Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOB
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 4
Job Afr1953 4:2  As 'n mens dit met 'n woord by jou waag, sal jy ontstemd wees? Maar woorde inhou — wie kan dit?
Job Afr1953 4:3  Kyk, jy het baie mense tereggewys en slap hande versterk.
Job Afr1953 4:4  Jou woorde het opgerig die wat struikel, en jy het knikkende knieë versterk.
Job Afr1953 4:5  Maar nou dat dit jóu oorkom, is jy moedverlore; nou dat dit jóu tref, is jy verslae!
Job Afr1953 4:6  Is jou Godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie?
Job Afr1953 4:7  Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg?
Job Afr1953 4:8  Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.
Job Afr1953 4:9  Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig.
Job Afr1953 4:10  Die gebrul van die leeu en die stem van die bruller — ja, die tande van die jong leeus word uitgebreek.
Job Afr1953 4:11  Die leeu kom om by gebrek aan prooi, en die kleintjies van die leeuin word verstrooi.
Job Afr1953 4:12  Verder is 'n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het 'n gefluister daarvan opgevang,
Job Afr1953 4:13  by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val.
Job Afr1953 4:14  Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe.
Job Afr1953 4:15  Toe skuif daar 'n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys.
Job Afr1953 4:16  Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie — 'n verskyning voor my oë! Ek hoor die gefluister van 'n stem wat sê:
Job Afr1953 4:17  Sou 'n sterfling regverdig wees voor God? Of 'n man rein wees voor sy Maker?
Job Afr1953 4:18  Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling.
Job Afr1953 4:19  Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos 'n mot.
Job Afr1953 4:20  Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee.
Job Afr1953 4:21  Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid.