Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PROVERBS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 3
Prov Afr1953 3:1  My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar;
Prov Afr1953 3:2  want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.
Prov Afr1953 3:3  Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart,
Prov Afr1953 3:4  dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van God en die mense.
Prov Afr1953 3:5  Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.
Prov Afr1953 3:6  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.
Prov Afr1953 3:7  Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;
Prov Afr1953 3:8  dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.
Prov Afr1953 3:9  Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste;
Prov Afr1953 3:10  dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.
Prov Afr1953 3:11  My seun, verag die tug van die HERE nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie,
Prov Afr1953 3:12  want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos 'n vader die seun in wie hy behae het.
Prov Afr1953 3:13  Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry;
Prov Afr1953 3:14  want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud;
Prov Afr1953 3:15  dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.
Prov Afr1953 3:16  In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer;
Prov Afr1953 3:17  sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede.
Prov Afr1953 3:18  Dit is 'n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.
Prov Afr1953 3:19  Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel;
Prov Afr1953 3:20  deur sy kennis het die watervloede oopgebreek en het die wolke dou gedrup.
Prov Afr1953 3:21  My seun, laat dit nie uit jou oë wyk nie, bewaar beleid en oorleg,
Prov Afr1953 3:22  dan sal dit die lewe wees vir jou siel en 'n versiersel vir jou hals;
Prov Afr1953 3:23  dan sal jy veilig jou weg bewandel en jou voet nie stamp nie;
Prov Afr1953 3:24  as jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees.
Prov Afr1953 3:25  Jy hoef nie bang te wees vir 'n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie;
Prov Afr1953 3:26  want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik.
Prov Afr1953 3:27  Hou 'n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie.
Prov Afr1953 3:28  Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee — terwyl jy dit het.
Prov Afr1953 3:29  Bewerk geen onheil teen jou naaste terwyl hy vol vertroue by jou woon nie.
Prov Afr1953 3:30  Twis nie sonder oorsaak met 'n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie.
Prov Afr1953 3:31  Wees nie afgunstig op 'n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie.
Prov Afr1953 3:32  Want die verkeerde is vir die HERE 'n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes.
Prov Afr1953 3:33  Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges.
Prov Afr1953 3:34  As dit spotters betref, spot Hy, maar aan die ootmoediges gee Hy genade.
Prov Afr1953 3:35  Die wyse sal eer beërwe, maar die dwase behaal skande.