Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
JOEL
Up
1 2 3
Toggle notes
Chapter 1
Joel Afr1953 1:1  Die woord van die HERE wat tot Joël, die seun van Pétuel, gekom het.
Joel Afr1953 1:2  Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind?
Joel Afr1953 1:3  Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag:
Joel Afr1953 1:4  Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.
Joel Afr1953 1:5  Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die mos, omdat dit van julle mond weggeruk is.
Joel Afr1953 1:6  Want 'n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos 'n leeuin.
Joel Afr1953 1:7  Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.
Joel Afr1953 1:8  Weeklaag soos 'n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met 'n roukleed omgord is.
Joel Afr1953 1:9  Spysoffer en drankoffer is ontruk aan die huis van die HERE; die priesters, die dienaars van die HERE, treur.
Joel Afr1953 1:10  Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, die mos het weggedroog, die olie het verdwyn.
Joel Afr1953 1:11  Die landbouers staan beskaamd, die wynboere weeklaag oor die koring en oor die gars, omdat die oes op die land verlore is.
Joel Afr1953 1:12  Die wingerdstok het verdor, en die vyeboom het verwelk; die granaat, ook die palm en die appelboom, al die bome van die land het verdor; want beskaamd is die vreugde, weg van die mensekinders af.
Joel Afr1953 1:13  Omgord julle en klaag, o priesters! Huil, dienaars van die altaar! Kom, vernag in rouklere, dienaars van my God! Want die spysoffer en die drankoffer is geweer van die huis van julle God.
Joel Afr1953 1:14  Heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die HERE julle God, en roep tot die HERE.
Joel Afr1953 1:15  Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos 'n verwoesting van die Almagtige.
Joel Afr1953 1:16  Is die spys nie weggeruk voor ons oë nie, blydskap en gejuig weg uit die huis van onse God?
Joel Afr1953 1:17  Die graankorrels het weggekrimp onder hulle kluite, die voorraadkamers is verwoes, die graanbakke afgebreek, want die koring het verdor.
Joel Afr1953 1:18  Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir hulle nie; ook die troppe kleinvee moet boet.
Joel Afr1953 1:19  Tot U, o HERE, roep ek, want 'n vuur het die weivelde van die woestyn verteer, en 'n vlam het al die bome van die veld aan die brand gesteek.
Joel Afr1953 1:20  Selfs die diere van die veld smag na U; want die waterstrome het opgedroog, en 'n vuur het die weivelde van die woestyn verteer.
Chapter 2
Joel Afr1953 2:1  Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby —
Joel Afr1953 2:2  'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom 'n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.
Joel Afr1953 2:3  Voor hom uit verteer 'n vuur, en agter hom brand 'n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit 'n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.
Joel Afr1953 2:4  Sy voorkoms is soos dié van perde, en net soos ryperde so hardloop hulle.
Joel Afr1953 2:5  Soos die gedruis van waens huppel hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van 'n vuurvlam wat die kaf verteer, soos 'n magtige volk wat vir die geveg opgestel is.
Joel Afr1953 2:6  Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek.
Joel Afr1953 2:7  Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie.
Joel Afr1953 2:8  En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid.
Joel Afr1953 2:9  Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos 'n dief.
Joel Afr1953 2:10  Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.
Joel Afr1953 2:11  En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?
Joel Afr1953 2:12  Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag.
Joel Afr1953 2:13  En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;
Joel Afr1953 2:14  wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy 'n seën sal agterlaat — 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE julle God.
Joel Afr1953 2:15  Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam!
Joel Afr1953 2:16  Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek.
Joel Afr1953 2:17  Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?
Joel Afr1953 2:18  Toe het die HERE geywer vir sy land en sy volk verskoon.
Joel Afr1953 2:19  En die HERE het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie meer tot 'n voorwerp van smaad onder die nasies nie.
Joel Afr1953 2:20  Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag en dit wegdrywe na 'n dor en woeste land; sy voorhoede na die Oostelike See en sy agterhoede na die Westelike See toe. En sy stank sal opstyg, en 'n slegte reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen.
Joel Afr1953 2:21  Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge!
Joel Afr1953 2:22  Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag!
Joel Afr1953 2:23  En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.
Joel Afr1953 2:24  Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.
Joel Afr1953 2:25  En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het — my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.
Joel Afr1953 2:26  Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
Joel Afr1953 2:27  En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die HERE julle God is, en niemand anders nie; en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
Joel Afr1953 2:28  En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.
Joel Afr1953 2:29  En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.
Joel Afr1953 2:30  En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare.
Joel Afr1953 2:31  Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom.
Joel Afr1953 2:32  En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.
Chapter 3
Joel Afr1953 3:1  Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander,
Joel Afr1953 3:2  sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle 'n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.
Joel Afr1953 3:3  En oor my volk het hulle die lot gewerp en 'n jong seun weggegee vir 'n hoer en 'n meisie verkoop vir wyn en dit gedrink.
Joel Afr1953 3:4  En ook, wat het julle met My te doen, o Tirus en Sidon en al die landstreke van Filistéa? Wil julle My iets vergelde, of wil julle My iets aandoen? Gou, ylings sal Ek julle dade op julle hoof laat neerkom.
Joel Afr1953 3:5  Want julle het my silwer en my goud geneem en my kosbare skatte na julle tempels gebring.
Joel Afr1953 3:6  Verder het julle die kinders van Juda en die kinders van Jerusalem aan die kinders van Jawan verkoop, om hulle ver van hul grondgebied te verwyder.
Joel Afr1953 3:7  Kyk, Ek sal hulle laat opstaan uit die plek waarheen julle hulle verkoop het, en julle dade op julle hoof laat neerkom.
Joel Afr1953 3:8  En Ek sal julle seuns en julle dogters aan die kinders van Juda verkoop, en dié sal hulle verkoop aan die Sabeërs, aan 'n verafgeleë volk want die HERE het dit gespreek.
Joel Afr1953 3:9  Roep dit uit onder die nasies, heilig 'n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk!
Joel Afr1953 3:10  Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakke sê: Ek is 'n held.
Joel Afr1953 3:11  Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde, HERE, daarheen aftrek!
Joel Afr1953 3:12  Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom.
Joel Afr1953 3:13  Steek die sekel in, want die oes is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol, die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot.
Joel Afr1953 3:14  Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing!
Joel Afr1953 3:15  Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in.
Joel Afr1953 3:16  En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die HERE sal 'n toevlug wees vir sy volk en 'n skuilplek vir die kinders van Israel.
Joel Afr1953 3:17  Dan sal julle weet dat Ek die HERE julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg; dan sal Jerusalem 'n heiligdom wees waar geen vreemdes meer deur sal trek nie.
Joel Afr1953 3:18  En op dié dag sal die berge drup van mos en die heuwels vloei van melk en al die spruitjies van Juda stroom van water; en uit die huis van die HERE sal daar 'n fontein uitkom om die dal Sittim te besproei.
Joel Afr1953 3:19  Egipte sal 'n woesteny word, en Edom 'n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het.
Joel Afr1953 3:20  Maar Juda sal vir ewig bly, en Jerusalem van geslag tot geslag.
Joel Afr1953 3:21  En Ek sal hulle bloed onskuldig verklaar, wat Ek tevore nie onskuldig verklaar het nie; en die HERE sal op Sion bly woon.