Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PROVERBS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 20
Prov Afr1953 20:1  Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.
Prov Afr1953 20:2  Die dreiging van die koning is soos die gebrom van 'n jong leeu; wie hom vertoorn, verbeur sy lewe.
Prov Afr1953 20:3  Dit is 'n eer vir 'n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los.
Prov Afr1953 20:4  In die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie.
Prov Afr1953 20:5  Die raad in die hart van 'n man mag diep waters wees, 'n man van verstand sal dit tog uitskep.
Prov Afr1953 20:6  Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind 'n betroubare man?
Prov Afr1953 20:7  Wie in sy regskapenheid wandel as 'n regverdige — gelukkig is sy kinders ná hom.
Prov Afr1953 20:8  'n Koning wat op die regterstoel sit, wan met sy oë alles uit wat sleg is.
Prov Afr1953 20:9  Wie kan sê: Ek het my hart suiwer gehou, ek is rein van my sonde?
Prov Afr1953 20:10  Twee soorte gewig, twee soorte maat — hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel.
Prov Afr1953 20:11  Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is.
Prov Afr1953 20:12  'n Oor wat hoor, en 'n oog wat sien — die HERE het hulle altwee gemaak.
Prov Afr1953 20:13  Moenie die slaap liefhê, sodat jy arm word nie; maak jou oë oop, dat jy jou met brood kan versadig.
Prov Afr1953 20:14  Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom.
Prov Afr1953 20:15  Daar is goud en 'n menigte korale, maar 'n kosbare sieraad is die lippe van kennis.
Prov Afr1953 20:16  Neem sy kleed weg, want hy het vir 'n ander borg gestaan, en neem hom as pand vir die vreemdes.
Prov Afr1953 20:17  Soet is vir 'n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies.
Prov Afr1953 20:18  Planne kom deur beraadslaging tot stand; voer dan oorlog met goeie oorleg.
Prov Afr1953 20:19  Wie met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.
Prov Afr1953 20:20  Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood.
Prov Afr1953 20:21  'n Besit wat by die begin haastig bymekaargeskraap is — die einde daarvan sal tog nie geseënd wees nie.
Prov Afr1953 20:22  Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die HERE, dat Hy jou help.
Prov Afr1953 20:23  Twee soorte gewig is vir die HERE 'n gruwel, en 'n valse weegskaal is nie goed nie.
Prov Afr1953 20:24  Die voetstappe van 'n man hang van die HERE af: hoe sou 'n mens dan sy weg verstaan?
Prov Afr1953 20:25  Dit is vir die mens 'n strik dat hy onbedagsaam sê: Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg.
Prov Afr1953 20:26  'n Wyse koning wan die goddelose uit en laat die dorswiel oor hulle draai.
Prov Afr1953 20:27  Die gees van die mens is 'n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste.
Prov Afr1953 20:28  Liefde en trou behoed die koning, en deur liefde stut hy sy troon.
Prov Afr1953 20:29  Die sieraad van die jongmanne is hulle krag, en die versiersel van grysaards is grys hare.
Prov Afr1953 20:30  Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste.