Site uses cookies to provide basic functionality.

OK
Toggle notes
Chapter 1
Isai Afr1953 1:1  Die gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda.
Isai Afr1953 1:2  Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree.
Isai Afr1953 1:3  'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie.
Isai Afr1953 1:4  Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai.
Isai Afr1953 1:5  Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank.
Isai Afr1953 1:6  Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie.
Isai Afr1953 1:7  Julle land is 'n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is 'n wildernis soos by 'n omkering deur vreemdes.
Isai Afr1953 1:8  En die dogter van Sion het oorgebly soos 'n skermpie in 'n wingerd, soos 'n slaapplekkie in 'n komkommertuin, soos 'n beleërde stad.
Isai Afr1953 1:9  As die HERE van die leërskare vir ons nie 'n klein oorblyfsel oorgelaat het nie — soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.
Isai Afr1953 1:10  Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!
Isai Afr1953 1:11  Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.
Isai Afr1953 1:12  As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis — om my voorhowe te vertrap?
Isai Afr1953 1:13  Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste — Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!
Isai Afr1953 1:14  Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My 'n oorlas. Ek is moeg om dit te dra.
Isai Afr1953 1:15  En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.
Isai Afr1953 1:16  Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,
Isai Afr1953 1:17  leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.
Isai Afr1953 1:18  Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
Isai Afr1953 1:19  As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.
Isai Afr1953 1:20  Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.
Isai Afr1953 1:21  Ag, hoe het die getroue vesting 'n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag — en nou moordenaars!
Isai Afr1953 1:22  Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water.
Isai Afr1953 1:23  Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.
Isai Afr1953 1:24  Daarom spreek die Here HERE van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande!
Isai Afr1953 1:25  En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.
Isai Afr1953 1:26  En Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin; daarna sal jy 'n stad van geregtigheid, 'n getroue vesting genoem word.
Isai Afr1953 1:27  Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid.
Isai Afr1953 1:28  Maar daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam; en die wat die HERE verlaat, sal omkom.
Isai Afr1953 1:29  Want hulle sal in die skande kom weens die terpentynbome waar julle behae in het, en julle sal rooi van skaamte word oor die tuine wat julle verkies het.
Isai Afr1953 1:30  Want julle sal wees soos 'n terpentynboom waarvan die blare verdor, en soos 'n tuin wat geen water het nie.
Isai Afr1953 1:31  En die sterke word tot vlas en sy werk tot 'n vonk, en hulle sal altwee tesame brand sonder dat iemand uitblus.
Chapter 2
Isai Afr1953 2:1  Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem.
Isai Afr1953 2:2  En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.
Isai Afr1953 2:3  En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.
Isai Afr1953 2:4  En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.
Isai Afr1953 2:5  Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!
Isai Afr1953 2:6  Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die Ooste aanbied, en van goëlaars soos die Filistyne, en met die kinders van vreemdes dryf hulle handel.
Isai Afr1953 2:7  En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie.
Isai Afr1953 2:8  Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het.
Isai Afr1953 2:9  So moet dan die mens neergebuig en die man verneder word; en U moet hulle dit nie vergewe nie.
Isai Afr1953 2:10  Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil.
Isai Afr1953 2:11  Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.
Isai Afr1953 2:12  Want 'n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word;
Isai Afr1953 2:13  en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan;
Isai Afr1953 2:14  en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels;
Isai Afr1953 2:15  en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure;
Isai Afr1953 2:16  en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke.
Isai Afr1953 2:17  Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.
Isai Afr1953 2:19  En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.
Isai Afr1953 2:20  In dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise;
Isai Afr1953 2:21  om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.
Isai Afr1953 2:22  Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!
Chapter 3
Isai Afr1953 3:1  Want kyk, die Here HERE van die leërskare sal uit Jerusalem en uit Juda wegneem die stut en die steun, elke stut van brood en elke stut van water,
Isai Afr1953 3:2  die held en die krygsman, die regter en die profeet en die waarsêer en die oudste;
Isai Afr1953 3:3  die owerste oor vyftig en die aansienlike en die raadsman en die knap ambagsman en die ervare besweerder.
Isai Afr1953 3:4  En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers.
Isai Afr1953 3:5  En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop.
Isai Afr1953 3:6  As 'n man sy broer aangryp in die huis van sy vader en sê: Jy het 'n kleed, jy moet owerste oor ons wees, en laat hierdie ingestorte puinhoop onder jou toesig wees —
Isai Afr1953 3:7  dan sal hy in dié dag uitroep en sê: Ek kan geen geneesheer wees nie, en in my huis is geen brood en geen kleed nie; maak my nie 'n owerste van die volke nie.
Isai Afr1953 3:8  Want Jerusalem het gestruikel, en Juda het geval; want hulle tong en hulle dade is teen die HERE om sy oë, vol heerlikheid, te trotseer.
Isai Afr1953 3:9  Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle, en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan!
Isai Afr1953 3:10  Sê van die regverdige dat dit met hom goed sal gaan; want die vrug van hul handelinge sal hulle eet.
Isai Afr1953 3:11  Wee die goddelose! Met hom gaan dit sleg; want wat sy hande gewerk het, sal hom aangedoen word.
Isai Afr1953 3:12  Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot 'n dwaalweg gemaak.
Isai Afr1953 3:13  Die HERE staan daar om 'n regstryd te voer: Hy tree op om die volke te vonnis.
Isai Afr1953 3:14  Die HERE gaan na die gereg met die oudstes en die vorste van sy volk. Ja, júlle het die wingerd afgewei; wat aan die arm man ontroof is, is in julle huise.
Isai Afr1953 3:15  Wat is dit met julle dat julle my volk vertrap en die ellendiges mishandel? spreek die Here HERE van die leërskare.
Isai Afr1953 3:16  Verder het die HERE gesê: Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel,
Isai Afr1953 3:17  daarom sal die HERE die skedel van die dogters van Sion skurf maak, en die HERE sal hulle skaamte ontbloot.
Isai Afr1953 3:18  In dié dag sal die HERE wegneem die sieraad van die voetringe en die sonnetjies en die maantjies;
Isai Afr1953 3:19  die oorversiersels en die armbande en die sluiers;
Isai Afr1953 3:20  die hoofversiersels en die voetkettinkies en die pronkgordels en die reukflessies en die towermiddels;
Isai Afr1953 3:22  die feesklere en die manteltjies en die tjalies en die handsakkies;
Isai Afr1953 3:23  die handspieëltjies en die hemde en die tulbande en die wye mantels.
Isai Afr1953 3:24  Dan sal daar in plaas van balsemgeur mufheid wees, en in plaas van 'n gordel 'n tou, en in plaas van gevlegte hare kaalheid, en in plaas van 'n pronkgewaad 'n roukleed, brandmerk in plaas van skoonheid.
Isai Afr1953 3:25  Jou manne, o Sion, sal deur die swaard val en jou helde in die oorlog.
Isai Afr1953 3:26  En sy poorte sal klaag en treur, en hy sal uitgeskud op die aarde sit.
Chapter 4
Isai Afr1953 4:1  En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg.
Isai Afr1953 4:2  In dié dag sal die Spruit van die HERE wees tot sieraad en heerlikheid, en die vrug van die land tot hoogheid en versiering vir die vrygeraaktes van Israel.
Isai Afr1953 4:3  En wie in Sion oorgebly het en gespaar is in Jerusalem, dié sal heilig genoem word, elkeen wat onder die lewendes opgeskrywe is in Jerusalem —
Isai Afr1953 4:4  as die Here die onreinheid van die dogters van Sion afgewas en die bloedskulde van Jerusalem daaruit weggespoel het deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging.
Isai Afr1953 4:5  Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms 'n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar 'n beskutting wees.
Isai Afr1953 4:6  En daar sal 'n afdak wees vir 'n skaduwee bedags teen die hitte en vir 'n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën.
Chapter 5
Isai Afr1953 5:1  Laat my tog sing van my Beminde; 'n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel.
Isai Afr1953 5:2  En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het 'n toring daar binne-in gebou en ook 'n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring.
Isai Afr1953 5:3  Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd.
Isai Afr1953 5:4  Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring?
Isai Afr1953 5:5  Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word.
Isai Afr1953 5:6  En Ek sal dit 'n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie.
Isai Afr1953 5:7  Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!
Isai Afr1953 5:8  Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan akker voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle alleen grondeienaars in die land is.
Isai Afr1953 5:9  In my ore het die HERE van die leërskare gespreek: Waarlik, baie huise sal 'n woesteny word, die grotes en mooies sonder inwoner.
Isai Afr1953 5:10  Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en 'n homer saad sal 'n efa opbring.
Isai Afr1953 5:11  Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.
Isai Afr1953 5:12  En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie.
Isai Afr1953 5:13  Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.
Isai Afr1953 5:14  Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is.
Isai Afr1953 5:15  Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige mense word verneder.
Isai Afr1953 5:16  Maar hoog sal die HERE van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.
Isai Afr1953 5:17  En daar sal lammers wei soos op hulle eie weiveld, en rondtrekkers sal die puinhope van die ryk mense laat afeet.
Isai Afr1953 5:18  Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue;
Isai Afr1953 5:19  wat sê: Laat Hy gou maak, laat Hy sy werk verhaas, dat ons dit kan sien! En laat die raad van die Heilige van Israel naby wees en kom, dat ons dit kan ken!
Isai Afr1953 5:20  Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.
Isai Afr1953 5:21  Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.
Isai Afr1953 5:22  Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng;
Isai Afr1953 5:23  wat vir 'n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem.
Isai Afr1953 5:24  Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle uitspruitsel soos stof opstuiwe; omdat hulle die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.
Isai Afr1953 5:25  Daarom het die toorn van die HERE ontvlam teen sy volk en het Hy sy hand teen hulle uitgestrek en hulle swaar getref, sodat die berge gebeef het en hulle lyke soos vuilnis op die strate was. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar is sy hand nog uitgestrek.
Isai Afr1953 5:26  En Hy sal 'n banier ophef vir die nasies in die verte, en Hy fluit vir dié volk daar aan die einde van die aarde; en kyk, gou, haastig kom hulle.
Isai Afr1953 5:27  Geen vermoeide en geen struikelende is onder hulle nie; hulle sluimer of slaap nie, en die gord van hulle heupe word nie losgemaak nie, en die riem van hulle skoene breek nie;
Isai Afr1953 5:28  wie se pyle skerp is en al hulle boë gespan; die pote van hulle perde is soos 'n klipsteen en hulle wiele soos 'n stormwind.
Isai Afr1953 5:29  Hulle gebrul is soos dié van 'n leeuin, hulle brul soos jong leeus en maak gedreun en gryp die prooi en sleep weg sonder dat iemand red.
Isai Afr1953 5:30  En in dié dag sal dit oor hulle dreun soos die gedreun van die see. As iemand die aarde aanskou, kyk, daar is angsvolle duisternis; en die lig is verduister deur die wolke.
Chapter 6
Isai Afr1953 6:1  In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.
Isai Afr1953 6:2  Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg.
Isai Afr1953 6:3  En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!
Isai Afr1953 6:4  En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword.
Isai Afr1953 6:5  Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!
Isai Afr1953 6:6  Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool in sy hand, wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het,
Isai Afr1953 6:7  en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.
Isai Afr1953 6:8  Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.
Isai Afr1953 6:9  En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.
Isai Afr1953 6:10  Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.
Isai Afr1953 6:11  Toe sê ek: Hoe lank, Here? En Hy antwoord: Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot 'n wildernis,
Isai Afr1953 6:12  en die HERE die mense ver verwyder het en die verlatenheid groot is in die land.
Isai Afr1953 6:13  En as nog 'n tiende deel daarin is, sal dit weer wees tot verwoesting; maar soos by die terpentynboom en die eikeboom — as hulle omgekap word — 'n stomp oorbly, so sal die heilige geslag die stomp daarvan wees.
Chapter 7
Isai Afr1953 7:1  En in die dae van Agas, die seun van Jotam, die seun van Ussía, die koning van Juda, het Resin, die koning van Aram, met Peka, die seun van Remália, die koning van Israel, opgetrek na Jerusalem om daarteen oorlog te voer; maar hy kon nie daarteen veg nie.
Isai Afr1953 7:2  Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het op Efraim toegesak! — het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.
Isai Afr1953 7:3  En die HERE het vir Jesaja gesê: Gaan tog uit, Agas tegemoet, jy en jou seun Sjear Ja-sjub, aan die end van die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld,
Isai Afr1953 7:4  en sê vir hom: Neem jou in ag en wees gerus; wees nie bevrees en laat jou hart nie week word oor hierdie twee rokende stukke brandhout nie — weens die gloeiende toorn van Resin en die Arameërs en van die seun van Remália;
Isai Afr1953 7:5  omdat Aram onheil teen jou besluit het, Efraim en die seun van Remália, deur te sê:
Isai Afr1953 7:6  Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tábeal daaroor koning maak.
Isai Afr1953 7:7  So sê die Here HERE: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie.
Isai Afr1953 7:8  Want Damaskus is die hoof van Aram, en Resin die hoof van Damaskus, en binne vyf en sestig jaar sal Efraim verbreek word, sodat dit geen volk meer is nie;
Isai Afr1953 7:9  en Samaría is die hoof van Efraim, en die seun van Remália die hoof van Samaría. As julle nie glo nie — voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!
Isai Afr1953 7:10  En die HERE het verder met Agas gespreek en gesê:
Isai Afr1953 7:11  Eis vir jou 'n teken van die HERE jou God: sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe.
Isai Afr1953 7:12  Maar Agas het geantwoord: Ek sal nie eis nie en die HERE nie versoek nie.
Isai Afr1953 7:13  Toe sê hy: Luister tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie?
Isai Afr1953 7:14  Daarom sal die HERE self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.
Isai Afr1953 7:15  Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is.
Isai Afr1953 7:16  Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.
Isai Afr1953 7:17  Maar die HERE sal oor jou en jou volk en die huis van jou vader dae laat kom soos daar nie gekom het van die dag dat Efraim van Juda afgeval het nie — die koning van Assur!
Isai Afr1953 7:18  En in dié dag sal die HERE vir die vlieë fluit wat aan die einde van die strome van Egipte is, en die bye wat in die land Assur is;
Isai Afr1953 7:19  en hulle sal kom en almal gaan sit in die dale van die steil hoogtes en in die skeure van die rotse en op al die doringbosse en op die drinkplekke.
Isai Afr1953 7:20  In dié dag sal die HERE met die skeermes wat anderkant die Eufraat gehuur is, met die koning van Assur, afskeer die hoof en die hare van die voete; en dit sal ook die baard wegneem.
Isai Afr1953 7:21  En in dié dag sal 'n man 'n jong koei en 'n paar skape in die lewe hou;
Isai Afr1953 7:22  en weens die oorvloed van melk wat hulle gee, sal hy dikmelk eet; want dikmelk en heuning sal almal eet wat in die land oorgebly het.
Isai Afr1953 7:23  En in dié dag sal elke plek waar duisend wingerdstokke staan, wat die waarde van duisend sikkels silwer het, vir die dorings en distels wees.
Isai Afr1953 7:24  Met pyl en boog sal hulle daarheen kom, want die hele land sal vol dorings en distels wees.
Isai Afr1953 7:25  En al die berge wat met die pik bewerk is — daar sal hulle uit vrees vir dorings en distels nie kom nie; maar dit sal dien om die beeste in te jaag en om deur die kleinvee vertrap te word.
Chapter 8
Isai Afr1953 8:1  Verder het die HERE aan my gesê: Neem vir jou 'n groot tafel en skrywe daarop met 'n mensegriffel: Netnou is daar buit, gou is daar roof;
Isai Afr1953 8:2  en Ek wil vir My vertroubare getuies neem: Uría, die priester, en Sagaría, die seun van Jeberégja.
Isai Afr1953 8:3  En ek het na die profetes gekom, en sy het swanger geword en 'n seun gebaar; en die HERE het vir my gesê: Noem hom: Netnou is daar buit, gou is daar roof.
Isai Afr1953 8:4  Want voordat die seuntjie kan roep: Vader! of: Moeder! sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaría voor die koning van Assur bring.
