Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PROVERBS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 23
Prov Afr1953 23:1  Sit jy aan om saam met 'n heerser te eet, let dan net op wat vóór jou is,
Prov Afr1953 23:2  en sit 'n mes op jou keel as jy 'n goeie eetlus het.
Prov Afr1953 23:3  Moenie sy lekker ete begeer nie, want dit is bedrieglike spys.
Prov Afr1953 23:4  Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid.
Prov Afr1953 23:5  Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!
Prov Afr1953 23:6  Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie, en begeer nie sy lekker ete nie.
Prov Afr1953 23:7  Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.
Prov Afr1953 23:8  Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou vriendelike woorde verspil.
Prov Afr1953 23:9  Spreek nie voor die ore van 'n dwaas nie, want hy sal die verstandigheid van jou woorde verag.
Prov Afr1953 23:10  Verlê die ou grenslyne nie, en kom nie op die landerye van die wese nie.
Prov Afr1953 23:11  Want hulle Verlosser is sterk, Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
Prov Afr1953 23:12  Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis.
Prov Afr1953 23:13  Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.
Prov Afr1953 23:14  Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.
Prov Afr1953 23:15  My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug.
Prov Afr1953 23:16  En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is.
Prov Afr1953 23:17  Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die HERE.
Prov Afr1953 23:18  Waarlik, daar is 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
Prov Afr1953 23:19  Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.
Prov Afr1953 23:20  Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.
Prov Afr1953 23:21  Want 'n drinker en 'n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.
Prov Afr1953 23:22  Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.
Prov Afr1953 23:23  Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand.
Prov Afr1953 23:24  Die vader van 'n regverdige juig baie; en as iemand 'n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom.
Prov Afr1953 23:25  Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.
Prov Afr1953 23:26  My seun, gee my jou hart, en laat jou oë 'n welgevalle hê in my weë.
Prov Afr1953 23:27  Want 'n hoer is 'n diep kuil, en 'n ontugtige vrou is 'n nou put.
Prov Afr1953 23:28  Sy lê ook en loer soos 'n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom.
Prov Afr1953 23:29  By wie is "Ag!"; by wie is "Wee my!"; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?
Prov Afr1953 23:30  By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.
Prov Afr1953 23:31  Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:
Prov Afr1953 23:32  op die end byt dit soos 'n slang en spuug gif uit soos 'n basilisk.
Prov Afr1953 23:33  Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek;
Prov Afr1953 23:34  en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.
Prov Afr1953 23:35  Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie! Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek.