Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOB
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 20
Job Afr1953 20:1  Toe het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê:
Job Afr1953 20:2  Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my.
Job Afr1953 20:3  'n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my.
Job Afr1953 20:4  Weet jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is:
Job Afr1953 20:5  dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir 'n oomblik?
Job Afr1953 20:6  Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke —
Job Afr1953 20:7  soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy?
Job Afr1953 20:8  Soos 'n droom vlieg hy weg, sodat 'n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos 'n naggesig.
Job Afr1953 20:9  Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie.
Job Afr1953 20:10  Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee.
Job Afr1953 20:11  Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof.
Job Afr1953 20:12  Al smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong,
Job Afr1953 20:13  al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte —
Job Afr1953 20:14  tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste.
Job Afr1953 20:15  Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg.
Job Afr1953 20:16  Die gif van adders suig hy in, die tong van 'n slang maak hom dood.
Job Afr1953 20:17  Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie.
Job Afr1953 20:18  Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie.
Job Afr1953 20:19  Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; 'n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie.
Job Afr1953 20:20  Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie.
Job Afr1953 20:21  Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie.
Job Afr1953 20:22  By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom.
Job Afr1953 20:23  Om sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel.
Job Afr1953 20:24  Hy sal vlug vir die ysterwapens — 'n koperboog sal hom deurboor.
Job Afr1953 20:25  Hy trek — daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom!
Job Afr1953 20:26  Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; 'n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly.
Job Afr1953 20:27  Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op.
Job Afr1953 20:28  Weggevoer word die opbrings van sy huis — goed wat wegspoel op die dag van sy toorn.
Job Afr1953 20:29  Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God.