Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PSALMS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 29
Psal Afr1953 29:1  'n Psalm van Dawid. Gee aan die HERE, o hemelinge, gee aan die HERE eer en sterkte!
Psal Afr1953 29:2  Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad!
Psal Afr1953 29:3  Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters.
Psal Afr1953 29:4  Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid.
Psal Afr1953 29:5  Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon;
Psal Afr1953 29:6  en Hy laat hulle opspring soos 'n kalf, die Líbanon en Sirjon soos 'n jong buffel.
Psal Afr1953 29:7  Die stem van die HERE slaan daar vuurvlamme uit.
Psal Afr1953 29:8  Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe.
Psal Afr1953 29:9  Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen: Heerlikheid!
Psal Afr1953 29:10  Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.
Psal Afr1953 29:11  Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.