Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PROVERBS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 6
Prov Afr1953 6:1  My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir 'n vreemde jou handslag gegee het,
Prov Afr1953 6:2  verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond,
Prov Afr1953 6:3  doen dan dit, my seun, om jouself te red — want jy het in die hand van jou naaste geraak — gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste,
Prov Afr1953 6:4  gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie;
Prov Afr1953 6:5  red jou soos 'n gemsbok uit die hand, en soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger.
Prov Afr1953 6:6  Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!
Prov Afr1953 6:7  Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie,
Prov Afr1953 6:8  maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.
Prov Afr1953 6:9  Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?
Prov Afr1953 6:10  Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus!
Prov Afr1953 6:11  So kom dan jou armoede soos 'n rondloper en jou gebrek soos 'n gewapende man.
Prov Afr1953 6:12  'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop,
Prov Afr1953 6:13  wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee;
Prov Afr1953 6:14  in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.
Prov Afr1953 6:15  Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is.
Prov Afr1953 6:16  Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:
Prov Afr1953 6:17  trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
Prov Afr1953 6:18  'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
Prov Afr1953 6:19  een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.
Prov Afr1953 6:20  Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
Prov Afr1953 6:21  bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;
Prov Afr1953 6:22  mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.
Prov Afr1953 6:23  Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe,
Prov Afr1953 6:24  om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong.
Prov Afr1953 6:25  Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie;
Prov Afr1953 6:26  want vir 'n hoer verval 'n mens tot 'n stuk brood, en 'n ander se vrou maak jag op 'n kosbare lewe.
Prov Afr1953 6:27  Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?
Prov Afr1953 6:28  Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?
Prov Afr1953 6:29  So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie.
Prov Afr1953 6:30  'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het;
Prov Afr1953 6:31  en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.
Prov Afr1953 6:32  Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets;
Prov Afr1953 6:33  slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie;
Prov Afr1953 6:34  want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;
Prov Afr1953 6:35  hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.