Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PROVERBS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 21
Prov Afr1953 21:1  Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.
Prov Afr1953 21:2  Elke weg van 'n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte.
Prov Afr1953 21:3  Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers.
Prov Afr1953 21:4  Hoogheid van oë en trotsheid van hart — die glans van die goddelose is sonde.
Prov Afr1953 21:5  Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek.
Prov Afr1953 21:6  Die verwerwing van skatte deur 'n valse tong is 'n verwaaide asem — dodelike valstrikke.
Prov Afr1953 21:7  Die gewelddadigheid van die goddelose sleep hulle weg, want hulle weier om reg te doen.
Prov Afr1953 21:8  Gekronkeld is die weg van 'n skuldige mens; maar die reine — sy handeling is reg.
Prov Afr1953 21:9  Dit is beter om op die hoek van 'n dak te woon as by 'n twisgierige vrou en 'n gemeenskaplike huis.
Prov Afr1953 21:10  Die siel van die goddelose begeer die kwaad; sy naaste vind in sy oë geen genade nie.
Prov Afr1953 21:11  As 'n mens 'n spotter straf, word die eenvoudige bedagsaam; en as 'n mens 'n wyse onderrig, neem hy self kennis aan.
Prov Afr1953 21:12  Die regverdige let op die huis van die goddelose; Hy stort die goddelose in die ongeluk.
Prov Afr1953 21:13  Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie.
Prov Afr1953 21:14  'n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en 'n geskenk in die skoot die heftige woede.
Prov Afr1953 21:15  Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar 'n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid.
Prov Afr1953 21:16  'n Mens wat afdwaal van die pad van verstand, sal in die vergadering van die skimme rus.
Prov Afr1953 21:17  Wie van vrolikheid hou, is 'n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie.
Prov Afr1953 21:18  Die goddelose is 'n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue.
Prov Afr1953 21:19  Dit is beter om in 'n woeste land te woon as by 'n twisgierige vrou en ergernis.
Prov Afr1953 21:20  'n Kosbare skat en olie is in die woning van die regverdige, maar 'n dwase mens bring dit deur.
Prov Afr1953 21:21  Wie geregtigheid en weldadigheid najaag, sal die lewe, geregtigheid en eer vind.
Prov Afr1953 21:22  Die wyse beklim die stad van die helde en gooi die vesting neer waar dit op vertrou.
Prov Afr1953 21:23  Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede.
Prov Afr1953 21:24  'n Vermetele, 'n trotsaard word 'n spotter genoem, een wat in oormaat van vermetelheid handel.
Prov Afr1953 21:25  Die begeerte van die luiaard sal hom doodmaak, want sy hande weier om te werk;
Prov Afr1953 21:26  die hele dag deur word daar dringend begeer, maar die regverdige gee en hou nie terug nie.
Prov Afr1953 21:27  Die offer van die goddelose is 'n gruwel; hoeveel te meer as hulle dit met skandelike bedoeling bring.
Prov Afr1953 21:28  'n Leuenagtige getuie kom om; maar 'n man wat goed toeluister, spreek vir altyd.
Prov Afr1953 21:29  Die goddelose trek 'n onbeskaamde gesig, maar die opregte gee aan sy weë die regte rigting.
Prov Afr1953 21:30  Daar is geen wysheid, en daar is geen verstand, en daar is geen raad teenoor die HERE nie.
Prov Afr1953 21:31  Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.