Isai Afr1953 8:5  Verder het die HERE nog met my gespreek en gesê:
Isai Afr1953 8:6  Omdat hierdie volk die waters van Silóa verag wat saggies vloei, en daar vreugde is saam met Resin en die seun van Remália —
Isai Afr1953 8:7  kyk, daarom sal die Here oor hulle laat opkom die sterk en magtige waters van die Eufraat — die koning van Assur en al sy heerlikheid — en hy sal bo al sy beddings styg en gaan oor al sy walle;
Isai Afr1953 8:8  en hy sal in Juda indring, instroom en oorloop; tot die nek toe sal hy kom; en die uitbreidinge van sy vlerke sal u land in sy breedte vul, o Immánuel!
Isai Afr1953 8:9  Maak geraas, o volke, en — stort inmekaar; en luister, alle ver plekke van die aarde! Gord julle en — stort inmekaar; gord julle en — stort inmekaar.
Isai Afr1953 8:10  Neem 'n besluit, en dit sal verydel word; maak 'n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie; want God is met ons!
Isai Afr1953 8:11  Want so het die HERE met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde:
Isai Afr1953 8:12  Julle mag nie alles 'n sameswering noem wat hierdie volk 'n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie.
Isai Afr1953 8:13  Die HERE van die leërskare — Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!
Isai Afr1953 8:14  Dan sal Hy vir julle 'n heiligdom wees, maar 'n klip waar 'n mens teen stamp en 'n rots waar 'n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, 'n vangnet en 'n strik vir die inwoners van Jerusalem.
Isai Afr1953 8:15  En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word.
Isai Afr1953 8:16  Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge.
Isai Afr1953 8:17  En ek sal wag op die HERE, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop.
Isai Afr1953 8:18  Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het — tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg Sion woon.
Isai Afr1953 8:19  En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel — moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?
Isai Afr1953 8:20  Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle 'n volk wat geen dageraad het nie.
Isai Afr1953 8:21  Dan sal hulle deur die land trek, beswaard en honger; en as hulle honger het, sal hulle in toorn uitbreek en hulle koning en hulle God vloek; dan sal hulle na bo kyk,
Isai Afr1953 8:22  ook die aarde aanskou, en kyk, daar sal benoudheid en duisternis wees! In jammernag en donkerheid is hulle gedrywe. Want nie langer sal dit donker wees daar waar benoudheid is nie: in die eerste tyd het Hy die land Sébulon en die land Náftali in veragting gebring, en in die laaste tyd bring Hy tot eer die weg na die see, die oorkant van die Jordaan, die streek van die heidene.
Chapter 9
Isai Afr1953 9:1  Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het 'n lig geskyn.
Isai Afr1953 9:2  U het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word.
Isai Afr1953 9:3  Want die juk wat op hulle gedruk het, en die stok wat hulle rug getref het, die roede van hulle drywer, het U verbreek soos op die dag van Mídian.
Isai Afr1953 9:4  Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun, en die kleed wat in bloed gerol is, dien tot verbranding, 'n prooi van die vuur.
Isai Afr1953 9:5  Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —
Isai Afr1953 9:6  tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
Isai Afr1953 9:7  Die HERE stuur 'n woord in Jakob, en dit val in Israel;
Isai Afr1953 9:8  en die hele volk sal dit gewaarword, Efraim en die inwoners van Samaría, wat in trotsheid en grootsheid van hart sê:
Isai Afr1953 9:9  Die bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons bou; die wildevyebome is afgekap, maar ons sal seders in hulle plek neem!
Isai Afr1953 9:10  Maar die HERE gee aan die teëstanders van Resin die oorhand oor hulle, en hulle vyande sal Hy ophits:
Isai Afr1953 9:11  die Arameërs van voor en die Filistyne van agter, dat hulle Israel met volle mond kan opeet. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
Isai Afr1953 9:12  Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom wat hulle slaan nie, en hulle soek nie die HERE van die leërskare nie.
Isai Afr1953 9:13  Daarom sny die HERE van Israel af kop en stert, palmtak en biesie, op een dag.
Isai Afr1953 9:14  Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert;
Isai Afr1953 9:15  en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op 'n dwaalweg gebring.
Isai Afr1953 9:16  Daarom sal die Here oor hulle jongmanne nie bly wees nie en Hom nie ontferm oor hulle wese en hulle weduwees nie; want hulle is almal roekelose mense en kwaaddoeners, en elke mond spreek goddeloosheid. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
Isai Afr1953 9:17  Want die goddeloosheid brand soos vuur; dit verteer dorings en distels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in 'n rookpilaar opstyg.
Isai Afr1953 9:18  Deur die grimmigheid van die HERE van die leërskare staan die land in vlamme en het die volk geword soos 'n prooi van die vuur; die een spaar die ander nie.
Isai Afr1953 9:19  En hulle byt na regs en het honger; hulle vreet na links en word nie versadig nie; hulle eet elkeen die vlees van sy eie arm:
Isai Afr1953 9:20  Manasse vir Efraim, en Efraim vir Manasse, en hulle saam is teen Juda. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
Chapter 10
Isai Afr1953 10:1  Wee hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite ywerig voorskrywe,
Isai Afr1953 10:2  om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder.
Isai Afr1953 10:3  Maar wat sal julle doen op die dag van besoeking en by die verwoesting wat van ver af sal kom? Na wie sal julle vlug om hulp, en waar julle rykdom wegbêre?
Isai Afr1953 10:4  Hulle kan net maar buig soos geboeides en val soos diegene wat gedood is. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
Isai Afr1953 10:5  Wee Assur! die roede van my toorn en 'n stok is hy — in hulle hand is my grimmigheid!
Isai Afr1953 10:6  Ek sal hom stuur teen 'n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot 'n vertrapping te maak soos modder van die strate.
Isai Afr1953 10:7  Maar hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.
Isai Afr1953 10:8  Want hy sê: Is my vorste nie almal saam konings nie?
Isai Afr1953 10:9  Het dit met Kalno nie gegaan soos met Kárkemis, met Hamat soos met Arpad, met Samaría soos met Damaskus nie?
Isai Afr1953 10:10  Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría,
Isai Afr1953 10:11  sou ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem en sy afgode kan doen nie?
Isai Afr1953 10:12  Maar as die HERE al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë.
Isai Afr1953 10:13  Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos 'n maghebber neergewerp.
Isai Afr1953 10:14  En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na 'n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos 'n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat 'n vlerk verroer of 'n bek oopgemaak of gepiep het nie.
Isai Afr1953 10:15  Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof 'n staf húlle swaai wat hom ophef, asof 'n stok hóm ophef wat nie hout is nie!
Isai Afr1953 10:16  Daarom sal die Here HERE van die leërskare onder sy vettes 'n maerte stuur; en onder sy heerlikheid sal Hy 'n brand laat uitslaan soos die brand van vuur.
Isai Afr1953 10:17  En die Lig van Israel sal 'n vuur wees, en sy Heilige 'n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.
Isai Afr1953 10:18  Ook sal Hy die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteboord verteer, van die siel af tot die vlees toe, sodat dit is soos wanneer 'n kranke wegkwyn.
Isai Afr1953 10:19  En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en 'n seuntjie sal hulle kan opskrywe.
Isai Afr1953 10:20  En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid.
Isai Afr1953 10:21  Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe.
Isai Afr1953 10:22  Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid.
Isai Afr1953 10:23  Want 'n verdelging wat vas besluit is, sal die Here HERE van die leërskare voltrek in die midde van die hele aarde.
Isai Afr1953 10:24  Daarom, so sê die Here HERE van die leërskare: o My volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir Assur wat jou met die staf slaan en sy stok teen jou ophef op die manier van Egipte nie.
Isai Afr1953 10:25  Want nog 'n baie kort rukkie, dan is die grimmigheid ten einde, en my toorn gaan uit om húlle te vernietig.
Isai Afr1953 10:26  En die HERE van die leërskare sal oor hom die gésel swaai soos Mídian verslaan is by die rots Oreb; en sy staf sal wees oor die see, en Hy sal dit ophef op die manier van Egipte.
Isai Afr1953 10:27  En in dié dag sal sy las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid.
Isai Afr1953 10:28  Hy oorval Ajat; hy trek deur Migron; in Migmas laat hy sy pakgoed agterbly.
Isai Afr1953 10:29  Hulle trek oor die nek. Laat Geba ons nagverblyf wees! Rama bewe, Gíbea van Saul vlug.
Isai Afr1953 10:30  Skreeu dit uit, dogter van Gallim! Luister, Lais! Arme Anatot!
Isai Afr1953 10:31  Madména vlug, die inwoners van Gebim soek skuiling!
Isai Afr1953 10:32  Nog vandag staan hy in Nob, hy swaai sy hand teen die berg van die dogter van Sion, teen die heuwel van Jerusalem!
Isai Afr1953 10:33  Maar kyk, die Here HERE van die leërskare slaan met skrikwekkende geweld die takke af, en die hoog uitgegroeides word omgekap en die verhewenes neergegooi;
Isai Afr1953 10:34  en Hy sal die digte takke van die bos met die yster omkap, en die Líbanon sal val deur die Heerlike.
Chapter 11
Isai Afr1953 11:1  Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra;
Isai Afr1953 11:2  en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.
Isai Afr1953 11:3  En Hy het 'n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie;
Isai Afr1953 11:4  maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.
Isai Afr1953 11:5  En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.
Isai Afr1953 11:6  Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en 'n klein seuntjie sal hulle aanja.
Isai Afr1953 11:7  Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os;
Isai Afr1953 11:8  en die suigling speel by die gat van 'n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van 'n basilisk.
Isai Afr1953 11:9  Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.
Isai Afr1953 11:10  En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as 'n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.
Isai Afr1953 11:11  En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;
Isai Afr1953 11:12  en Hy sal 'n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.
Isai Afr1953 11:13  Dan sal die naywer van Efraim verdwyn, en die teëstanders van Juda sal uitgeroei word; Efraim sal Juda nie beny nie, en Juda sal Efraim nie benoud maak nie.
Isai Afr1953 11:14  Maar hulle sal die Filistyne op die skouer vlieg teen die weste en saam die kinders van die Ooste plunder; Edom en Moab is die buit van hulle hand, en die kinders van Ammon is hulle onderdanig.
Isai Afr1953 11:15  En die HERE sal die seetong van Egipte met die banvloek tref en deur sy gloeiende wind sy hand oor die Eufraat swaai en dit uitmekaar slaan in sewe strome, sodat 'n mens met skoene daardeur kan loop.
Isai Afr1953 11:16  En daar sal 'n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit Assur, soos daar een gewees het vir Israel op die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het.
Chapter 12
Isai Afr1953 12:1  En in dié dag sal jy sê: Ek dank U, HERE, dat U toornig op my gewees het; u toorn is afgewend, en U het my vertroos.
Isai Afr1953 12:2  Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die HERE HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.
Isai Afr1953 12:3  En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.
Isai Afr1953 12:4  En julle sal in dié dag sê: Dank die HERE, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!
Isai Afr1953 12:5  Psalmsing tot eer van die HERE, want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde.
Isai Afr1953 12:6  Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde.
Chapter 13
Isai Afr1953 13:1  Godspraak oor Babel wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het.
Isai Afr1953 13:2  Hef op 'n banier op 'n kaal berg; roep hulle hardop toe, wink met die hand, dat hulle kan intrek deur die poorte van die edeles.
Isai Afr1953 13:3  Ek self het my geheiligdes ontbied; ook het Ek my helde tot my toorn geroep, my manne wat jubel in trotsheid.
Isai Afr1953 13:4  Hoor, 'n gedruis op die berge soos van baie mense! Hoor, 'n rumoer van die koninkryke, van versamelde nasies! Die HERE van die leërskare hou wapenskouing oor 'n oorlogsleër.
Isai Afr1953 13:5  Hulle kom uit 'n ver land, van die einde van die hemel af, die HERE en die werktuie van sy grimmigheid, om die hele aarde te verwoes.
Isai Afr1953 13:6  Huil julle, want die dag van die HERE is naby; hy kom as 'n verwoesting van die Almagtige.
Isai Afr1953 13:7  Daarom word al die hande slap, en elke mensehart versmelt;
Isai Afr1953 13:8  en hulle is verskrik, kry krampe en weë; hulle krimp inmekaar soos een wat baar; die een kyk die ander verbaas aan; hulle gesigte is vlammende gesigte.
Isai Afr1953 13:9  Kyk, die dag van die HERE kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.
Isai Afr1953 13:10  Want die sterre van die hemel en sy Oríons sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie.
Isai Afr1953 13:11  En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.
Isai Afr1953 13:12  En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.
Isai Afr1953 13:13  Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die HERE van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed.
Isai Afr1953 13:14  En soos 'n gemsbok wat gejaag word, en soos kleinvee wat niemand bymekaar maak nie, sal hulle elkeen draai na sy volk toe en elkeen vlug na sy land toe.
Isai Afr1953 13:15  Elkeen wat gevind word, word deurboor; en elkeen wat gegryp word, val deur die swaard.
Isai Afr1953 13:16  En hulle kinders word voor hul oë verpletter, hul huise geplunder en hul vroue onteer.
Isai Afr1953 13:17  Kyk, Ek verwek die Meders teen hulle, wat silwer nie ag nie en in goud geen behae het nie.
Isai Afr1953 13:18  Maar hulle boë sal die seuns neerwerp, en hulle sal hul nie ontferm oor die vrug van die moederskoot nie; hulle oog sal die kinders nie verskoon nie.
Isai Afr1953 13:19  So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het.
Isai Afr1953 13:20  Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie.
Isai Afr1953 13:21  Maar daar sal boskatte lê, en hulle huise sal vol uile wees; en volstruise sal daar hou, en veldduiwels daar rondspring.
Isai Afr1953 13:22  En wildehonde sal huil in sy kastele en jakkalse in die vreugdepaleise; en naby is sy tyd om te kom, en sy dae sal nie verskuif word nie.
Chapter 14
Isai Afr1953 14:1  Want die HERE sal Hom oor Jakob ontferm, en Hy sal Israel nog verkies en hulle in hul land laat vestig; en die vreemdeling sal hom by hulle voeg, en hulle sal hul aansluit by die huis van Jakob.
Isai Afr1953 14:2  En die volke sal hulle neem en op hul woonplek bring; en die huis van Israel sal hulle in die land van die HERE as besitting verwerwe, as slawe en slavinne; en hulle sal dié gevange hou wat hulle as gevangenes weggevoer het, en oor hulle drywers heers.
Isai Afr1953 14:3  En op die dag as die HERE jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het,
Isai Afr1953 14:4  dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking!
Isai Afr1953 14:5  Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers,
Isai Afr1953 14:6  wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met 'n agtervolging sonder verskoning.
Isai Afr1953 14:7  Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel.
Isai Afr1953 14:8  Ook is die sipresse bly oor jou, die seders van die Líbanon, en hulle sê: Vandat jy daar lê, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie.
Isai Afr1953 14:9  Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan.
Isai Afr1953 14:10  Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword.
Isai Afr1953 14:11  Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as 'n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking.
Isai Afr1953 14:12  Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!
Isai Afr1953 14:13  En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde.
Isai Afr1953 14:14  Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!
Isai Afr1953 14:15  Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!
Isai Afr1953 14:16  Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?
Isai Afr1953 14:17  Die wêreld soos 'n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie?
Isai Afr1953 14:18  Al die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis;
Isai Afr1953 14:19  maar jy is gewerp, ver van jou graf, soos 'n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas.
Isai Afr1953 14:20  Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes, jou volk gedood; die nageslag van die kwaaddoeners word vir ewig nie genoem nie.
Isai Afr1953 14:21  Maak 'n slagbank gereed vir sy seuns, om die ongeregtigheid van hulle vaders ontwil, dat hulle nie opstaan en die aarde in besit neem en die bodem van die wêreld vol stede maak nie.
Isai Afr1953 14:22  So sal Ek dan teen hulle opstaan, spreek die HERE van die leërskare, en van Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag, spreek die HERE.
