr1953 8:5  'n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val 'n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.
Luke Afr1953 8:6  En 'n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.
Luke Afr1953 8:7  En 'n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.
Luke Afr1953 8:8  En 'n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!
Luke Afr1953 8:9  En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?
Luke Afr1953 8:10  En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.
Luke Afr1953 8:11  Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.
Luke Afr1953 8:12  Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.
Luke Afr1953 8:13  En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir 'n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.
Luke Afr1953 8:14  En wat in die dorings geval het — dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.
Luke Afr1953 8:15  En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in 'n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.
Luke Afr1953 8:16  En niemand steek 'n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder 'n bed nie; maar hy sit dit op 'n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.
Luke Afr1953 8:17  Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.
Luke Afr1953 8:18  Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.
Luke Afr1953 8:19  En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie.
Luke Afr1953 8:20  Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien.
Luke Afr1953 8:21  Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.
Luke Afr1953 8:22  En op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in 'n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar
Luke Afr1953 8:23  En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar 'n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar.
Luke Afr1953 8:24  En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het 'n stilte gekom.
Luke Afr1953 8:25  En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!
Luke Afr1953 8:26  En hulle het geseil na die land van die Gadaréners, wat reg anderkant Galiléa is.
Luke Afr1953 8:27  En toe Hy aan wal uitklim, kom 'n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir 'n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in 'n huis gewoon nie, maar in die grafte.
Luke Afr1953 8:28  En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met 'n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie —
Luke Afr1953 8:29  want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die duiwel het hom in die woestyne gedrywe.
Luke Afr1953 8:30  Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio — want baie duiwels het in hom ingevaar.
Luke Afr1953 8:31  En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie.
Luke Afr1953 8:32  En daar het 'n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy hulle sou toelaat om in dié varke in te vaar. En Hy het hulle toegelaat.
Luke Afr1953 8:33  Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink.
Luke Afr1953 8:34  En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel.
Luke Afr1953 8:35  Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees.
Luke Afr1953 8:36  En die wat ooggetuies was, het ook aan hulle vertel hoe die besetene genees is.
Luke Afr1953 8:37  En die hele menigte van die omtrek van die Gadaréners het Hom gevra om van hulle weg te gaan, omdat hulle deur 'n groot vrees bevang was. Toe het Hy in die skuit geklim en teruggegaan.
Luke Afr1953 8:38  En die man uit wie die duiwels uitgevaar het, het Hom gebid om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom laat gaan en gesê:
Luke Afr1953 8:39  Gaan terug na jou huis en vertel watter groot dinge God aan jou gedoen het. En hy het gegaan en deur die hele stad verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het.
Luke Afr1953 8:40  En toe Jesus terugkom, het die skare Hom verwelkom; want almal was Hom te wagte.
Luke Afr1953 8:41  En daar kom 'n man wie se naam Jaïrus was, en hy was 'n owerste van die sinagoge; en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te kom;
Luke Afr1953 8:42  want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê. En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring.
Luke Afr1953 8:43  En 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie,
Luke Afr1953 8:44  het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.
Luke Afr1953 8:45  Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het?
Luke Afr1953 8:46  Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het.
Luke Afr1953 8:47  En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.
Luke Afr1953 8:48  En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.
Luke Afr1953 8:49  Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie.
Luke Afr1953 8:50  Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.
Luke Afr1953 8:51  En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie.
Luke Afr1953 8:52  En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap.
Luke Afr1953 8:53  En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was.
Luke Afr1953 8:54  En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê: Dogtertjie, staan op!
Luke Afr1953 8:55  En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee.
Luke Afr1953 8:56  En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te sê wat gebeur het nie.