Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PSALMS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 107
Psal Afr1953 107:1  Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
Psal Afr1953 107:2  Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het
Psal Afr1953 107:3  en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.
Psal Afr1953 107:4  Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; 'n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.
Psal Afr1953 107:5  Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.
Psal Afr1953 107:6  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.
Psal Afr1953 107:7  En Hy het hulle gelei op 'n regte pad om te gaan na 'n stad om in te woon.
Psal Afr1953 107:8  Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
Psal Afr1953 107:9  want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.
Psal Afr1953 107:10  Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters —
Psal Afr1953 107:11  omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,
Psal Afr1953 107:12  het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.
Psal Afr1953 107:13  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
Psal Afr1953 107:14  Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.
Psal Afr1953 107:15  Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
Psal Afr1953 107:16  want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
Psal Afr1953 107:17  Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is —
Psal Afr1953 107:18  hulle siel het 'n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.
Psal Afr1953 107:19  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
Psal Afr1953 107:20  Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.
Psal Afr1953 107:21  Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
Psal Afr1953 107:22  en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
Psal Afr1953 107:23  Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters —
Psal Afr1953 107:24  húlle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte.
Psal Afr1953 107:25  Want Hy het gespreek en 'n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.
Psal Afr1953 107:26  Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes — hulle siel het vergaan van wee.
Psal Afr1953 107:27  Hulle het getuimel en gewaggel soos 'n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.
Psal Afr1953 107:28  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.
Psal Afr1953 107:29  Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.
Psal Afr1953 107:30  Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.
Psal Afr1953 107:31  Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.
Psal Afr1953 107:32  En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.
Psal Afr1953 107:33  Hy het riviere 'n woestyn gemaak en waterfonteine 'n dorsland,
Psal Afr1953 107:34  vrugbare land 'n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.
Psal Afr1953 107:35  Hy het die woestyn 'n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;
Psal Afr1953 107:36  en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het 'n stad gestig om in te woon.
Psal Afr1953 107:37  En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.
Psal Afr1953 107:38  En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.
Psal Afr1953 107:39  Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer —
Psal Afr1953 107:40  Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in 'n woeste wêreld, sonder pad —
Psal Afr1953 107:41  Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.
Psal Afr1953 107:42  Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.
Psal Afr1953 107:43  Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die HERE.