Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
LUKE
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 12
Luke Afr1953 12:1  Toe duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap het, begin Hy aan sy dissipels te sê: Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid.
Luke Afr1953 12:2  En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.
Luke Afr1953 12:3  Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word.
Luke Afr1953 12:4  En Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie;
Luke Afr1953 12:5  maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!
Luke Afr1953 12:6  Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie.
Luke Afr1953 12:7  Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.
Luke Afr1953 12:8  En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.
Luke Afr1953 12:9  Maar hy wat My verloën voor die mense, sal verloën word voor die engele van God.
Luke Afr1953 12:10  En elkeen wat 'n woord teen die Seun van die mens sal spreek, dit sal hom vergewe word; maar vir hom wat gelaster het teen die Heilige Gees, sal dit nie vergewe word nie.
Luke Afr1953 12:11  En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie;
Luke Afr1953 12:12  want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.
Luke Afr1953 12:13  En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.
Luke Afr1953 12:14  Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as 'n regter of deler oor julle aangestel?
Luke Afr1953 12:15  En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.
Luke Afr1953 12:16  Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra.
Luke Afr1953 12:17  En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie?
Luke Afr1953 12:18  Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.
Luke Afr1953 12:19  En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.
Luke Afr1953 12:20  Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees?
Luke Afr1953 12:21  So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.
Luke Afr1953 12:22  En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.
Luke Afr1953 12:23  Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.
Luke Afr1953 12:24  Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!
Luke Afr1953 12:25  En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
Luke Afr1953 12:26  As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?
Luke Afr1953 12:27  Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.
Luke Afr1953 12:28  As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
Luke Afr1953 12:29  Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;
Luke Afr1953 12:30  want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.
Luke Afr1953 12:31  Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Luke Afr1953 12:32  Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.
Luke Afr1953 12:33  Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.
Luke Afr1953 12:34  Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
Luke Afr1953 12:35  Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.
Luke Afr1953 12:36  En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.
Luke Afr1953 12:37  Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien.
Luke Afr1953 12:38  En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind gelukkig is daardie diensknegte.
Luke Afr1953 12:39  Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie.
Luke Afr1953 12:40  Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.
Luke Afr1953 12:41  Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal?
Luke Afr1953 12:42  En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?
Luke Afr1953 12:43  Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind.
Luke Afr1953 12:44  Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.
Luke Afr1953 12:45  Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word,
Luke Afr1953 12:46  dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues.
Luke Afr1953 12:47  En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word;
Luke Afr1953 12:48  maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.
Luke Afr1953 12:49  Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!
Luke Afr1953 12:50  Maar Ek het 'n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!
Luke Afr1953 12:51  Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid.
Luke Afr1953 12:52  Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.
Luke Afr1953 12:53  Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder.
Luke Afr1953 12:54  En Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook.
Luke Afr1953 12:55  En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur.
Luke Afr1953 12:56  Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?
Luke Afr1953 12:57  En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie?
Luke Afr1953 12:58  Want terwyl jy met jou teëstander na die owerheid gaan, doen moeite op die pad om van hom los te kom; sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en die geregsdienaar jou in die gevangenis werp nie.
Luke Afr1953 12:59  Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste oortjie betaal het nie.