Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOB
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 30
Job Afr1953 30:1  En nou lag hulle wat jonger is as ek, my uit — mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit.
Job Afr1953 30:2  Wat sou die krag van hulle hande my ook baat? Die frisse lewenskrag het by hulle verlore gegaan.
Job Afr1953 30:3  Hulle is uitgeput deur gebrek en honger, hulle wat die dor land afknaag in die donkerheid van woestheid en verwoesting;
Job Afr1953 30:4  hulle wat die soutkruid afpluk by die bossies, en die besemboswortel is hulle brood.
Job Afr1953 30:5  Uit die samelewing word hulle weggejaag; die mense skreeu oor hulle soos oor 'n dief.
Job Afr1953 30:6  In die afgryslike klowe moet hulle woon, in gate in die grond en in rotse.
Job Afr1953 30:7  Tussen die bossies skreeu hulle, onder brandnekels kruip hulle bymekaar —
Job Afr1953 30:8  dwase, ja, eerlose mense wat met 'n sweep uit die land geslaan word.
Job Afr1953 30:9  En nou het ek hulle spotlied geword en die onderwerp van hulle gepraat.
Job Afr1953 30:10  Hulle het 'n afsku van my, staan op 'n afstand van my af en ontsien nie om my in die gesig te spuug nie.
Job Afr1953 30:11  Want Hy het my boogsnaar losgemaak en my verneder; so het hulle dan teenoor my die teuel laat skiet.
Job Afr1953 30:12  Aan die regterhand staan die gespuis op; hulle stoot my voete weg en gooi hul onheilspaaie teen my op.
Job Afr1953 30:13  My pad verniel hulle, hulle help om my te laat val sonder dat hulle self 'n helper het.
Job Afr1953 30:14  Soos deur 'n wye bres kom hulle; te midde van die puinhope kom hulle aanrol.
Job Afr1953 30:15  Verskrikkinge is teen my gerig; hulle vervolg my hoogheid soos die wind, en soos 'n wolk het my geluk verbygegaan.
Job Afr1953 30:16  Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.
Job Afr1953 30:17  Die nag deurboor my gebeente, en dit val van my af; en my knaende pyne rus nooit nie.
Job Afr1953 30:18  Deur goddelike oormag is my kleed ontredder; soos die kraag van my lyfrok omspan dit my.
Job Afr1953 30:19  Hy het my in die modder gewerp, en ek het soos stof en as geword.
Job Afr1953 30:20  Ek roep U aan om hulp, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U staar my aan.
Job Afr1953 30:21  U is jeens my verander in 'n onbarmhartige; deur die sterkte van u hand behandel U my as vyand.
Job Afr1953 30:22  U hef my op die wind, laat my daarop ry; en U laat my vergaan in stormgedruis.
Job Afr1953 30:23  Want ek weet: U wil my na die dood toe bring en na die huis waar al wat lewe, saamkom.
Job Afr1953 30:24  Maar sal iemand by die ineenstorting nie nog die hand uitsteek of by sy ondergang om dié rede om hulp roep nie?
Job Afr1953 30:25  Of het ek nie geween oor hom wat harde dae het nie? Was my siel nie bekommerd oor die behoeftige nie?
Job Afr1953 30:26  Want ek het op die goeie gehoop, en onheil het gekom; en ek het gewag op lig, en donkerheid het gekom.
Job Afr1953 30:27  My ingewande kook sonder ophou; dae van ellende het my teëgekom.
Job Afr1953 30:28  Ek gaan daarheen in die rou, sonder son; ek staan op in die vergadering, ek roep om hulp.
Job Afr1953 30:29  Ek het 'n broer geword vir die jakkalse en 'n vriend vir die volstruise.
Job Afr1953 30:30  My vel het swart geword en val van my af, en my gebeente gloei van hitte.
Job Afr1953 30:31  So het dan my siter 'n rouklag geword en my fluit 'n stem van die wat ween.