Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
PSALMS
Prev Up Next Toggle notes
Chapter 84
Psal Afr1953 84:1  Vir die musiekleier; op die Gittiet. Van die kinders van Korag. 'n Psalm.
Psal Afr1953 84:2  Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare!
Psal Afr1953 84:3  My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.
Psal Afr1953 84:4  Selfs vind die mossie 'n huis en die swaweltjie 'n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God!
Psal Afr1953 84:5  Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela.
Psal Afr1953 84:6  Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.
Psal Afr1953 84:7  As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit 'n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge.
Psal Afr1953 84:8  Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.
Psal Afr1953 84:9  HERE, God van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, o God van Jakob! Sela.
Psal Afr1953 84:10  o God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde.
Psal Afr1953 84:11  Want 'n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.
Psal Afr1953 84:12  Want die HERE God is 'n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie. HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!