Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PROVERBS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 1
Prov Afr1953 1:1  Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel,
Prov Afr1953 1:2  om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan,
Prov Afr1953 1:3  om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid;
Prov Afr1953 1:4  om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg;
Prov Afr1953 1:5  laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry,
Prov Afr1953 1:6  om 'n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels.
Prov Afr1953 1:7  Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.
Prov Afr1953 1:8  My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
Prov Afr1953 1:9  want dit is 'n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.
Prov Afr1953 1:10  My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie;
Prov Afr1953 1:11  as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak,
Prov Afr1953 1:12  laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal;
Prov Afr1953 1:13  allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit;
Prov Afr1953 1:14  jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê —
Prov Afr1953 1:15  my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad;
Prov Afr1953 1:16  want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet;
Prov Afr1953 1:17  want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls:
Prov Afr1953 1:18  so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor.
Prov Afr1953 1:19  So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe.
Prov Afr1953 1:20  Die Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine,
Prov Afr1953 1:21  op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde:
Prov Afr1953 1:22  Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat?
Prov Afr1953 1:23  Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak.
Prov Afr1953 1:24  Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie,
Prov Afr1953 1:25  en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie,
Prov Afr1953 1:26  daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom;
Prov Afr1953 1:27  as julle verskrikking kom soos 'n onweer, en julle ondergang soos 'n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval.
Prov Afr1953 1:28  Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.
Prov Afr1953 1:29  Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie,
Prov Afr1953 1:30  van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het,
Prov Afr1953 1:31  daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.
Prov Afr1953 1:32  Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde;
Prov Afr1953 1:33  maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.