Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOB
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 10
Job Afr1953 10:1  Ek walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel.
Job Afr1953 10:2  Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis.
Job Afr1953 10:3  Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp, terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn?
Job Afr1953 10:4  Het U vleeslike oë? Of sien U soos 'n mens sien?
Job Afr1953 10:5  Is u dae soos die dae van 'n mens, of u jare soos die dae van 'n man?
Job Afr1953 10:6  dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde,
Job Afr1953 10:7  ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
Job Afr1953 10:8  U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en U vernietig my!
Job Afr1953 10:9  Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?
Job Afr1953 10:10  Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie?
Job Afr1953 10:11  Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg.
Job Afr1953 10:12  Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak.
Job Afr1953 10:13  Maar daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was:
Job Afr1953 10:14  As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
Job Afr1953 10:15  Was ek skuldig — wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
Job Afr1953 10:16  En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos 'n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
Job Afr1953 10:17  U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder — altyd nuwe leërafdelings teen my!
Job Afr1953 10:18  Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat 'n oog my gesien het.
Job Afr1953 10:19  Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
Job Afr1953 10:20  Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek 'n bietjie vrolik kan wees,
Job Afr1953 10:21  voordat ek heengaan — en nie terugkom nie — na die land van duisternis en doodskaduwee,
Job Afr1953 10:22  'n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee 'n skynsel — soos middernag!