Isai Afr1953 14:23  En Ek sal dit 'n besitting maak van krimpvarkies en tot waterplasse; en Ek sal dit wegvee met die besem van verdelging, spreek die HERE van die leërskare.
Isai Afr1953 14:24  Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand:
Isai Afr1953 14:25  om Assur te verbreek in my land, en op my berge sal Ek hom vertrap, sodat sy juk van hulle kan afgly en sy las van hulle skouer kan wyk.
Isai Afr1953 14:26  Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde, en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies;
Isai Afr1953 14:27  want die HERE van die leërskare het dit besluit — wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek — wie sal dit kan afkeer?
Isai Afr1953 14:28  In die sterfjaar van koning Agas het hierdie Godspraak uitgegaan.
Isai Afr1953 14:29  Wees nie bly, o ganse land van die Filistyne, dat die roede verbreek is wat jou geslaan het nie; want uit die wortel van die slang sal 'n basilisk voortkom, en sy vrug sal 'n vlieënde draak wees.
Isai Afr1953 14:30  En die eersgeborenes van die armes sal wei, en die behoeftiges sal veilig lê en rus; maar jou wortel sal Ek deur honger laat sterwe, en jou oorblyfsel sal hy doodmaak.
Isai Afr1953 14:31  Huil, o poort! Skreeu, o stad! Bewe, o ganse land van die Filistyne! Want uit die noorde kom rook, en daar is geen afswerwer onder sy skare nie.
Isai Afr1953 14:32  Wat sal hulle dan die boodskappers van die nasie antwoord? Dat die HERE Sion gegrondves het, en dat die ellendiges van sy volk daarin sal skuil.
Chapter 15
Isai Afr1953 15:1  Godspraak oor Moab. Waarlik, in die nag is Ar-Moab verwoes, vernietig! Waarlik, in die nag is Kir-Moab verwoes, vernietig!
Isai Afr1953 15:2  Hulle gaan op na die tempel, en Dibon na die hoogtes om te ween; Moab huil op Nebo en in Medéba; op al hulle hoofde is 'n kaalte, elke baard is afgeskeer.
Isai Afr1953 15:3  Op hul strate het hulle rouklere aangegord; op hulle dakke en op hulle pleine huil alles en smelt weg in geween.
Isai Afr1953 15:4  Hesbon en Eleále skreeu, hulle stem word gehoor tot Jahas toe; daarom hef die gewapende manne van Moab 'n angsgeskreeu aan, sy siel sidder.
Isai Afr1953 15:5  My hart skreeu oor Moab, sy vlugtelinge kom tot by Soar, Eglat-Selisia. Want die hoogte van Luhit beklim hulle met geween; ja, op pad na Horonáim laat hulle 'n geskreeu van verwoesting weerklink;
Isai Afr1953 15:6  want die waters van Nimrim word 'n woesteny, ja, die gras is verdor, die grasspruitjies het vergaan, daar is geen groenigheid nie.
Isai Afr1953 15:7  Daarom gaan hulle die oorwins wat hulle gemaak het, en hulle voorraad, oor die Wilgerspruit dra.
Isai Afr1953 15:8  Want die geskreeu gaan rond in die grondgebied van Moab, sy gehuil tot by Eglaim en sy gehuil tot by Beër-Elim.
Isai Afr1953 15:9  Want die waters van Dimon is vol bloed; want Ek sal oor Dimon nog meer bring, 'n leeu oor dié van Moab wat ontvlug het, en oor die oorblyfsel van die land.
Chapter 16
Isai Afr1953 16:1  Stuur die lammers van die regeerder van die land uit die rotsstreek weg na die woestyn, na die berg van die dogter van Sion.
Isai Afr1953 16:2  En soos voëls wat vlug, 'n nes wat verjaag is, sal die dogters van Moab wees by die driwwe van die Arnon.
Isai Afr1953 16:3  Gee raad, gee beslissing, maak jou skaduwee soos die nag op die volle middag, verberg die wat verdryf is, verraai die vlugteling nie!
Isai Afr1953 16:4  Laat my mense wat verdryf is, by jou vertoef! Aangaande Moab, wees vir hulle 'n skuilplek vanweë die verwoester. Want gedaan is die verdrukker, klaar is dit met die verwoesting, weg is die vertrappers uit die land!
Isai Afr1953 16:5  En opgerig is deur goedgunstigheid 'n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, 'n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid.
Isai Afr1953 16:6  Ons het gehoor van die trotsheid van Moab — hy is baie trots! — van sy hoogmoed en sy trotsheid en sy grimmigheid, sy onbehoorlike grootpratery.
Isai Afr1953 16:7  Daarom sal Moab oor Moab huil, almal saam huil; oor die druiwekoeke van Kir-Haréset sal julle sug, heeltemal verslae.
Isai Afr1953 16:8  Want die wingerde van Hesbon het verwelk; die wingerdstok van Sibma — sy edele druiwe het die beheersers van die nasies neergewerp; dit het gekom tot by Jaéser, dit het in die woestyn ingedwaal; sy ranke het uitgesprei, het oor die see gegaan.
Isai Afr1953 16:9  Daarom beween ek die wingerdstok van Sibma met die geween van Jaéser; ek maak jou nat met my trane, Hesbon en Eleále, omdat die vreugdegeroep jou somervrugte en jou oes oorval het,
Isai Afr1953 16:10  en vreugde en gejuig weggeneem is uit die vrugteboord, en in die wingerde nie gejubel of gejuig word nie; die druiwetrapper trap geen wyn in die parskuipe nie; Ek het die vreugdegeroep laat ophou.
Isai Afr1953 16:11  Daarom klaag my ingewande oor Moab soos 'n siter, en my binneste oor Kir-Heres.
Isai Afr1953 16:12  En as Moab verskyn, as hy hom vermoei op die hoogte en in sy heiligdom ingaan om te aanbid, dan sal hy niks uitrig nie.
Isai Afr1953 16:13  Dit is die woord wat die HERE tevore teen Moab gespreek het.
Isai Afr1953 16:14  En nou spreek die HERE en sê: Binne drie jaar — soos die jare van 'n dagloner — sal die heerlikheid van Moab veragtelik gemaak word saam met die hele groot menigte; en die oorblyfsel sal min, gering, onmagtig wees.
Chapter 17
Isai Afr1953 17:1  Godspraak oor Damaskus. Kyk, Damaskus word weggeneem, sodat dit geen stad meer is nie, maar dit sal 'n vervalle puinhoop word.
Isai Afr1953 17:2  Die stede Aroër sal verlate wees; vir die troppe vee sal hulle wees wat daar sal lê sonder dat iemand hulle skrikmaak.
Isai Afr1953 17:3  En die vesting sal verdwyn uit Efraim, en die koningskap uit Damaskus; en met die oorblyfsel van Aram sal dit gaan soos met die heerlikheid van die kinders van Israel, spreek die HERE van die leërskare.
Isai Afr1953 17:4  En in dié dag sal die heerlikheid van Jakob gering word, en die vet van sy vlees sal wegteer.
Isai Afr1953 17:5  En dit sal wees soos wanneer die maaier die ongesnyde graan bymekaarvat en sy arm die are afmaai; ja, dit sal wees soos wanneer iemand are optel in die dal Refaim.
Isai Afr1953 17:6  Maar 'n na-oes sal daarin oorbly soos by die afslaan van die olywe: twee, drie vruggies bo in die top; vier, vyf in die takke van die vrugteboom, spreek die HERE, die God van Israel.
Isai Afr1953 17:7  In dié dag sal die mens kyk na sy Maker, en sy oë sal sien op die Heilige van Israel;
Isai Afr1953 17:8  en hy sal nie kyk na die altare nie, die werk van sy hande; en wat sy vingers gemaak het, sal hy nie aansien nie: die heilige boomstamme en die sonpilare.
Isai Afr1953 17:9  In dié dag sal die stede wat sy toevlug was, wees soos die bouvalle van die bos en van die bergtop wat verlaat is vanweë die kinders van Israel, en dit sal 'n wildernis wees.
Isai Afr1953 17:10  Want jy het vergeet die God van jou heil en nie gedink aan die rots wat jou toevlug was nie. Daarom lê jy lieflike tuine aan en beplant dit met uitlandse wingerdstokke;
Isai Afr1953 17:11  die dag as jy plant, laat jy dit groei, en in die môre laat jy jou saad uitspruit; maar dit sal wees 'n hoop geoeste graan op die dag van krankheid en ongeneeslike smart.
Isai Afr1953 17:12  Wee die gebruis van baie volke — soos die gebruis van die see, so bruis hulle! En die gedruis van nasies — soos die gedruis van geweldige waters, so maak hulle gedruis!
Isai Afr1953 17:13  Nasies maak gedruis soos die gedruis van baie waters; maar Hy dreig hulle, en hulle vlug ver weg en word gejaag soos kaf van die berge voor die wind en soos strooi voor die stormwind.
Isai Afr1953 17:14  In die aand — daar is verskrikking! Voordat dit môre word, is hulle nie meer nie. Dit is die deel van hulle wat ons plunder, en die lot van hulle wat ons beroof.
Chapter 18
Isai Afr1953 18:1  Wee die land van vlerkgegons wat anderkant die riviere van Kus lê;
Isai Afr1953 18:2  wat boodskappers stuur oor die groot water en in skuite van biesies oor die waters! Gaan weg, vinnige boodskappers, na die hoog uitgegroeide nasie met die blink vel, na die wyd en syd gevreesde volk, die nasie gewoond om te gebied en te vertrap, wie se land deur riviere deursny word.
Isai Afr1953 18:3  Al julle bewoners van die wêreld en bewoners van die aarde, as 'n banier opgehef word op die berge, kyk! En as die basuin geblaas word, luister!
Isai Afr1953 18:4  Want so het die HERE vir my gesê: Ek wag rustig en aanskou uit my woonplek, soos glinsterende hitte bo die sonlig, soos 'n douwolk in die hitte van die oestyd.
Isai Afr1953 18:5  Want voor die oes, as die bloeisel volgroeid is en die blom 'n ryp druiwekorrel word, sal Hy die ranke afsny met snoeimesse en die lote wegkap;
Isai Afr1953 18:6  hulle word almal saam oorgegee aan die roofvoëls van die berge en aan die wilde diere van die aarde; en die roofvoëls sal daarop die somer deurbring, en al die wilde diere van die aarde sal daarop oorwinter.
Isai Afr1953 18:7  In dié tyd sal aan die HERE van die leërskare geskenke gebring word van die hoog uitgegroeide volk met die blink vel en van die wyd en syd gevreesde volk, die nasie gewoond om te gebied en te vertrap, wie se land deur riviere deursny word, na die plek van die Naam van die HERE van die leërskare, na die berg Sion.
Chapter 19
Isai Afr1953 19:1  Godspraak oor Egipte. Kyk, die HERE ry op 'n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste.
Isai Afr1953 19:2  En Ek sal Egipte teen Egipte ophits, sodat hulle sal veg, elkeen teen sy broer en elkeen teen sy naaste, stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.
Isai Afr1953 19:3  En die gees van Egipte sal radeloos word in sy binneste, en sy planne sal Ek verwar; dan raadpleeg hulle die afgode en die besweerders en die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê.
Isai Afr1953 19:4  En Ek sal Egipte oorgee in die hand van 'n harde meester, en 'n strenge koning sal oor hulle heers, spreek die Here HERE van die leërskare.
Isai Afr1953 19:5  En die waters sal uit die groot waterplas verdwyn, en die rivier sal uitdroog en droog lê.
Isai Afr1953 19:6  En die strome sal stink; die strome van Egipte sal swak word en uitdroog; riet en biesies sal verwelk.
Isai Afr1953 19:7  Die weivelde by die Nyl, by die mond van die Nyl, en elke saailand van die Nyl sal verdor, verwaai en nie meer wees nie.
Isai Afr1953 19:8  En die vissers sal klaag, en almal wat hoeke in die Nyl uitgooi, rou bedrywe; en die wat visnette uitsprei oor die waters, sal verkwyn.
Isai Afr1953 19:9  En die bewerkers van uitgekamde vlas staan beskaamd, en die wewers van wit stowwe.
Isai Afr1953 19:10  En sy steunpilare word verbrysel; almal wat vir loon werk, sielsbedroef.
Isai Afr1953 19:11  Die vorste van Soan is net dwase, die raad van Farao se slimste raadgewers het domheid geword. Hoe kan julle vir Farao sê: Ek is 'n seun van die wyse manne, 'n seun van die konings uit die voortyd?
Isai Afr1953 19:12  Waar is hulle dan, jou wyse manne? Laat hulle jou tog te kenne gee, dat 'n mens kan weet wat die HERE van die leërskare oor Egipte besluit het.
Isai Afr1953 19:13  Die vorste van Soan het dwase geword, die vorste van Nof is bedroë; Egipte is op 'n dwaalweg gebring deur hulle wat die hoeksteen van die stamme is.
Isai Afr1953 19:14  Die HERE het daarin 'n gees van bedwelming gegiet, en Egipte is op 'n dwaalweg gebring in al sy werk, soos 'n dronkaard tuimel in sy uitbraaksel.
Isai Afr1953 19:15  So is daar dan vir Egipte geen werk wat gedoen word deur kop of stert, palmtak of biesie nie.
Isai Afr1953 19:16  In dié dag sal die Egiptenaars wees soos die vroue: hulle sal bewe en vrees vir die handgeswaai van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle swaai.
Isai Afr1953 19:17  En die land Juda sal vir die Egiptenaars 'n skrik wees: as iemand daarvan melding maak by hulle, bewe hulle vanweë die besluit van die HERE van die leërskare wat Hy teen hulle geneem het.
Isai Afr1953 19:18  In dié dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän spreek en by die HERE van die leërskare sweer; een sal genoem word: Stad van verwoesting.
Isai Afr1953 19:19  In dié dag sal daar 'n altaar wees vir die HERE binne-in Egipteland en 'n gedenksteen vir die HERE by die grens.
Isai Afr1953 19:20  En dit sal wees 'n teken en 'n getuie vir die HERE van die leërskare in Egipteland; as hulle die HERE aanroep vanweë die verdrukkers, sal Hy aan hulle 'n redder stuur en 'n stryder wat hulle sal verlos.
Isai Afr1953 19:21  En die HERE sal Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en die Egiptenaars sal die HERE ken in dié dag; en hulle sal Hom dien met slagoffers en spysoffers en geloftes doen aan die HERE en dit betaal.
Isai Afr1953 19:22  En die HERE sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot die HERE bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees.
Isai Afr1953 19:23  In dié dag sal daar 'n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die HERE dien.
Isai Afr1953 19:24  In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, 'n seën in die midde van die aarde,
Isai Afr1953 19:25  omdat die HERE van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!
Chapter 20
Isai Afr1953 20:1  In die jaar toe die tartan na Asdod gekom het, toe Sargon, die koning van Assirië, hom gestuur het, en hy teen Asdod geveg en dit ingeneem het;
Isai Afr1953 20:2  in dié tyd het die HERE deur die diens van Jesaja, die seun van Amos, gespreek en gesê: Gaan gord die haarmantel van jou heupe af los, en trek jou skoene van jou voete af. Hy het toe so gedoen en naak en kaalvoet geloop.
Isai Afr1953 20:3  Daarop het die HERE gesê: Soos my kneg Jesaja naak en kaalvoet geloop het, drie jaar lank, as teken en sinnebeeld met betrekking tot Egipte en Kus,
Isai Afr1953 20:4  so sal die koning van Assirië die gevangenes van Egipte en die ballinge van Kus wegdrywe, jonk en oud, naak en kaalvoet en ontbloot aan die agterdele — 'n smaad vir Egipte.
Isai Afr1953 20:5  En hulle sal verslae wees en beskaamd staan vanweë Kus, hulle toeverlaat, en vanweë Egipte, hulle trots.
Isai Afr1953 20:6  En die inwoners van hierdie kusland sal in dié dag sê: Kyk, só gaan dit met ons toeverlaat waarheen ons gevlug het om hulp, om gered te word van die koning van Assirië — hoe sal óns dan ontvlug?
Chapter 21
Isai Afr1953 21:1  Godspraak oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit 'n vreeslike land!
