Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PROVERBS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 5
Prov Afr1953 5:1  My seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig,
Prov Afr1953 5:2  dat jy volle oorleg kan behou en jou lippe kennis kan bewaar;
Prov Afr1953 5:3  want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie,
Prov Afr1953 5:4  maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos 'n swaard aan weerskante skerp.
Prov Afr1953 5:5  Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe.
Prov Afr1953 5:6  Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet.
Prov Afr1953 5:7  Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie.
Prov Afr1953 5:8  Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie,
Prov Afr1953 5:9  sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie;
Prov Afr1953 5:10  sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van 'n uitlander kom nie
Prov Afr1953 5:11  en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is,
Prov Afr1953 5:12  en moet sê: Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad,
Prov Afr1953 5:13  en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie!
Prov Afr1953 5:14  Amper was ek heeltemal in die ongeluk, in die vergadering en die gemeente.
Prov Afr1953 5:15  Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put.
Prov Afr1953 5:16  Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine?
Prov Afr1953 5:17  Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie.
Prov Afr1953 5:18  Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug —
Prov Afr1953 5:19  die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.
Prov Afr1953 5:20  Maar waarom sou jy, my seun, by 'n vreemde bedwelmd raak en die boesem van 'n ontugtige omhels?
Prov Afr1953 5:21  Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange.
Prov Afr1953 5:22  Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou.
Prov Afr1953 5:23  Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.