Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOB
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 7
Job Afr1953 7:1  Het die mens nie 'n stryd op die aarde nie? En is sy dae nie soos die dae van 'n dagloner nie?
Job Afr1953 7:2  Soos 'n slaaf wat hyg na die skaduwee, en soos 'n dagloner wat wag op sy werkloon,
Job Afr1953 7:3  so het ek erfgenaam geword van maande van teleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem.
Job Afr1953 7:4  As ek gaan lê, dink ek: Wanneer sal ek opstaan? Maar die aand is lank, en ek word sat van al die omdraai tot die môreskemering toe.
Job Afr1953 7:5  My vlees is bekleed met wurms en stofklonte; my vel trek opmekaar en etter dan weer.
Job Afr1953 7:6  My dae is vinniger as 'n wewerspoel en verdwyn sonder verwagting.
Job Afr1953 7:7  Bedink tog dat my lewe wind is; my oog sal die voorspoed nie weer sien nie.
Job Afr1953 7:8  Die oog van hom wat my sien, sal my nie meer aanskou nie. U oë is op my — en ek is daar nie!
Job Afr1953 7:9  Die wolk verdwyn en gaan heen — so kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie.
Job Afr1953 7:10  Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie.
Job Afr1953 7:11  So wil dan ook ék my mond nie hou nie, ek wil spreek in die benoudheid van my gees, ek wil klae in die bitterheid van my siel.
Job Afr1953 7:12  Is ek 'n see, of 'n groot seedier, dat U 'n wag teen my opstel?
Job Afr1953 7:13  As ek sê: My bed sal my troos, my slaapplek sal my klagte help dra,
Job Afr1953 7:14  dan verskrik U my deur drome en ontstel my deur gesigte,
Job Afr1953 7:15  sodat ek die verwurging verkies, die dood meer as hierdie geraamte van my.
Job Afr1953 7:16  Ek verfoei my lewe. Nie vir altyd sal ek lewe nie: laat my met rus, want my dae is nietigheid.
Job Afr1953 7:17  Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag gee?
Job Afr1953 7:18  En dat U hom elke môre soek, elke oomblik hom op die proef stel?
Job Afr1953 7:19  Hoe lank sal U nie van my af wegkyk nie, my nie laat staan nie, totdat ek my speeksel insluk?
Job Afr1953 7:20  As ek gesondig het, wat doen ek U aan, o Mensebewaker? Waarom het U my as mikpunt vir U opgestel, sodat ek myself tot 'n las is?
Job Afr1953 7:21  En waarom vergeef U nie my oortreding en neem my ongeregtigheid nie weg nie? Want weldra sal ek in die stof lê; dan sal U my soek, maar ek sal daar nie wees nie.