Isai Afr1953 21:2  'n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Médië! Aan alle gesug maak Ek 'n einde.
Isai Afr1953 21:3  Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie.
Isai Afr1953 21:4  My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot 'n verskrikking.
Isai Afr1953 21:5  Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink.... Staan op, o vorste, salf die skild!
Isai Afr1953 21:6  Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit 'n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien;
Isai Afr1953 21:7  en sien hy 'n stoet ruiters, twee aan twee, 'n stoet esels, 'n stoet kamele, dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan.
Isai Afr1953 21:8  En hy het geroep soos 'n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte.
Isai Afr1953 21:9  En kyk, daar kom 'n stoet manne, ruiters twee aan twee. Toe het hy aangehef en gesê: Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond.
Isai Afr1953 21:10  o My vertrapte en gedorste volk, wat ek gehoor het van die HERE van die leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak.
Isai Afr1953 21:11  Godspraak oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag?
Isai Afr1953 21:12  Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom.
Isai Afr1953 21:13  Godspraak teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van die Dedaniete!
Isai Afr1953 21:14  Bring vir die dorstige water tegemoet! Die inwoners van die land Tema het die vlugteling met brood teëgekom.
Isai Afr1953 21:15  Want hulle het gevlug vir swaarde, vir die swaard wat uitgetrek en vir die boog wat gespan is, en vir die druk van die oorlog.
Isai Afr1953 21:16  Want so het die Here vir my gesê: Binne 'n jaar — soos die jare van 'n dagloner — sal al die heerlikheid van Kedar verdwyn.
Isai Afr1953 21:17  En wat oorbly van die getal boë van die Kedareense helde, sal min wees; want die HERE, die God van Israel, het dit gespreek.
Chapter 22
Isai Afr1953 22:1  Godspraak oor die dal van die gesig. Wat is dit dan met jou dat jy, jou hele bevolking, op die dakke geklim het,
Isai Afr1953 22:2  rumoerige, woelige stad, uitgelate vesting? Die wat in jou verslaan is, is nie deur die swaard verslaan en het nie in die oorlog gesterwe nie.
Isai Afr1953 22:3  Al jou owerstes het almal saam gevlug, sonder boog is hulle gebind; almal wat in jou gegryp is, is almal saam gebind; hulle het ver weggevlug.
Isai Afr1953 22:4  Daarom sê ek: Kyk weg van my af, dat ek bitterlik kan ween; dring nie aan om my te troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie;
Isai Afr1953 22:5  want dit is 'n dag van rumoer en vertrapping en verwarring deur die Here, die HERE van die leërskare, in die dal van die gesig — omgooi van mure en geskreeu na die gebergte toe!
Isai Afr1953 22:6  En Elam het die pylkoker geneem, met waens, manskappe, ruiters; en Kir het die skild ontbloot.
Isai Afr1953 22:7  Dan word jou beste dale met strydwaens gevul, en die ruiters staan gereed in die rigting van die poort;
Isai Afr1953 22:8  en die beskutting van Juda word weggeneem. En in dié dag kyk jy na die wapens in die Huis van die Bos,
Isai Afr1953 22:9  en julle sien die skeure van die stad van Dawid, dat hulle baie is, en julle vang die waters van die Onderste Dam op.
Isai Afr1953 22:10  En julle tel die huise van Jerusalem, en die huise breek julle af om die muur te versterk.
Isai Afr1953 22:11  En julle maak 'n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie.
Isai Afr1953 22:12  En in dié dag roep die Here, die HERE van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;
Isai Afr1953 22:13  maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.
Isai Afr1953 22:14  Maar die HERE van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê: Waarlik, hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe nie! sê die Here, die HERE van die leërskare.
Isai Afr1953 22:15  So sê die Here, die HERE van die leërskare: Kom, gaan in by daardie bestuurder, by Sebna, wat oor die paleis aangestel is, en sê:
Isai Afr1953 22:16  Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier 'n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom 'n woning uithol?
Isai Afr1953 22:17  Kyk, die HERE sal jou wegslinger, soos 'n man iets wegslinger, en jou vas inmekaar rol,
Isai Afr1953 22:18  jou vas inmekaar draai soos 'n tol garing, jou soos 'n bal wegslinger na 'n land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens wees, o skandvlek van die huis van jou heer!
Isai Afr1953 22:19  En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.
Isai Afr1953 22:20  En in dié dag sal Ek my kneg Éljakim, die seun van Hilkía, roep;
Isai Afr1953 22:21  en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda 'n vader wees.
Isai Afr1953 22:22  En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie.
Isai Afr1953 22:23  En Ek sal hom inslaan soos 'n pen in 'n vaste plek, en hy sal 'n eretroon wees vir die huis van sy vader.
Isai Afr1953 22:24  En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande kruike toe.
Isai Afr1953 22:25  In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal die pen padgee wat in 'n vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek en val, en die drag goed wat daaraan hang, raak tot niet, want die HERE het dit gespreek.
Chapter 23
Isai Afr1953 23:1  Godspraak oor Tirus. Huil, skepe van Tarsis! want dit is verwoes, sodat daar geen huis, geen terugkeer meer is nie. Uit die land van die Kittiërs het dit aan hulle openbaar geword.
Isai Afr1953 23:2  Staan verstom, inwoners van die kusland! Die koopmans van Sidon wat oor die see vaar, het jou vroeër gevul.
Isai Afr1953 23:3  En op groot waters is die saad van Sigor, die oes van die Nyl, in hom ingebring; en so het hy 'n handelswins vir die nasies geword.
Isai Afr1953 23:4  Staan beskaamd, Sidon, want die see, die vesting van die see, spreek en sê: Ek het geen weë gehad en nie gebaar nie, en ek het geen jongmanne grootgemaak of jongedogters opgevoed nie.
Isai Afr1953 23:5  As die tyding na Egipte kom, beef hulle daar van angs by die tyding aangaande Tirus.
Isai Afr1953 23:6  Vaar na Tarsis oor, huil, inwoners van die kusland!
Isai Afr1953 23:7  Is dít julle uitgelate stad wat in die dae van die voortyd sy oorsprong het, wie se voete hom ver weggedra het om in vreemde lande te vertoef?
Isai Afr1953 23:8  Wie het dit besluit oor Tirus, die uitdeler van krone, wie se koopmans vorste, wie se handelaars die edeles van die aarde was?
Isai Afr1953 23:9  Die HERE van die leërskare het dit besluit, om te ontheilig al die pralende trots, om die edeles van die aarde in veragting te bring.
Isai Afr1953 23:10  Stroom oor jou land soos die Nyl, dogter van Tarsis! Daar is geen gordel meer wat hinder nie.
Isai Afr1953 23:11  Hy het sy hand uitgestrek oor die see, koninkryke laat sidder! Die HERE het bevel gegee met betrekking tot Kanaän, dat sy vestings verwoes moet word.
Isai Afr1953 23:12  En Hy het gesê: Jy sal verder nie meer uitgelate wees nie, o onteerde jonkvrou, dogter van Sidon! Maak jou klaar, vaar oor na die Kittiërs toe; ook daar sal jy geen rus hê nie.
Isai Afr1953 23:13  Kyk, die land van die Chaldeërs — dit is die volk wat tot niet gegaan het: Assur het dit bestem vir die woestyndiere, het sy wagtorings daarteen opgerig, het die paleise daarvan verwoes, het dit 'n puinhoop gemaak.
Isai Afr1953 23:14  Huil, skepe van Tarsis, want julle vesting is verwoes!
Isai Afr1953 23:15  En in dié dag sal Tirus vergeet word, sewentig jaar lank, soos die dae van een koning. Aan die einde van sewentig jaar sal dit met Tirus gaan volgens die hoerelied:
Isai Afr1953 23:16  Neem die siter, gaan rond in die stad, vergete hoer! Speel mooi, sing baie, dat hulle aan jou kan dink.
Isai Afr1953 23:17  En aan die einde van sewentig jaar sal die HERE op Tirus ag gee, en sy sal terugkeer na haar hoereloon en hoereer met al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is.
Isai Afr1953 23:18  Maar haar handelswins en haar hoereloon sal aan die HERE heilig wees; dit sal nie opgehoop of weggesit word nie; maar haar wins sal wees vir die wat voor die aangesig van die HERE woon, om te eet tot versadiging en vir pragtige klere.
Chapter 24
Isai Afr1953 24:1  Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners.
Isai Afr1953 24:2  Dieselfde lot tref die volk en die priester, die slaaf en sy heer, die slavin en haar meesteres, die koper en die verkoper, die uitlener en die lener, die skuldeiser en die skuldenaar.
Isai Afr1953 24:3  Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die HERE het hierdie woord gespreek.
Isai Afr1953 24:4  Die aarde treur, dit verwelk; die wêreld versmag, dit verwelk; en die hoogstes van die mense van die aarde versmag.
Isai Afr1953 24:5  Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.
Isai Afr1953 24:6  Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur 'n gloed verteer en bly daar min mense oor.
Isai Afr1953 24:7  Die mos treur, die wingerdstok verwelk, almal wat bly van hart is, sug.
Isai Afr1953 24:8  Weg is die vreugde van die tamboeryne, die gedruis van die uitgelate mense hou op, weg is die vreugde van die siter!
Isai Afr1953 24:9  Hulle drink geen wyn onder gesang nie; die sterk drank smaak bitter vir die wat dit drink.
Isai Afr1953 24:10  Verbreek is die verlate vesting; al die huise staan toegesluit, sodat niemand daar kan inkom nie.
Isai Afr1953 24:11  Daar is 'n gejammer oor wyn op die strate; al die vrolikheid het ondergegaan, die vreugde van die aarde is verban.
Isai Afr1953 24:12  Wat in die stad oorgebly het, is verwoesting; en die poort is tot 'n puinhoop stukkend geslaan.
Isai Afr1953 24:13  Want so sal dit wees op die aarde, onder die volke, soos by die afslaan van die olywe, soos by die na-oes as die druiwe-oes verby is.
Isai Afr1953 24:14  Hulle daar hef hul stem op, hulle jubel; vanweë die majesteit van die HERE juig hulle van die see af:
Isai Afr1953 24:15  Daarom, eer die HERE in die lande van die son, op die kuslande van die see die Naam van die HERE, die God van Israel!
Isai Afr1953 24:16  Van die einde van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die regverdige! Maar ek sê: Ek teer weg, ek teer weg, wee my! Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.
Isai Afr1953 24:17  Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o bewoner van die aarde!
Isai Afr1953 24:18  En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe.
Isai Afr1953 24:19  Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud.
Isai Afr1953 24:20  Die aarde waggel geheel en al soos 'n dronkaard en swaai heen en weer soos 'n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.
Isai Afr1953 24:21  En in dié dag sal die HERE besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde;
Isai Afr1953 24:22  en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in 'n kuil en bewaar word in 'n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word.
Isai Afr1953 24:23  En die maan sal rooi word van skaamte, en die son sal skaam wees; want die HERE van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees.
Chapter 25
Isai Afr1953 25:1  HERE, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.
Isai Afr1953 25:2  Want U het van 'n stad 'n hoop klippe gemaak, van 'n versterkte vesting 'n puinhoop; 'n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie.
Isai Afr1953 25:3  Daarom sal 'n magtige volk U eer, die vesting van tirannieke nasies U vrees.
Isai Afr1953 25:4  Want U was 'n vesting vir die arme, 'n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was; 'n skuilplek teen die stortreën, 'n skaduwee teen die hitte — want die geblaas van die tiranne is soos 'n stortreën teen 'n muur.
Isai Afr1953 25:5  Soos hitte in 'n dor land het U die rumoer van vreemdes gedemp, soos hitte deur die skaduwee van 'n wolk; die triomfsang van die tiranne moes verstom.
Isai Afr1953 25:6  En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei 'n maaltyd van vetspyse, 'n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.
Isai Afr1953 25:7  En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.
Isai Afr1953 25:8  Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.
Isai Afr1953 25:9  En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp.
Isai Afr1953 25:10  Want die hand van die HERE sal rus op hierdie berg; maar Moab sal vertrap word op sy plek soos strooi vertrap word in die water van 'n miskuil.
Isai Afr1953 25:11  En as hy sy hande daarin uitsprei soos 'n swemmer dit uitsprei om te swem, dan sal Hy sy trotsheid afdruk tegelyk met die kunsgrepe van sy hande.
Isai Afr1953 25:12  En die steil versterkings van jou mure werp Hy neer, gooi Hy af, laat Hy kom tot op die grond, tot in die stof.
Chapter 26
Isai Afr1953 26:1  In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: 'n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse.
Isai Afr1953 26:2  Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!
Isai Afr1953 26:3  U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.
Isai Afr1953 26:4  Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is 'n ewige rots.
Isai Afr1953 26:5  Want Hy het die bewoners van die hoogte neergewerp, die steil vesting; Hy het dit afgegooi, afgegooi tot by die grond, dit laat kom tot in die stof.
Isai Afr1953 26:6  Die voet vertrap dit, die voete van die ellendige, die voetstappe van die armes.
Isai Afr1953 26:7  Die pad van die regverdige is gelyk; U maak die spoor van die regverdige gelyk.
Isai Afr1953 26:8  Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit.
Isai Afr1953 26:9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Isai Afr1953 26:10  Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in 'n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie.
Isai Afr1953 26:11  HERE, is u hand opgehef, hulle sien dit nie; maar hulle sal dit sien en beskaamd staan; die ywer vir die volk, ook die vuur teen u teëstanders sal hulle verteer.
Isai Afr1953 26:12  HERE, U sal vir ons vrede beskik, want U het ook al ons werk vir ons volbring.
Isai Afr1953 26:13  HERE, onse God, ander here buiten U het oor ons geheers, maar deur U alleen prys ons ú Naam.
Isai Afr1953 26:14  Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie; daarom het U hulle besoek en verdelg en alle gedagtenis aan hulle laat vergaan.
Isai Afr1953 26:15  U het, o HERE, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei.
Isai Afr1953 26:16  HERE, in benoudheid het hulle U gesoek; hulle het stille gebede uitgegiet toe u tugtiging hulle getref het.
Isai Afr1953 26:17  Soos 'n bevrugte vrou wat naby die tyd kom dat sy moet baar, inmekaar krimp, skreeu in haar weë, so was ons vanweë u aangesig, o HERE!
Isai Afr1953 26:18  Ons was swanger, het weë gehad — dit was asof ons wind gebaar het; ons het die land geen redding aangebring nie, en daar is geen wêreldbewoners gebore nie.
Isai Afr1953 26:19  U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk.
Isai Afr1953 26:20  Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir 'n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan.
Isai Afr1953 26:21  Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.
Chapter 27
Isai Afr1953 27:1  In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.
Isai Afr1953 27:2  In dié dag sal daar wees 'n wingerd van skuimende wyn — sing daarvan!
Isai Afr1953 27:3  Ek, die HERE, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie.
Isai Afr1953 27:4  Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand.
Isai Afr1953 27:5  Of hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak.
Isai Afr1953 27:6  In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.
Isai Afr1953 27:7  Het Hy hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood met 'n slagting soos die wat deur Hom gedood is?
Isai Afr1953 27:8  Met mate het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe met sy geweldige wind op die dag van die oostewind.
Isai Afr1953 27:9  Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie.
Isai Afr1953 27:10  Want die versterkte stad is eensaam, 'n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af.
Isai Afr1953 27:11  As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die brand; want dit is 'n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie.
Isai Afr1953 27:12  En in dié dag sal die HERE vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel!
Isai Afr1953 27:13  En in dié dag sal daar met 'n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die HERE aanbid op die heilige berg in Jerusalem.
Chapter 28
Isai Afr1953 28:1  Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle wat deur die wyn verslaan is.
Isai Afr1953 28:2  Kyk, die Here het een wat sterk en magtig is, soos 'n haelstorm, 'n storm vol verwoesting, soos 'n stortbui van geweldige, oorlopende waters wat teen die grond gooi met krag.
