Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PSALMS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 139
Psal Afr1953 139:1  Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.
Psal Afr1953 139:2  U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.
Psal Afr1953 139:3  U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.
Psal Afr1953 139:4  Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al.
Psal Afr1953 139:5  U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.
Psal Afr1953 139:6  Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.
Psal Afr1953 139:7  Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?
Psal Afr1953 139:8  Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!
Psal Afr1953 139:9  Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,
Psal Afr1953 139:10  ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.
Psal Afr1953 139:11  En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,
Psal Afr1953 139:12  dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.
Psal Afr1953 139:13  Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.
Psal Afr1953 139:14  Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.
Psal Afr1953 139:15  My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
Psal Afr1953 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Psal Afr1953 139:17  Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!
Psal Afr1953 139:18  Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.
Psal Afr1953 139:19  o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!
Psal Afr1953 139:20  Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef — u teëstanders!
Psal Afr1953 139:21  HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?
Psal Afr1953 139:22  Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my!
Psal Afr1953 139:23  Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;
Psal Afr1953 139:24  en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!