Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
EZEKIEL
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 23
Ezek Afr1953 23:1  Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
Ezek Afr1953 23:2  Mensekind, daar was twee vroue, dogters van een moeder.
Ezek Afr1953 23:3  En hulle het in Egipte gehoereer; in hul jeug het hulle gehoereer; daar is hul borste betas, en daar is hul maagdelike boesem gedruk.
Ezek Afr1953 23:4  En hulle name was: Ohóla, die grootste, en Ohóliba, haar suster; en hulle het myne geword en seuns en dogters gebaar. En wat hulle name betref: Samaría is Ohóla en Jerusalem Ohóliba.
Ezek Afr1953 23:5  En Ohóla het gehoereer terwyl sy my vrou was, en het gesmag na haar minnaars, na die Assiriërs, krygshaftige mense
Ezek Afr1953 23:6  wat pers aangetrek was, goewerneurs en owerstes, almal begeerlike jongmanne, ruiters te perd.
Ezek Afr1953 23:7  En sy het haar hoererye aan hulle weggegee, hulle almal, die beste uit die kinders van Assur; en met almal na wie sy gesmag het — met al hulle drekgode het sy haar verontreinig.
Ezek Afr1953 23:8  So het sy dan haar hoererye, uit Egipte afkomstig, nie laat staan nie; want hulle het in haar jeug met haar gemeenskap gehad en hulle het haar maagdelike boesem gedruk en hul hoerery oor haar uitgestort.
Ezek Afr1953 23:9  Daarom het Ek haar oorgegee in die hand van haar minnaars, in die hand van die kinders van Assur na wie sy gesmag het.
Ezek Afr1953 23:10  Hulle het haar skaamte ontbloot, haar seuns en haar dogters weggeneem; maar haar het hulle met die swaard gedood, sodat sy 'n waarskuwende voorbeeld onder die vroue geword het, en hulle het strafgerigte aan haar voltrek.
Ezek Afr1953 23:11  Alhoewel haar suster Ohóliba dit gesien het, het sy dit tog met haar verliefdheid erger gemaak as sy, en met haar hoererye nog erger as haar suster.
Ezek Afr1953 23:12  Sy het gesmag na die seuns van Assur, goewerneurs en owerstes, krygshaftige mense, pragtig aangetrek, ruiters te perd, almal begeerlike jongmanne.
Ezek Afr1953 23:13  Toe het Ek gesien dat sy verontreinig was: altwee het dieselfde weg bewandel.
Ezek Afr1953 23:14  Ja, sy het nog meer gehoereer; toe sy manne sien wat op die muur afgeteken was, afbeeldinge van die Chaldeërs, geteken met rooiminie;
Ezek Afr1953 23:15  omgord met 'n gordel aan hulle heupe, met oorhangende tulbande op hulle hoofde, in hulle voorkoms almal offisiere, in die gestalte van die seuns van Babel wie se geboorteland Chaldéa is —
Ezek Afr1953 23:16  net toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag en boodskappers na hulle gestuur, na Chaldéa toe.
Ezek Afr1953 23:17  Daarop kom die kinders van Babel by haar, na die bed van liefde, en verontreinig haar met hulle hoerery, en sy het onrein geword deur hulle; daarna het haar siel van hulle vervreemd geraak.
Ezek Afr1953 23:18  En toe sy haar hoererye geopenbaar en haar skaamte ontbloot het, het my siel van haar vervreemd geraak, soos my siel vervreemd geraak het van haar suster.
Ezek Afr1953 23:19  Ja, sy het haar hoererye baie gemaak deur te dink aan die dae van haar jeug toe sy 'n hoer was in Egipteland.
Ezek Afr1953 23:20  En sy het gesmag na hulle wellustelinge, wat sinlik soos esels en onstuimig van drif was soos perde.
Ezek Afr1953 23:21  En jy het na die skandelike daad van jou jeug verlang, toe dié van Egipte jou boesem gedruk het om jou jeugdige borste ontwil.
Ezek Afr1953 23:22  Daarom, o Ohóliba, so sê die Here HERE: Kyk, Ek verwek jou minnaars, van wie jou siel vervreemd geraak het, teen jou, en Ek sal hulle van alle kante teen jou aanbring:
Ezek Afr1953 23:23  die kinders van Babel en al die Chaldeërs, Pekod en Soa en Koa, al die kinders van Assur saam met hulle, begeerlike jongmanne wat almal goewerneurs en owerstes is, offisiere en aansienlike mense wat almal te perd ry.
Ezek Afr1953 23:24  En hulle sal teen jou kom met 'n hoop strydwaens en wiele en met 'n menigte van volke; groot skild en klein skild en helm sal hulle rondom teen jou rig; en Ek sal die strafgerig aan hulle oorgee, en hulle sal jou vonnis volgens hulle reg.