Isai Afr1953 28:3  Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim;
Isai Afr1953 28:4  en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal, sal wees soos 'n voorvy voor die vrugte-oes: iemand sien dit skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg.
Isai Afr1953 28:5  In dié dag sal die HERE van die leërskare wees tot 'n sierlike kroon en 'n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk,
Isai Afr1953 28:6  en tot 'n gees van strafgerig vir hom wat sit oor die gereg, en tot 'n sterkte vir hulle wat die geveg terugdring na die poort toe.
Isai Afr1953 28:7  En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn, hulle waggel van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak.
Isai Afr1953 28:8  Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie.
Isai Afr1953 28:9  Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?
Isai Afr1953 28:10  Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier 'n bietjie, daar 'n bietjie.
Isai Afr1953 28:11  Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur 'n vreemde tong met hierdie volk spreek,
Isai Afr1953 28:12  Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.
Isai Afr1953 28:13  Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier 'n bietjie, daar 'n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.
Isai Afr1953 28:14  Daarom, hoor die woord van die HERE, julle spotters, heersers oor hierdie volk wat in Jerusalem is!
Isai Afr1953 28:15  Omdat julle sê: Ons het 'n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons 'n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek —
Isai Afr1953 28:16  daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion 'n grondsteen, 'n beproefde steen, 'n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.
Isai Afr1953 28:17  En Ek sal die reg tot 'n riglyn maak, en die geregtigheid tot 'n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel.
Isai Afr1953 28:18  En julle verbond met die dood sal uitgewis word, en julle verdrag met die doderyk nie standhou nie; as die golwende gésel deurtrek, sal julle deur hom vertrap word.
Isai Afr1953 28:19  So dikwels as hy deurtrek, sal hy julle gryp; want môre vir môre sal hy deurtrek, by dag en by nag. En dit sal net verskrikking wees om so 'n openbaring te verneem.
Isai Afr1953 28:20  Want die bed sal te kort wees dat iemand hom daarop kan uitrek, en die kombers te smal dat iemand hom daarin kan toedraai.
Isai Afr1953 28:21  Want die HERE sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om sy werk te doen — vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig — ongehoord is sy daad!
Isai Afr1953 28:22  Gedra julle dan nou nie soos spotters, dat julle bande nie vaster word nie; want ek het van die Here HERE van die leërskare gehoor 'n verdelging wat vas besluit is, oor die hele aarde.
Isai Afr1953 28:23  Luister, en hoor na my stem; let op, en hoor my woord!
Isai Afr1953 28:24  Ploeg die ploeër die hele dag om te saai? Skeur hy sy akker oop, en eg hy die hele dag?
Isai Afr1953 28:25  Is dit nie só nie: As hy dit bo-op gelykgemaak het, gooi hy swart komyn uit en strooi komyn en saai koring in rye en gars in vakke en spelt langs die kant.
Isai Afr1953 28:26  En sy God het hom onderrig hoe om dit te doen, Hy leer hom.
Isai Afr1953 28:27  Want swart komyn word nie met die slee gedors nie, en die wawiel word nie oor komyn gerol nie; maar swart komyn word uitgeslaan met 'n stok en komyn met 'n hout.
Isai Afr1953 28:28  Word broodkoring fyngestamp? Nee, nie altyddeur dors hulle dit nie; en al dryf hulle die wawiel en die perde daaroor — hulle stamp dit nie fyn nie.
Isai Afr1953 28:29  Ook dit kom van die HERE van die leërskare: Hy is wonderbaar van raad, groot van beleid.
Chapter 29
Isai Afr1953 29:1  Wee Ariël, Ariël, stad waar Dawid laer opgeslaan het! Voeg jaar by jaar; laat die feeste hulle kringloop volbring —
Isai Afr1953 29:2  dan sal Ek Ariël benoud maak, en daar sal geklaag en geklag wees, en dit sal vir My soos Ariël wees.
Isai Afr1953 29:3  En Ek sal in 'n kring teen jou laer opslaan en jou met wagposte beleër en skanse teen jou oprig.
Isai Afr1953 29:4  Dan sal jy diep uit die grond spreek, en op dowwe toon sal jou woord uit die stof voortkom; en jou stem sal uit die grond opkom soos dié van die gees van 'n afgestorwene, en uit die stof sal jou woord piep.
Isai Afr1953 29:5  Maar die menigte van jou vyande sal word soos dun stof, en die menigte van die tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal heeltemal onverwags gebeur.
Isai Afr1953 29:6  Vanweë die HERE van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van 'n verterende vuur.
Isai Afr1953 29:7  En soos 'n droom, 'n naggesig, sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen Ariël, ja, almal wat teen hom oorlog toe trek en teen sy bergvesting en hom benoud maak.
Isai Afr1953 29:8  En soos 'n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en — sy siel is leeg; en soos 'n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en — hy is moeg en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Sion.
Isai Afr1953 29:9  Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.
Isai Afr1953 29:10  Want die HERE het oor julle uitgegiet 'n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë — die profete — toegesluit en julle hoofde — die sieners — toegebind.
Isai Afr1953 29:11  So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van 'n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël.
Isai Afr1953 29:12  Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.
Isai Afr1953 29:13  En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is,
Isai Afr1953 29:14  daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.
Isai Afr1953 29:15  Wee hulle wat planne diep verberg vir die HERE, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons?
Isai Afr1953 29:16  o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?
Isai Afr1953 29:17  Sal dit nie nog 'n baie kort rukkie duur dat die Líbanon in 'n vrugteboord verander word, en die vrugteboord vir 'n bos gereken word nie?
Isai Afr1953 29:18  En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien.
Isai Afr1953 29:19  En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die HERE, en die behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel.
Isai Afr1953 29:20  Want gedaan is dit met die tiran, en klaar is dit met die spotter, en uitgeroei is almal wat op ongeregtigheid bedag is —
Isai Afr1953 29:21  hulle wat 'n mens as sondaar brandmerk ter wille van 'n woord, en strikke span vir hom wat vir die reg opkom in die poort, en die regverdige met nietige voorwendsels wegstoot.
Isai Afr1953 29:22  Daarom, so sê die HERE tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het: Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie;
Isai Afr1953 29:23  want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees;
Isai Afr1953 29:24  en hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry, en die murmureerders sal lering aanneem.
Chapter 30
Isai Afr1953 30:1  Wee die opstandige kinders, spreek die HERE, wat 'n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat 'n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op sonde te stapel;
Isai Afr1953 30:2  wat gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie, om toevlug te soek onder die beskutting van Farao en om te skuil in die skaduwee van Egipte.
Isai Afr1953 30:3  Maar die beskutting van Farao sal julle tot skande wees, en die skuiling in die skaduwee van Egipte tot smaadheid.
Isai Afr1953 30:4  Want hulle vorste is in Soan, en hulle boodskappers het in Hanes aangekom;
Isai Afr1953 30:5  almal staan beskaamd vanweë die volk wat hulle geen voordeel aanbring nie, geen hulp en geen voordeel nie, maar skande en smaadheid daarby.
Isai Afr1953 30:6  Godspraak oor die diere van die Suidland. In 'n land van benoudheid en angs, waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak, vervoer hulle op die rugge van esels hul rykdomme en op die bulte van kamele hul skatte, na 'n volk wat geen voordeel bring nie.
Isai Afr1953 30:7  En Egipte — nietig en leeg is sy hulp; daarom noem ek dit: Rahab wat stilsit.
Isai Afr1953 30:8  Gaan nou in, skryf dit op 'n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in 'n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid.
Isai Afr1953 30:9  Want dit is 'n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie;
Isai Afr1953 30:10  wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry;
Isai Afr1953 30:11  wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!
Isai Afr1953 30:12  Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun,
Isai Afr1953 30:13  daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos 'n los stuk wat wil val, wat oorhang in 'n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom.
Isai Afr1953 30:14  Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van 'n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil te skep nie.
Isai Afr1953 30:15  Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie
Isai Afr1953 30:16  en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg — daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry — daarom sal julle vervolgers laat jaag!
Isai Afr1953 30:17  Een duisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos 'n vlagpaal op 'n bergtop en soos 'n banier op 'n heuwel.
Isai Afr1953 30:18  En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is 'n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!
Isai Afr1953 30:19  Want 'n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou.
Isai Afr1953 30:20  Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie — maar jou oë sal jou leraars sien;
Isai Afr1953 30:21  en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.
Isai Afr1953 30:22  En julle sal verontreinig die oortreksel van jou gesnede beelde van silwer en die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê.
Isai Afr1953 30:23  Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op 'n uitgestrekte weiveld;
Isai Afr1953 30:24  en die osse en die esels wat die grond bewerk, sal voer met sout eet, wat uitgewan is met skop en gaffel;
Isai Afr1953 30:25  en op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal strome wees, waterlope, op die dag van die groot slagting as die torings val.
Isai Afr1953 30:26  En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die HERE die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is.
Isai Afr1953 30:27  Kyk, die Naam van die HERE kom van ver af, sy toorn brand, swaar wolke kom op; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos 'n verterende vuur,
Isai Afr1953 30:28  en sy asem soos 'n oorlopende stroom wat tot by die nek kom — om nasies te sif met 'n sif van vernietiging; en 'n toom wat verkeerd stuur, is in die kakebene van die volke.
Isai Afr1953 30:29  Die lied sal by julle wees soos in die nag as die fees gevier word, en julle sal vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg van die HERE, na die Steenrots van Israel.
Isai Afr1953 30:30  En die HERE sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van 'n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.
Isai Afr1953 30:31  Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan,
Isai Afr1953 30:32  en elke swaai van die roede wat vir hom beskik is, wat die HERE op hom laat val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek, en met 'n uitgeswaaide vegtersarm sal Hy teen hulle veg.
Isai Afr1953 30:33  Want 'n Tofet is van gister af gereedgemaak, ook is dit vir die koning berei; diep en wyd het Hy die houtstapel daarvan aangelê met vuur en hout in menigte; die asem van die HERE is soos 'n stroom van swawel wat dit aan die brand steek.
Chapter 31
Isai Afr1953 31:1  Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie.
Isai Afr1953 31:2  Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom en trek sy woorde nie terug nie: Hy sal opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die helpers van die wat ongeregtigheid werk.
Isai Afr1953 31:3  Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie; as die HERE sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle almal te gronde.
Isai Afr1953 31:4  Want so het die HERE vir my gesê: Soos 'n leeu en 'n jong leeu knor oor sy prooi wanneer die volle getal herders teen hom bymekaargeroep word, sonder dat hy skrik vir hulle stem of ingee vir hulle geraas — só sal die HERE van die leërskare neerdaal om in die stryd uit te trek teen die berg Sion en teen sy heuwel.
Isai Afr1953 31:5  Soos voëls wat fladder, so sal die HERE van die leërskare Jerusalem beskut, beskut en red, verskoon en bevry.
Isai Afr1953 31:6  Bekeer julle tot Hom van wie die kinders van Israel diep afgeval het.
Isai Afr1953 31:7  Want in dié dag sal hulle elkeen sy silwerafgode en sy goue afgode verwerp, wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het.
Isai Afr1953 31:8  En Assur sal val deur die swaard, nie van 'n man nie; en die swaard, nie van 'n mens nie, sal hom verteer; en hy sal voor die swaard vlug, en sy jongmanne sal dienspligtig word;
Isai Afr1953 31:9  en sy rots sal uitmekaar stuif van skrik, en sy vorste sal verskrik die banier verlaat, spreek die HERE, wat 'n vuur het op Sion en 'n oond in Jerusalem.
Chapter 32
Isai Afr1953 32:1  Kyk, 'n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg.
Isai Afr1953 32:2  En elkeen sal wees soos 'n toevlug teen die wind en 'n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in 'n dor streek, soos die skaduwee van 'n swaar rots in 'n land wat versmag.
Isai Afr1953 32:3  Dan sal nie meer verblind wees die oë van die wat sien nie; en die ore van hulle wat hoor, sal luister;
Isai Afr1953 32:4  en die hart van die onbedagsames sal leer om te verstaan, en die tong van die hakkelaars sal gou wees om duidelik te spreek;
Isai Afr1953 32:5  die dwaas sal nie meer 'n edele genoem word nie, en van die skelm sal nie gesê word dat hy vernaam is nie.
Isai Afr1953 32:6  Want 'n dwaas spreek dwaasheid en sy hart bring onheil voort, deur goddeloosheid te bedrywe en dwaling te spreek oor die HERE, deur die begeerte van die hongerige onvervuld te laat en die drank van die dorstige te laat ontbreek.
Isai Afr1953 32:7  En die skelm — sy middele is sleg, hy beraam skandelike dade om die ellendiges te ruïneer met leuentaal, ook as die behoeftige spreek wat reg is.
Isai Afr1953 32:8  Maar die edele beraam edele dade, en hy hou stand in wat edel is.
Isai Afr1953 32:9  Staan op, geruste vroue, hoor my stem! Sorgelose dogters, luister na my woord!
Isai Afr1953 32:10  'n Jaar en 'n paar dae — en julle sal sidder, sorgelose dogters! Want dit is gedaan met die druiwe-oes, daar sal geen insameling van vrugte kom nie.
Isai Afr1953 32:11  Bewe, geruste vroue! Sidder, sorgelose dogters! Trek julle uit, ontbloot julle en gord rougewade om julle lendene.
Isai Afr1953 32:12  Hulle slaan op die bors vanweë die begeerlike velde, vanweë die vrugbare wingerdstok;
Isai Afr1953 32:13  vanweë die akkers van my volk wat met dorings en distels opskiet, ja, vanweë al die huise van vreugde van die uitgelate stad.
Isai Afr1953 32:14  Want die paleis is verlate, die stadsgewoel is in eensaamheid verander; die Heuwel en die Wagtoring dien as spelonke vir ewig, 'n vreugde vir die wilde-esels, 'n weiveld vir die troppe vee —
Isai Afr1953 32:15  totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn 'n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir 'n bos gereken.
Isai Afr1953 32:16  En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord.
Isai Afr1953 32:17  En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid.
Isai Afr1953 32:18  En my volk sal woon in 'n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.
Isai Afr1953 32:19  Maar dit sal hael as die bos inmekaarstort en die stad wegsak in die laagte.
Isai Afr1953 32:20  Welgeluksalig is julle wat by alle waters saai, wat die voet van os en esel vry laat loop!
Chapter 33
Isai Afr1953 33:1  Wee jou, verwoester, wat self nie verwoes is nie, en troubreker teen wie nie troueloos gehandel is nie! As jy klaar is met verwoes, sal jy verwoes word; en as jy klaar is met troubreuk, sal hulle troueloos teen jou handel.
Isai Afr1953 33:2  HERE, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid!
Isai Afr1953 33:3  Vir die dawergeluid vlug die volke; vanweë u verheffing word die nasies verstrooi.
Isai Afr1953 33:4  Dan word julle buit weggeskraap soos sprinkane wegskraap; soos sprinkane hardloop, hardloop hulle daarop los.
Isai Afr1953 33:5  Die HERE is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid.
Isai Afr1953 33:6  En daar sal bestendigheid van jou tye wees, 'n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die HERE sal sy skat wees.
Isai Afr1953 33:7  Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik.
Isai Afr1953 33:8  Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie.
Isai Afr1953 33:9  Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron het geword soos 'n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare.
Isai Afr1953 33:10  Nou sal Ek opstaan, sê die HERE; nou sal Ek My verhef, nou sal Ek My oprig.
Isai Afr1953 33:11  Julle gaan swanger van strooi, julle sal stoppels baar; julle geblaas is 'n vuur wat julle sal verteer.
Isai Afr1953 33:12  Dan word die volke 'n kalkbrandery, afgekapte doringbosse wat met vuur verbrand word.
Isai Afr1953 33:13  Hoor, julle wat ver is, wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my mag!
Isai Afr1953 33:14  Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by 'n verterende vuur, wie van ons kan woon by 'n ewige gloed?
Isai Afr1953 33:15  Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie —
Isai Afr1953 33:16  hy sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis.
Isai Afr1953 33:17  Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou, dit sal 'n wyd uitgestrekte land sien.
