Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOB
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 17
Job Afr1953 17:1  My gees is verward, my dae is uitgeblus, die graf wag op my.
Job Afr1953 17:2  Waarlik, bespottinge is my deel, en op hulle getwis moet my oog rus.
Job Afr1953 17:3  Gee tog 'n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap verleen?
Job Afr1953 17:4  Want U het húlle hart gesluit vir verstand; daarom sal U hulle nie laat triomfeer nie.
Job Afr1953 17:5  Hy wat vriende aanklaag vir 'n buitaandeel — die oë van sy kinders sal versmag.
Job Afr1953 17:6  Maar Hy het my 'n spreekwoord vir die mense gemaak, en ek moet iemand wees wat hulle in die gesig spuug.
Job Afr1953 17:7  Daarom het my oog dof geword van verdriet, en al my lede is soos 'n skaduwee.
Job Afr1953 17:8  Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die goddelose in opstand.
Job Afr1953 17:9  Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag.
Job Afr1953 17:10  Maar, kom maar altyd weer aan, julle almal! 'n Wyse vind ek onder julle tog nie.
Job Afr1953 17:11  My dae is verby, my planne tot niet, die wense van my hart.
Job Afr1953 17:12  Van die nag maak hulle 'n dag; lig, sê hulle, is naby vanweë die duisternis.
Job Afr1953 17:13  As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei,
Job Afr1953 17:14  die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster,
Job Afr1953 17:15  waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit?
Job Afr1953 17:16  Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.