Ezek Afr1953 23:25  En Ek sal my ywer teen jou rig, dat hulle in grimmigheid met jou handel: hulle sal jou neus en jou ore afsny, en die wat van jou oorbly, sal deur die swaard val; hulle sal jou seuns en jou dogters wegneem, en wat van jou oorbly, sal deur vuur verteer word.
Ezek Afr1953 23:26  Hulle sal jou ook jou klere uittrek en jou versiersels wegneem.
Ezek Afr1953 23:27  So sal Ek dan by jou 'n einde maak aan jou skandelike dade en jou hoerery, uit Egipteland afkomstig; en jy sal jou oë nie na hulle opslaan en aan Egipte nie meer dink nie.
Ezek Afr1953 23:28  Want so sê die Here HERE: Kyk, Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat, in die hand van hulle van wie jou siel vervreemd geraak het.
Ezek Afr1953 23:29  En hulle sal jou as vyand behandel en al jou goed wegneem en jou naak en bloot laat staan, sodat jou ontugtige skaamte ontbloot kan word. Ja, jou skandelike dade en jou hoererye
Ezek Afr1953 23:30  het jou dit aangedoen deurdat jy agter nasies aan gehoereer het en omdat jy met hulle drekgode verontreinig is.
Ezek Afr1953 23:31  In die weg van jou suster het jy gewandel; daarom sal Ek haar beker in jou hand gee.
Ezek Afr1953 23:32  So sê die Here HERE: Jy sal die beker van jou suster drink wat diep en wyd is — jy sal tot 'n belagging en 'n spot word — die beker wat so baie bevat.
Ezek Afr1953 23:33  Van dronkenskap en kommer sal jy vol word; die beker van jou suster Samaría is 'n beker van huiwering en ontsetting.
Ezek Afr1953 23:34  En jy sal dit drink en uitsuig en aan sy skerwe knaag en jou borste oopskeur; want Ek het dit gespreek, spreek die Here HERE.
Ezek Afr1953 23:35  Daarom, so sê die Here HERE: Omdat jy My vergeet het en My agter jou rug gewerp het, so dra jy dan ook nou jou skandelike dade en jou hoererye.
Ezek Afr1953 23:36  En die HERE het vir my gesê: Mensekind, wil jy Ohóla en Ohóliba oordeel? Maak hulle dan hul gruwels bekend.
Ezek Afr1953 23:37  Want hulle het owerspel begaan, en daar is bloed aan hulle hande: met hul drekgode het hulle owerspel begaan en ook hul seuns wat hulle vir My gebaar het, as spys vir hulle deur die vuur laat deurgaan.
Ezek Afr1953 23:38  Verder het hulle My dít aangedoen: hulle het my heiligdom op dieselfde dag verontreinig en my sabbatte ontheilig —
Ezek Afr1953 23:39  as hulle hul kinders vir hulle drekgode slag, kom hulle op dieselfde dag na my heiligdom om dit te ontheilig; en kyk, so het hulle gedoen binne-in my huis.
Ezek Afr1953 23:40  Ja, hulle het selfs na manne gestuur wat van ver gekom het — aan wie 'n boodskapper gestuur is, en kyk, hulle het gekom! — vir wie jy jou gewas, jou oë geverf en sierade aangesit het.
Ezek Afr1953 23:41  En jy het gesit op 'n pragtige bed waarvoor 'n tafel reggemaak is en waar jy my reukwerk en my olie op neergesit het;
Ezek Afr1953 23:42  en daarbinne was die stem van 'n sorgelose menigte. En by manne uit die menigte van mense is daar wynsuipers aangebring uit die woestyn; dié het armbande aan hulle hande gesit en 'n pragtige kroon op hulle hoofde.
Ezek Afr1953 23:43  Toe sê Ek: Bedryf die verwelkte nog owerspel? Nou sal haar hoererye self hoerery gaan bedrywe.
Ezek Afr1953 23:44  En hulle het by haar ingegaan soos 'n mens ingaan by 'n hoer; só het hulle ingegaan by Ohóla en Ohóliba, die ontugtige vroue.
Ezek Afr1953 23:45  En regverdige manne, dié sal hulle vonnis volgens die reg van owerspeelsters en volgens die reg van vroue wat bloed vergiet; want hulle is owerspeelsters, en bloed is aan hulle hande.
Ezek Afr1953 23:46  Want so sê die Here HERE: Laat hulle teen hulle 'n vergadering oproep en hulle tot 'n skrikbeeld maak en 'n plundering.
Ezek Afr1953 23:47  En die vergadering moet hulle stenig en hulle met hul swaarde stukkend kap; hulle seuns en dogters moet hulle doodmaak en hulle huise met vuur verbrand.
Ezek Afr1953 23:48  So sal Ek dan die skandelike dade uit die land laat ophou, dat al die vroue hulle kan laat waarsku om geen skandelikheid te begaan soos julle nie.
Ezek Afr1953 23:49  En hulle sal julle skandelike dade op julle laat neerkom, en julle sal die sondes van julle drekgode dra; en julle sal weet dat Ek die Here HERE is.