Isai Afr1953 33:18  Jou hart sal die deurgestane verskrikking oordink en sê: Waar is hy wat getel het? Waar is hy wat geweeg het? Waar is hy wat die torings opgeskryf het?
Isai Afr1953 33:19  Jy sal die onbeskaamde volk nie meer sien nie, die volk met duister, onverstaanbare spraak, met onbegryplike hakkeltong.
Isai Afr1953 33:20  Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie.
Isai Afr1953 33:21  Maar daar sal die HERE vir ons heerlik wees; dit sal 'n plek van riviere wees, van breë strome; geen vloot van roeiskepe sal daarop vaar nie, en geen trotse skip sal daaroor gaan nie.
Isai Afr1953 33:22  Want die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hy sal ons verlos.
Isai Afr1953 33:23  Jou toue hang slap, hulle hou die voetstuk van hulle mas nie styf nie, hulle ontplooi nie die banier nie; dan word roofbuit verdeel in menigte, selfs die lammes maak buit.
Isai Afr1953 33:24  En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.
Chapter 34
Isai Afr1953 34:1  Kom nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom.
Isai Afr1953 34:2  Want die toorn van die HERE is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word.
Isai Afr1953 34:3  En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed.
Isai Afr1953 34:4  En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos 'n boek en al sy leërskare val af soos 'n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.
Isai Afr1953 34:5  Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word.
Isai Afr1953 34:6  Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het 'n slagoffer in Bosra en 'n groot slagting in die land Edom.
Isai Afr1953 34:7  Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet.
Isai Afr1953 34:8  Want die HERE hou 'n dag van wraak, 'n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.
Isai Afr1953 34:9  En sy strome sal in pik verander word en sy stof in swawel, en sy land sal brandende pik word.
Isai Afr1953 34:10  Dit sal snags of oordag nie uitgeblus word nie; vir ewig gaan sy rook op; van geslag tot geslag lê dit woes, vir altyd en ewig trek niemand daardeur nie.
Isai Afr1953 34:11  Maar die pelikaan en die krimpvarkie neem dit in besit, en die uil en die kraai woon daarin. En Hy sal die riglyn van woestheid daaroor span en die skietlood van vormloosheid.
Isai Afr1953 34:12  Sy edeles — daar sal hulle geen koninkryk meer uitroep nie, en met al sy vorste is dit gedaan.
Isai Afr1953 34:13  En sy paleise word begroei met dorings, brandnekels en distels sal in sy vestings wees. En dit sal 'n lêplek van jakkalse, 'n verblyf vir die volstruise wees.
Isai Afr1953 34:14  En boskatte kom wildehonde teë, en veldduiwels ontmoet mekaar; ook woon die naggees daar in vrede en vind 'n rusplek vir hom.
Isai Afr1953 34:15  Daar maak die pylslang sy nes en lê eiers en broei dit uit en koester haar kleintjies daar in die skaduwee; ook sal die kuikendiewe daar bymekaarkom, die een by die ander.
Isai Afr1953 34:16  Soek in die boek van die HERE en lees! Nie een van hierdie wesens ontbreek nie, die een mis die ander nie; want my mond — dié het dit beveel, en sy Gees — dié het hulle bymekaargebring.
Isai Afr1953 34:17  En Hy het vir hulle die lot gewerp, en sy hand het die land aan hulle met die meetsnoer uitgedeel; tot in ewigheid sal hulle dit besit, van geslag tot geslag daarin woon.
Chapter 35
Isai Afr1953 35:1  Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos 'n narsing;
Isai Afr1953 35:2  dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God.
Isai Afr1953 35:3  Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas.
Isai Afr1953 35:4  Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.
Isai Afr1953 35:5  Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word.
Isai Afr1953 35:6  Dan sal die lamme spring soos 'n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.
Isai Afr1953 35:7  En die gloeiende grond sal 'n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.
Isai Afr1953 35:8  En dáár sal 'n grootpad wees en 'n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel — selfs die dwase sal nie dwaal nie.
Isai Afr1953 35:9  Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel;
Isai Afr1953 35:10  en die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.
Chapter 36
Isai Afr1953 36:1  En in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.
Isai Afr1953 36:2  Toe stuur die koning van Assirië die rábsake uit Lagis na Jerusalem, na koning Hiskía met 'n swaar leër; en hy het gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld.
Isai Afr1953 36:3  Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, na hom toe uit.
Isai Afr1953 36:4  En die rábsake sê vir hulle: Sê tog aan Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië: Wat is dit vir 'n vertroue wat jy koester?
Isai Afr1953 36:5  Jy dink: Net 'n woord van die lippe is raad en dapperheid vir die oorlog. Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom?
Isai Afr1953 36:6  Kyk, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.
Isai Afr1953 36:7  Maar as jy vir my sê: Ons vertrou op die HERE onse God — is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te sê: Voor hierdie altaar moet julle buig?
Isai Afr1953 36:8  Nou dan, wed tog met my heer, die koning van Assirië, en ek sal jou twee duisend perde gee as jy vir jou ruiters daarop kan lewer.
Isai Afr1953 36:9  Hoe sal jy dan die aanval van 'n enkele goewerneur van my heer se geringste dienaars kan afslaan? Maar jy vertrou op Egipte vir strydwaens en perderuiters!
Isai Afr1953 36:10  Het ek dan nou sonder die HERE teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Die HERE het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit.
Isai Afr1953 36:11  Toe sê Éljakim en Sebna en Joa vir die rábsake: Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie.
Isai Afr1953 36:12  Maar die rábsake het gesê: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om hierdie woorde te spreek? Is dit nie na die manne wat op die muur sit, dat hulle hul eie drek kan eet en hul eie water kan drink saam met julle nie?
Isai Afr1953 36:13  Toe gaan die rábsake staan en roep hardop in die Joodse taal en sê: Hoor die woorde van die groot koning, die koning van Assirië!
Isai Afr1953 36:14  So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie kan red nie.
Isai Afr1953 36:15  En Hiskía moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red; hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.
Isai Afr1953 36:16  Luister nie na Hiskía nie; want so sê die koning van Assirië: Sluit met my vriendskap en trek uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink elkeen die water van sy put,
Isai Afr1953 36:17  totdat ek kom en julle meeneem na 'n land soos julle land, 'n land van koring en mos, 'n land van brood en wingerde.
Isai Afr1953 36:18  Laat Hiskía julle nie verlei nie deur te sê: Die HERE sal ons red! Het die gode van die nasies elkeen sy land gered uit die hand van die koning van Assirië?
Isai Afr1953 36:19  Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar die gode van Sefarváim? En het hulle miskien Samaría gered uit my hand?
Isai Afr1953 36:20  Wie is daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land gered het uit my hand, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?
Isai Afr1953 36:21  Maar hulle het stilgebly en hom niks geantwoord nie; want dit was die bevel van die koning: Julle moet hom nie antwoord nie.
Isai Afr1953 36:22  Toe het Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere by Hiskía gekom en hom die woorde van die rábsake te kenne gegee.
Chapter 37
Isai Afr1953 37:1  En toe koning Hiskía dit hoor, het hy sy klere geskeur en hom met 'n roukleed bedek en in die huis van die HERE gegaan.
Isai Afr1953 37:2  Daarna stuur hy Éljakim, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na die profeet Jesaja, die seun van Amos.
Isai Afr1953 37:3  En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is 'n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het tot by die geboorte gekom, maar daar is geen krag om te baar nie.
Isai Afr1953 37:4  Miskien sal die HERE u God die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom straf oor die woorde wat die HERE u God gehoor het; hef dan 'n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is.
Isai Afr1953 37:5  En toe die dienaars van koning Hiskía by Jesaja kom,
Isai Afr1953 37:6  sê Jesaja vir hulle: So moet julle jul heer antwoord: So spreek die HERE: Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie.
Isai Afr1953 37:7  Kyk, Ek sal 'n gees in hom gee, dat hy 'n gerug hoor en na sy land terugtrek; en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val.
Isai Afr1953 37:8  Daarop het die rábsake teruggegaan en die koning van Assirië aangetref terwyl hy besig was om teen Libna te veg; want hy het gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het.
Isai Afr1953 37:9  En toe hy van Tírhaka, die koning van Kus, hoor sê: Hy het uitgetrek om teen u te veg — toe hy dit hoor, stuur hy boodskappers na Hiskía met die opdrag:
Isai Afr1953 37:10  So moet julle aan Hiskía, die koning van Juda, sê: Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.
Isai Afr1953 37:11  Kyk, u het self gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen het deur dit met die banvloek te tref, en sou ú gered word?
Isai Afr1953 37:12  Het die gode van die nasies wat my vaders uitgeroei het, hulle gered — Gosan en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Telássar was?
Isai Afr1953 37:13  Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarváim, van Hena en Iwa?
Isai Afr1953 37:14  En toe Hiskía die brief uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die HERE; en Hiskía het dit uitgesprei voor die aangesig van die HERE,
Isai Afr1953 37:16  o HERE van die leërskare, God van Israel wat op die gérubs troon! U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak.
Isai Afr1953 37:17  o HERE, neig u oor en luister! HERE, open u oë en kyk en hoor al die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad!
Isai Afr1953 37:18  Waarlik, HERE, die konings van Assirië het al die lande en hulle gebied verwoes
Isai Afr1953 37:19  en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip — daarom kon hulle dié vernietig.
Isai Afr1953 37:20  HERE onse God, verlos ons dan nou uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, dit alleen is.
Isai Afr1953 37:21  Toe laat Jesaja, die seun van Amos, vir Hiskía weet: So spreek die HERE, die God van Israel: Wat jy tot My gebid het aangaande Sánherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.
Isai Afr1953 37:22  Dit is die woord wat die HERE oor hom gespreek het: Die jonkvrou, die dogter van Sion, verag jou, bespot jou; agter jou skud die dogter van Jerusalem die hoof.
Isai Afr1953 37:23  Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!
Isai Afr1953 37:24  Deur jou dienaars het jy die HERE gesmaad en gesê: Met die menigte van my strydwaens het ek geklim op die hoogte van die berge, die uithoeke van die Líbanon, en ek wil sy statige seders, die keur van sy sipresse, omkap en deurdring tot sy uiterste hoogte, sy bos wat is soos 'n tuin.
Isai Afr1953 37:25  Ék het gegrawe en water gedrink en laat met die sool van my voete al die strome van Egipte opdroog.
Isai Afr1953 37:26  Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het Ek dit berei, van die dae van die voortyd af dit beskik. Nou het Ek dit laat kom, dat jy versterkte stede tot puinhope kom verwoes.
Isai Afr1953 37:27  En hulle inwoners was magteloos, het verskrik en beskaamd gestaan; hulle was soos plante van die veld en groen grassies, soos gras van die dakke en 'n koringland voordat dit are skiet.
Isai Afr1953 37:28  Maar Ek ken jou sit en jou uitgang en jou ingang en hoe jy teen My raas.
Isai Afr1953 37:29  Omdat jy teen My raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het.
Isai Afr1953 37:30  En dit sal vir jou die teken wees: Eet hierdie jaar wat vanself opslaan, en in die tweede jaar wat dan nog opkom; maar in die derde jaar — saai en oes, en plant wingerde en eet die vrugte daarvan.
Isai Afr1953 37:31  Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe.
Isai Afr1953 37:32  Want uit Jerusalem sal 'n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
Isai Afr1953 37:33  Daarom, so sê die HERE aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet nie en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opwerp nie.
Isai Afr1953 37:34  Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan; maar in hierdie stad sal hy nie inkom nie, spreek die HERE.
Isai Afr1953 37:35  En Ek sal hierdie stad beskut om dit te verlos, om My en om my kneg Dawid ontwil.
Isai Afr1953 37:36  Toe het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van Assirië honderd vyf en tagtig duisend verslaan. En toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame.
Isai Afr1953 37:37  En Sánherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Ninevé gebly.
Isai Afr1953 37:38  En toe hy hom neerbuig in die tempel van sy god Nisrog, het sy seuns Adramméleg en Saréser hom met die swaard neergeslaan. Maar hulle het ontvlug na die land Ararat; en sy seun Esar-Haddon het koning geword in sy plek.
Chapter 38
Isai Afr1953 38:1  In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.
Isai Afr1953 38:2  Toe draai Hiskía sy gesig na die muur, en hy het tot die HERE gebid
Isai Afr1953 38:3  en gesê: Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met 'n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween.
Isai Afr1953 38:4  Toe het die woord van die HERE tot Jesaja gekom en gesê:
Isai Afr1953 38:5  Gaan sê vir Hiskía: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg,
Isai Afr1953 38:6  en Ek sal jou uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad; en Ek sal hierdie stad beskut.
Isai Afr1953 38:7  En dit sal vir jou die teken wees van die kant van die HERE, dat die HERE hierdie woord wat Hy gespreek het, sal volbring:
Isai Afr1953 38:8  Kyk, Ek sal die skaduwee op die grade wat dit gedaal het deur die son op die grade van Agas se sonnewyser, laat teruggaan, tien grade agteruit. En die son het tien grade teruggegaan op die grade wat dit gedaal het.
Isai Afr1953 38:9  Geskrif van Hiskía, die koning van Juda, toe hy siek was en van sy siekte gesond geword het.
Isai Afr1953 38:10  Ek het gesê: In die bloei van my dae moet ek heengaan in die poorte van die doderyk; ek word beroof van my orige jare.
Isai Afr1953 38:11  Ek het gesê: Ek sal die HERE nie sien nie, die HERE, in die land van die lewendes; ek sal die mense nie meer aanskou onder die inwoners van die wêreld nie.
Isai Afr1953 38:12  My woning is opgebreek en van my af weggevoer soos 'n herderstent; ek het my lewe opgerol soos 'n wewer sy weefsel; Hy sny my van die wewersbalk af; van dag tot nag gee U my prys.
Isai Afr1953 38:13  Bring ek myself tot bedaring tot die môre — soos 'n leeu só verbreek Hy al my beendere; van dag tot nag gee U my prys.
Isai Afr1953 38:14  Soos 'n swaweltjie of kraanvoël, so het ek gepiep; ek het gekir soos 'n duif; my oë het dof gekyk na bo: HERE, ek is benoud, wees U my Borg!
Isai Afr1953 38:15  Wat sal ek spreek, aangesien Hy my dit beloof het en Hy self dit gedoen het? Ek sal soetjies voortgaan al my jare vanweë die bitterheid van my siel.
Isai Afr1953 38:16  Here, by hierdie dinge leef 'n mens, en geheel en al is daarin die lewe van my gees: laat my dan gesond word en laat my lewe!
Isai Afr1953 38:17  Kyk, tot heil het die bitter, ja, bitter lyde my geword; maar U, U het my siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging. Want U het al my sondes agter u rug gewerp.
Isai Afr1953 38:18  Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie.
Isai Afr1953 38:19  Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag; die vader maak aan die kinders u trou bekend.
Isai Afr1953 38:20  Die HERE staan gereed om my te verlos; daarom sal ons op my snaarinstrumente speel al die dae van ons lewe, by die huis van die HERE.
Isai Afr1953 38:21  En Jesaja het gesê: Laat hulle 'n vyekoek neem en dit op die sweer sit, dat hy gesond kan word.
Isai Afr1953 38:22  En Hiskía het gesê: Wat is die teken dat ek na die huis van die HERE sal opgaan?
Chapter 39
Isai Afr1953 39:1  In dié tyd het Meródag Báladan, die seun van Báladan, die koning van Babel, 'n brief en 'n geskenk aan Hiskía gestuur; want hy het gehoor dat hy siek was en gesond geword het.
Isai Afr1953 39:2  En Hiskía was bly oor hulle en het hulle sy skathuis laat sien, die silwer en die goud en die speserye en die kosbare olie en sy hele wapenhuis en alles wat te vinde was in sy skatkamers; daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hiskía hulle nie laat sien het nie.
Isai Afr1953 39:3  Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskía en sê vir hom: Wat het hierdie manne gesê en waarvandaan het hulle na u gekom? En Hiskía antwoord: Uit 'n ver land het hulle na my gekom, uit Babel.
Isai Afr1953 39:4  En hy sê: Wat het hulle in u huis gesien? En Hiskía antwoord: Hulle het alles gesien wat in my huis is; daar is niks in my skatkamers wat ek hulle nie laat sien het nie.
Isai Afr1953 39:5  Toe sê Jesaja vir Hiskía: Hoor die woord van die HERE van die leërskare:
Isai Afr1953 39:6  Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die HERE.
Isai Afr1953 39:7  En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel.
Isai Afr1953 39:8  Toe sê Hiskía vir Jesaja: Die woord van die HERE wat u gespreek het, is goed. Ook sê hy: Daar sal tog vrede en bestendigheid wees in my dae!
Chapter 40
Isai Afr1953 40:2  Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.
Isai Afr1953 40:3  'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God!
Isai Afr1953 40:4  Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word.
Isai Afr1953 40:5  En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.
Isai Afr1953 40:6  'n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos 'n blom van die veld.
Isai Afr1953 40:7  Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!
Isai Afr1953 40:8  Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.
Isai Afr1953 40:9  o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op 'n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!
Isai Afr1953 40:10  Kyk, die Here HERE sal kom as 'n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.
Isai Afr1953 40:11  Hy sal sy kudde laat wei soos 'n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
Isai Afr1953 40:12  Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal?
Isai Afr1953 40:13  Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?
Isai Afr1953 40:14  Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?
Isai Afr1953 40:15  Kyk, die nasies is soos 'n druppel aan die emmer, en soos 'n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos 'n stoffie!
Isai Afr1953 40:16  En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie.
Isai Afr1953 40:17  Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.
Isai Afr1953 40:18  By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?
Isai Afr1953 40:19  Die ambagsman giet 'n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings.
Isai Afr1953 40:20  Wie te arm is vir so 'n offergawe, kies 'n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom 'n kunsvaardige ambagsman om 'n beeld op te rig wat nie wankel nie.
Isai Afr1953 40:21  Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?
Isai Afr1953 40:22  Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon.
Isai Afr1953 40:23  Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid;
Isai Afr1953 40:24  skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos 'n stoppel.
Isai Afr1953 40:25  By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.
Isai Afr1953 40:26  Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.
Isai Afr1953 40:27  Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby?
Isai Afr1953 40:28  Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.
Isai Afr1953 40:29  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
Isai Afr1953 40:30  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;
Isai Afr1953 40:31  maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
Chapter 41
Isai Afr1953 41:1  Luister in stilte na My, o eilande, en laat die volke nuwe krag kry; laat hulle aankom, laat hulle dan spreek; laat ons saam na die gereg gaan.
Isai Afr1953 41:2  Wie het hom uit die Ooste verwek vir wie die oorwinning tegemoet tree by elke voetstap? Wie gee nasies aan hom oor en laat hom konings vertrap, wie se swaard hulle maak soos stof, wie se boog hulle maak soos 'n dwarrelende stoppel,
Isai Afr1953 41:3  dat hy hulle agtervolg, ongehinderd verbytrek, die pad met sy voete nie betree nie?
Isai Afr1953 41:4  Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.
Isai Afr1953 41:5  Die eilande het dit gesien en gevrees, die eindes van die aarde het gebewe; hulle het nader gekom en toegestroom.
Isai Afr1953 41:6  Die een het die ander gehelp en aan sy metgesel gesê: Wees sterk!
Isai Afr1953 41:7  En die ambagsman het die goudsmid versterk, hy wat met die hamer plat slaan, hom wat op die aambeeld slaan, terwyl hy van die soldeersel sê: Dit is goed! Daarna slaan hy dit vas met spykers, dat dit nie wankel nie.
Isai Afr1953 41:8  Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend,
Isai Afr1953 41:9  jy, wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep het, en Ek het aan jou gesê: Jy is my kneg; jou het Ek uitverkies en jou nie verwerp nie.
Isai Afr1953 41:10  Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Isai Afr1953 41:11  Kyk, hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom.
Isai Afr1953 41:12  Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie — die manne wat met jou twis; hulle sal word soos niks en soos 'n nietige ding — die manne wat teen jou oorlog voer.
Isai Afr1953 41:13  Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou.
Isai Afr1953 41:14  Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die HERE, en jou Losser is die Heilige van Israel.
Isai Afr1953 41:15  Kyk, Ek maak jou tot 'n skerp, nuwe dorsslee wat baie tande het: jy sal berge dors en fyn maal, en heuwels maak soos kaf.
Isai Afr1953 41:16  Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegneem en die storm hulle verstrooi; maar jy sal juig in die HERE, jou beroem op die Heilige van Israel.
Isai Afr1953 41:17  Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die HERE, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.
Isai Afr1953 41:18  Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn 'n waterplas maak en die dor land waterbronne.
Isai Afr1953 41:19  Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde-olyfboom; Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal;
Isai Afr1953 41:20  sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand van die HERE dit gedoen het en die Heilige van Israel dit geskape het.
Isai Afr1953 41:21  Bring julle regsaak voor, sê die HERE; bring julle bewysgronde aan, sê die Koning van Jakob.
Isai Afr1953 41:22  Laat hulle aanbring en ons te kenne gee wat gaan gebeur! Gee te kenne die vorige dinge, hoedanig hulle was, sodat ons daarop kan ag gee en van die afloop daarvan kan kennis neem. Of laat ons die toekomende dinge hoor!
Isai Afr1953 41:23  Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is; ja, doen goed of doen kwaad, dat ons verbaas kan staan en dit saam kan sien.
Isai Afr1953 41:24  Kyk, julle is niks, en julle werk is niks; 'n gruwel is hy wat julle uitkies.
Isai Afr1953 41:25  Ek het uit die Noorde een verwek, en hy het gekom; van die opgang van die son af een wat my Naam sal aanroep; en hy kom oor die owerstes soos oor modder, en soos 'n pottebakker die klei trap.
Isai Afr1953 41:26  Wie het dit te kenne gegee van die begin af, dat ons daar kennis van kan neem; of vantevore al, dat ons kan sê: Hy het reg? Ja, daar is niemand wat dit te kenne gee, ja, niemand wat dit laat hoor, ja, niemand wat julle woorde hoor nie.
Isai Afr1953 41:27  As die Eerste sê Ek aan Sion: Hier, hier is dit! En aan Jerusalem gee Ek 'n verkondiger van goeie boodskap.
Isai Afr1953 41:28  En Ek kyk rond, maar daar is niemand nie; en onder hulle, maar daar is geen raadgewer, dat Ek hulle kan vra en hulle antwoord kan gee nie.
Isai Afr1953 41:29  Kyk, hulle is almal niks, hulle werke is niks, wind en nietigheid is hulle gegote beelde.
Chapter 42
Isai Afr1953 42:1  Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.
Isai Afr1953 42:2  Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie.
Isai Afr1953 42:3  Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.
Isai Afr1953 42:4  Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer.
Isai Afr1953 42:5  So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel:
Isai Afr1953 42:6  Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, as 'n lig van die nasies,
Isai Afr1953 42:7  om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.
Isai Afr1953 42:8  Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.
Isai Afr1953 42:9  Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor.
Isai Afr1953 42:10  Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af — julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.
Isai Afr1953 42:11  Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu!
Isai Afr1953 42:12  Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!
Isai Afr1953 42:13  Die HERE sal uittrek soos 'n held; Hy sal die ywer opwek soos 'n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar.
Isai Afr1953 42:14  Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd.
Isai Afr1953 42:15  Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog.
Isai Afr1953 42:16  En Ek sal blindes lei op 'n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.
Isai Afr1953 42:17  Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode — dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.
Isai Afr1953 42:18  Hoor, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien.
Isai Afr1953 42:19  Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die HERE?
Isai Afr1953 42:20  Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie.
Isai Afr1953 42:21  Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak.
Isai Afr1953 42:22  En tog is dit 'n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het 'n buit geword sonder dat iemand red, 'n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug!
Isai Afr1953 42:23  Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms?
Isai Afr1953 42:24  Wie het Jakob oorgegee as 'n plundering en Israel aan die berowers? Is dit nie die HERE teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie.
Isai Afr1953 42:25  Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit nie bemerk nie; en dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.
Chapter 43
Isai Afr1953 43:1  Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!
Isai Afr1953 43:2  As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
Isai Afr1953 43:3  Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
Isai Afr1953 43:4  Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.
Isai Afr1953 43:5  Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af.
Isai Afr1953 43:6  Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af,
Isai Afr1953 43:7  elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.
Isai Afr1953 43:8  Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.
Isai Afr1953 43:9  Al die nasies het saam vergader, en die volke is versamel. Wie onder hulle kan sulke dinge verkondig? En laat hulle ons die vorige dinge bekend maak! Laat hulle hul getuies bring, dat hulle in die gelyk gestel kan word; en laat hulle hoor en sê: Dit is die waarheid!
Isai Afr1953 43:10  Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is — voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.
Isai Afr1953 43:11  Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.
Isai Afr1953 43:12  Ék het verkondig en verlos en dit laat hoor, en daar was geen ander god onder julle nie; en julle is my getuies, spreek die HERE, en Ek is God.
Isai Afr1953 43:13  Ook van vandag af is Ek dit, en niemand red uit my hand nie; Ek werk, en wie kan dit keer?
Isai Afr1953 43:14  So sê die HERE, jou Losser, die Heilige van Israel: Om julle ontwil het Ek na Babel gestuur, en Ek sal hulle almal as vlugtelinge laat afdaal, naamlik die Chaldeërs, in die skepe waarop hulle gejuig het.
Isai Afr1953 43:15  Ek is die HERE, julle Heilige; die Skepper van Israel, julle Koning.
Isai Afr1953 43:16  So sê die HERE wat in die see 'n weg en in die sterk waters 'n pad gemaak het,
Isai Afr1953 43:17  wat waens en perde, leërmag en held laat uittrek het; tesame lê hulle, hulle sal nie opstaan nie; hulle is uitgeblus, soos 'n lamppit uitgedoof.
Isai Afr1953 43:18  Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.
Isai Afr1953 43:19  Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.
Isai Afr1953 43:20  Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.
Isai Afr1953 43:21  Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.
Isai Afr1953 43:22  Nogtans het jy My nie aangeroep, o Jakob, dat jy jou vir My sou vermoei het nie, o Israel!
Isai Afr1953 43:23  Jy het vir My nie gebring die kleinvee van jou brandoffers nie, en met jou slagoffers het jy My nie geëer nie; Ek het jou geen oorlas aangedoen met spysoffers en jou nie vermoei met wierook nie.
Isai Afr1953 43:24  Jy het vir My geen kalmoes met geld gekoop en met die vet van jou slagoffers My nie verkwik nie; maar jy het My oorlas aangedoen met jou sondes, jy het My vermoei met jou ongeregtighede.
Isai Afr1953 43:25  Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.
Isai Afr1953 43:26  Maak My indagtig; laat ons teen mekaar pleit; vertel jy, dat jy in die gelyk gestel kan word.
Isai Afr1953 43:27  Jou eerste vader het gesondig, en jou tolke het teen My oortree.
Isai Afr1953 43:28  So het Ek dan heilige vorste ontheilig en Jakob aan die banvloek oorgegee en Israel aan beskimpinge.
Chapter 44
Isai Afr1953 44:1  Maar luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het!
Isai Afr1953 44:2  So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het!
Isai Afr1953 44:3  Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.
Isai Afr1953 44:4  En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope.
Isai Afr1953 44:5  Die een sal sê: Ek behoort aan die HERE; en die ander sal die naam van Jakob uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die HERE, en hom met die erenaam Israel noem.
Isai Afr1953 44:6  So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.
Isai Afr1953 44:7  En wie roep soos Ek — laat hom dit dan te kenne gee en aan My voorlê — vandat Ek die volk van die ou tyd gegrond het? En laat hulle die toekomstige dinge en wat sal gebeur, te kenne gee.
Isai Afr1953 44:8  Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar 'n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.
Isai Afr1953 44:9  Hulle wat gesnede beelde maak, is almal nietigheid, en hulle lieflinge bring geen voordeel nie; en hulle getuies — dié sien niks en weet niks, sodat hulle beskaamd staan.
Isai Afr1953 44:10  Wie maak 'n god en giet 'n beeld wat geen voordeel aanbring nie?
Isai Afr1953 44:11  Kyk, al sy aanhangers sal beskaamd staan; en die ambagsmanne is uit die mense! Laat hulle almal bymekaarkom, gaan staan, verskrik wees, tesame beskaamd staan!
Isai Afr1953 44:12  Die ystersmid het 'n byl en werk in die gloed; en hy maak hom met hamers en bewerk hom met sy sterk arm; daarby word hy honger en het geen krag nie; drink hy geen water nie, dan word hy moeg.
Isai Afr1953 44:13  Die timmerman span 'n lyn; hy trek hom af met 'n potlood; hy bewerk hom met skawe en teken hom met 'n passer en maak hom na die beeltenis van 'n man, na die skoonheid van 'n mens, om in 'n huis te woon.
Isai Afr1953 44:14  Een gaan sederbome afkap, en hy neem 'n steeneik of 'n eikeboom en laat een vir hom opgroei onder die bome van die bos. Hy het 'n pynboom geplant, en die reën het dit grootgemaak.
Isai Afr1953 44:15  Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar 'n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar 'n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer.
Isai Afr1953 44:16  Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê: Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien!
Isai Afr1953 44:17  En van wat oor is, maak hy 'n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god!
Isai Afr1953 44:18  Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie;
Isai Afr1953 44:19  en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan 'n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor 'n stuk hout?
Isai Afr1953 44:20  Hy wat hom besig hou met as, 'n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?
Isai Afr1953 44:21  Dink aan hierdie dinge, o Jakob en Israel! Want jy is my kneg; Ek het jou geformeer; jy is my kneg, Israel! Jy sal deur My nie vergeet word nie.
Isai Afr1953 44:22  Ek delg jou oortredinge uit soos 'n newel en jou sondes soos 'n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.
Isai Afr1953 44:23  Jubel, o hemele, want die HERE het dit gedoen. Juig, dieptes van die aarde! Breek uit in gejubel, o berge, bosse en al die bome daarin! Want die HERE het Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel.
Isai Afr1953 44:24  So sê die Here, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af: Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei — wie was met My? —
Isai Afr1953 44:25  wat die tekens van die leuenprofete vernietig en die waarsêers tot dwase maak; wat die wyse agteruit laat wyk en hulle kennis domheid maak;
Isai Afr1953 44:26  wat die woord van sy kneg vervul en die voorsegging van sy boodskappers volbring; wat van Jerusalem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Juda: Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig;
Isai Afr1953 44:27  wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog;
Isai Afr1953 44:28  wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.
Chapter 45
Isai Afr1953 45:1  So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie:
Isai Afr1953 45:2  Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan.
Isai Afr1953 45:3  En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep, die God van Israel;
Isai Afr1953 45:4  ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou 'n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie.
Isai Afr1953 45:5  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,
Isai Afr1953 45:6  sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;
Isai Afr1953 45:7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Isai Afr1953 45:8  Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid; laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam uitspruit. Ek, die HERE, het dit geskape.
Isai Afr1953 45:9  Wee hom wat met sy Formeerder twis — 'n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie!
Isai Afr1953 45:10  Wee hom wat vir die vader sê: Waarom verwek u? en vir die vrou: Waarom het u weë?
Isai Afr1953 45:11  So sê die HERE, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!
Isai Afr1953 45:12  Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek — my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee.
Isai Afr1953 45:13  Ek het hom verwek in geregtigheid, en al sy weë sal Ek gelykmaak; hy sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk, sê die HERE van die leërskare.
Isai Afr1953 45:14  So sê die HERE: Die opbrings van Egipte en die handelswins van Kus en die Sabeërs, manne van hoë gestalte, sal na jou toe oorkom en joue wees; hulle sal agter jou loop; in kettings sal hulle oortrek en hulle voor jou buig; hulle sal jou smeek en sê: Waarlik, God is in jou; en anders is daar geen, geen God meer nie!
Isai Afr1953 45:15  Waarlik, U is 'n God wat U verborge hou, die God van Israel, die Heiland.
Isai Afr1953 45:16  Hulle het beskaamd gestaan en ook in die skande gekom, hulle almal; hulle het tesame met skande heengegaan — die wat afgode maak.
Isai Afr1953 45:17  Israel word verlos deur die HERE met 'n ewige verlossing; julle sal nie beskaamd staan of in die skande kom tot in alle ewigheid nie.
Isai Afr1953 45:18  Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het — Hy is God! — wat die aarde geformeer en dit gemaak het — Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word — Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.
Isai Afr1953 45:19  Ek het in die geheim nie gespreek nie — op 'n plek van die donker land; Ek het aan die geslag van Jakob nie gesê: Soek My tevergeefs nie. Ek is die HERE wat geregtigheid spreek, wat regte dinge verkondig.
Isai Afr1953 45:20  Versamel julle en kom, kom almal nader, julle wat uit die nasies ontvlug het! Hulle weet niks, wat die hout van hul gesnede beeld dra en 'n god aanbid wat nie kan verlos nie.
Isai Afr1953 45:21  Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die HERE, nie? En buiten My is daar geen ander God nie: 'n regverdige en reddende God is daar buiten My nie.
Isai Afr1953 45:22  Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie.
Isai Afr1953 45:23  Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, 'n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.
Isai Afr1953 45:24  Hulle sal van My sê: Alleen in die HERE is volle geregtigheid en sterkte; na Hom sal hulle kom; maar hulle almal sal beskaamd staan wat op Hom toornig is.
Isai Afr1953 45:25  In die HERE sal geregverdig word en hulle beroem die hele geslag van Israel.
Chapter 46
Isai Afr1953 46:1  Bel het inmekaargesak, Nebo staan krom; hulle afgode is vir die diere en die vee; beelde wat julle rondgedra het, is opgelaai, 'n vrag vir die vermoeide diere.
Isai Afr1953 46:2  Saam staan hulle krom, inmekaargesak; hulle kon die vrag nie red nie, maar het self in gevangenskap gegaan.
Isai Afr1953 46:3  Luister na My, o huis van Jakob en die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat deur My gedra is van die moederskoot af, opgeneem is van die geboorte af;
Isai Afr1953 46:4  en tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red.
Isai Afr1953 46:5  By wie wil julle My vergelyk en My net so maak en My gelykstel, dat ons eenders kan wees?
Isai Afr1953 46:6  Hulle wat goud uit die geldsak skud en silwer afweeg met die weegskaal, huur 'n goudsmid, en hy maak daar 'n god van; hulle kniel neer, ook buig hulle.
Isai Afr1953 46:7  Hulle hef hom op die skouer; hulle dra hom en sit hom op sy plek neer. Daar staan hy! Hy wyk nie van sy plek nie; ook al roep iemand hom, hy antwoord nie; hy verlos hom nie uit sy benoudheid nie.
Isai Afr1953 46:8  Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges!
Isai Afr1953 46:9  Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;
Isai Afr1953 46:10  wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
Isai Afr1953 46:11  wat 'n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit 'n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen.
Isai Afr1953 46:12  Luister na My, julle wat hard is van hart, julle wat ver is van die geregtigheid!
Isai Afr1953 46:13  Ek bring my geregtigheid naby; dit is nie ver nie, en my heil sal nie vertoef nie; en Ek gee heil in Sion, aan Israel my heerlikheid.
Chapter 47
Isai Afr1953 47:1  Kom af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel! Sit op die grond sonder troon, dogter van die Chaldeërs! Want jy sal nie langer genoem word die vertroetelde en verwénde nie.
Isai Afr1953 47:2  Neem die handmeul en maal meel; slaan jou sluier op, tel die kleed op, ontbloot die been, trek deur die riviere!
Isai Afr1953 47:3  Laat jou skaamte ontbloot word, ja, jou skande gesien word! Ek sal wraak neem en geen mens verskoon nie.
Isai Afr1953 47:4  Ons Verlosser — sy Naam is HERE van die leërskare, die Heilige van Israel.
Isai Afr1953 47:5  Sit doodstil, en gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! want jy sal nie langer genoem word gebiedster van die koninkryke nie.
Isai Afr1953 47:6  Ek was toornig op my volk, Ek het my erfdeel ontheilig en hulle in jou hand oorgegee: jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie, op die grysaard het jy jou juk baie swaar laat druk
Isai Afr1953 47:7  en gesê: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie.
Isai Afr1953 47:8  Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie.
Isai Afr1953 47:9  Hierdie twee dinge sal dan in 'n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe.
Isai Afr1953 47:10  En jy het op jou boosheid vertrou, jy het gesê: Niemand sien my nie! Jou wysheid en jou kennis het jou verlei, sodat jy in jou hart gesê het: Ek is dit, en niemand anders nie!
Isai Afr1953 47:11  Daarom oorval 'n onheil jou wat jy nie sal weet om te besweer nie; en 'n onheil val op jou wat jy nie kan versoen nie, en skielik oorval jou 'n verwoesting sonder dat jy dit weet.
Isai Afr1953 47:12  Tree tog op met jou besweringe en met die menigte van jou towerye waarmee jy jou vermoei het van jou jeug af; miskien kan jy iets uitrig, miskien kan jy skrik aanjaag!
Isai Afr1953 47:13  Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en jou red — die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom.
Isai Afr1953 47:14  Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie — dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie!
Isai Afr1953 47:15  Dit het jy aan hulle — jou koopmans — met wie jy jou vermoei het van jou jeug af; elkeen dwaal sy eie koers; niemand is daar wat jou red nie.
Chapter 48
Isai Afr1953 48:1  Hoor dit, huis van Jakob wat julleself noem met die naam van Israel en uit die waters van Juda voortgekom het, wat sweer by die Naam van die HERE en die God van Israel roem, maar nie in waarheid of in geregtigheid nie —
Isai Afr1953 48:2  want hulle noem hul na die heilige stad en steun op die God van Israel, HERE van die leërskare is sy Naam.
Isai Afr1953 48:3  Die vorige dinge het Ek lankal verkondig, en uit my mond het dit uitgegaan, en Ek het dit laat hoor; skielik het Ek dit volbring, en dit het gekom.
Isai Afr1953 48:4  Omdat Ek geweet het dat jy halsstarrig is, en jou nek 'n ystersening is, en jou voorhoof koper,
Isai Afr1953 48:5  daarom het Ek jou dit lank tevore verkondig; voordat dit gekom het, het Ek jou dit laat hoor, dat jy nie sou sê: My afgod het dit gedoen, of my gesnede beeld of my gegote beeld het dit beveel nie.
Isai Afr1953 48:6  Jy het dit gehoor — aanskou dit alles! Sal júlle dit dan nie verkondig nie? Van nou af laat Ek jou nuwe dinge hoor en geheime wat jy nie geweet het nie.
Isai Afr1953 48:7  Nou is hulle geskape en nie tevore nie; en voor vandag het jy niks daarvan gehoor nie, dat jy nie sou sê: Kyk, ek het dit geweet nie!
Isai Afr1953 48:8  Ja, jy het dit nie gehoor nie, ook het jy dit nie geweet, ook het jou oor tevore nie daarvoor oopgegaan nie; want Ek het geweet dat jy baie troueloos handel, en dat jy van die moederskoot af 'n oortreder genoem is.
Isai Afr1953 48:9  Om my Naam ontwil vertraag Ek my toorn, en om my roem ontwil bedwing Ek My jou ten goede, om jou nie uit te roei nie.
Isai Afr1953 48:10  Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer nie; Ek het jou beproef in die smeltkroes van ellende.
Isai Afr1953 48:11  Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen — want ag, hoe is my Naam ontheilig! — en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.
Isai Afr1953 48:12  Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste.
Isai Afr1953 48:13  Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.
Isai Afr1953 48:14  Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy vir wie die HERE liefhet, sal sy welbehae voltrek aan Babel, en sy mag aan die Chaldeërs.
Isai Afr1953 48:15  Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg sal hy voorspoedig wees.
Isai Afr1953 48:16  Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here HERE my met sy Gees gestuur.
Isai Afr1953 48:17  So sê die HERE, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.
Isai Afr1953 48:18  Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos 'n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see;
Isai Afr1953 48:19  dan sou jou nakomelinge gewees het soos die sand, en die wat uit jou liggaam voortkom, soos die korreltjies daarvan; sy naam sou nie uitgeroei of verdelg word voor my aangesig nie!
Isai Afr1953 48:20  Gaan weg uit Babel, vlug weg van die Chaldeërs! Verkondig met jubelklank, laat dit hoor, bring dit uit tot by die einde van die aarde! Sê: Die HERE het sy kneg Jakob verlos;
Isai Afr1953 48:21  en hulle het geen dors gehad nie, in die woesteny het Hy hulle gelei; Hy het water uit die rots vir hulle laat stroom en die rots geklowe, sodat die waters weggevloei het.
Chapter 49
Isai Afr1953 49:1  Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die HERE het My geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem.
Isai Afr1953 49:2  En Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My 'n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek;
Isai Afr1953 49:3  en Hy het vir My gesê: Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik.
Isai Afr1953 49:4  Maar Ék het gesê: Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer! Nogtans is my reg by die HERE, en my loon is by my God.
Isai Afr1953 49:5  En nou sê die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word — en Ek word geëer in die oë van die HERE, en my God is my sterkte —
Isai Afr1953 49:6  Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.
Isai Afr1953 49:7  So sê die HERE, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat 'n afsku is by die volk, 'n Kneg van die heersers: Konings sal dit sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die HERE wat getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.
Isai Afr1953 49:8  So sê die HERE: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe;
Isai Afr1953 49:9  om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees.
Isai Afr1953 49:10  Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.
Isai Afr1953 49:11  En Ek sal al my berge tot 'n weg maak, en my grootpaaie sal opgevul wees.
Isai Afr1953 49:12  Kyk, hulle hiér kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete.
Isai Afr1953 49:13  Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die HERE het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges.
Isai Afr1953 49:14  Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!
Isai Afr1953 49:15  Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!
Isai Afr1953 49:16  Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.
Isai Afr1953 49:17  Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af wegtrek.
Isai Afr1953 49:18  Slaan jou oë rondom op en kyk: hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe! So waar as Ek leef, spreek die HERE, sekerlik sal jy hulle almal aansit soos 'n versiersel, hulle ombind soos 'n bruid.
Isai Afr1953 49:19  Want jou puinhope en jou verwoeste plekke en jou verwoeste land — sekerlik, nou sal jy te nou wees vir die inwoners, en die wat jou verslind het, is ver weg!
Isai Afr1953 49:20  Nog sal die kinders waarvan jy beroof is, voor jou ore sê: Die plek is te nou vir my; maak vir my plek, dat ek kan woon!
Isai Afr1953 49:21  Dan sal jy in jou hart sê: Wie het vir my hierdie kinders gebaar, aangesien ek kinderloos en onvrugbaar was, verban en verstote? En wie het hulle grootgemaak? Kyk, ek het toe alleen oorgebly; hierdie kinders — waar was húlle?
Isai Afr1953 49:22  So sê die Here HERE: Kyk, Ek sal my hand ophef na die nasies en my banier opsteek na die volke; dan sal hulle jou seuns aan die boesem bring, en jou dogters sal op die skouer gedra word;
Isai Afr1953 49:23  en konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders; hulle sal voor jou neerbuig met die aangesig na die aarde toe en die stof van jou voete lek; en jy sal weet dat Ek die HERE is, dat hulle nie beskaamd staan wat My verwag nie.
Isai Afr1953 49:24  Sal van 'n held die buit afgeneem word? Of sal die gevangenes van 'n regverdige ontvlug?
Isai Afr1953 49:25  Waarlik, so sê die HERE: Ja, die gevangenes van die held sal afgeneem word, en die buit van die tiran sal ontvlug; en jou bestryder sal Ék bestry en jou kinders sal Ek verlos.
Isai Afr1953 49:26  En Ek sal jou verdrukkers hulle eie vlees laat eet, en van hulle eie bloed sal hulle dronk word soos van mos. Dan sal alle vlees gewaar word dat Ek, die HERE, jou Heiland is, en jou Verlosser die Magtige van Jakob.
Chapter 50
Isai Afr1953 50:1  So sê die HERE: Waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is julle moeder verstoot.
Isai Afr1953 50:2  Waarom het Ek gekom en daar was niemand nie, het Ek geroep en niemand geantwoord nie? Is my hand werklik te kort om te verlos, of is daar in my geen krag om uit te red nie? Kyk, deur my dreiging maak Ek die see droog; Ek maak die riviere tot 'n woestyn, sodat hulle visse stink, omdat daar geen water is nie, en hulle sterwe van dors.
Isai Afr1953 50:3  Ek beklee die hemel met swartheid en bedek dit met 'n roukleed.
Isai Afr1953 50:4  Die Here HERE het My 'n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.
Isai Afr1953 50:5  Die Here HERE het my oor geopen, en Ek was nie wederstrewig nie; Ek het nie agteruitgewyk nie.
Isai Afr1953 50:6  Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie.
Isai Afr1953 50:7  Maar die Here HERE help My; daarom kom Ek nie in die skande nie; daarom het Ek my aangesig gemaak soos 'n keisteen, en Ek weet dat Ek nie beskaamd sal staan nie.
Isai Afr1953 50:8  Hy is naby wat My reg verskaf. Wie wil met My 'n regsaak begin? — laat ons saam optree! Wie is my teëparty? — laat hom nader kom na My toe!
Isai Afr1953 50:9  Kyk, die Here HERE help My: wie is dit wat My kan veroordeel? Kyk, hulle sal almal verslyt soos 'n kleed; die mot sal hulle eet.
Isai Afr1953 50:10  Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God!
Isai Afr1953 50:11  Kyk, julle almal wat 'n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord — wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.
Chapter 51
Isai Afr1953 51:1  Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is.
Isai Afr1953 51:2  Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig.
Isai Afr1953 51:3  Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.
Isai Afr1953 51:4  Luister na My, my volk, en neig die oor tot My, my nasie! Want 'n wet sal van My uitgaan, en Ek sal my reg vasstel as 'n lig van die volke.
Isai Afr1953 51:5  My oorwinning is naby, my heil trek uit en my arms sal die volke oordeel; op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop.
Isai Afr1953 51:6  Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos 'n kleed verslyt en sy bewoners soos muskiete sterwe; maar my heil sal vir ewig bestaan en my geregtigheid nie verbreek word nie.
Isai Afr1953 51:7  Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is! Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie;
Isai Afr1953 51:8  want die mot sal hulle opeet soos 'n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my heil van geslag tot geslag.
Isai Afr1953 51:9  Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die HERE! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster deurboor het nie?
Isai Afr1953 51:10  Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see 'n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie?
Isai Afr1953 51:11  So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg.
Isai Afr1953 51:12  Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? —
Isai Afr1953 51:13  dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?
Isai Afr1953 51:14  Die in boeie gekromde word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie.
Isai Afr1953 51:15  Maar Ek is die HERE jou God wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis; HERE van die leërskare is sy Naam!
Isai Afr1953 51:16  En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê: My volk is jy!
Isai Afr1953 51:17  Ontwaak, ontwaak, staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die HERE die beker van sy grimmigheid gedrink het; die kelk van bedwelming het jy uitgedrink, uitgesuig.
Isai Afr1953 51:18  Nie een van al die seuns wat sy gebaar het, het haar gelei nie; en nie een van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar aan die hand gegryp nie.
Isai Afr1953 51:19  Hierdie twee dinge het jou oorgekom — wie het medelyde met jou? — verwoesting en verbreking, hongersnood en swaard. Hoe sou ek jou kan troos?
Isai Afr1953 51:20  Jou kinders het onmagtig gelê by al die straathoeke soos 'n eland in 'n vangkuil, vol van die grimmigheid van die HERE, van die dreiging van jou God.
Isai Afr1953 51:21  Daarom, hoor tog dit, ellendige, en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie!
Isai Afr1953 51:22  So sê jou Here, die HERE, en jou God wat die saak van sy volk verdedig: Kyk, Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand, die kelk van my grimmigheid; jy sal dit verder nie meer drink nie.
Isai Afr1953 51:23  Maar Ek sal dit in die hand gee van die wat jou droefheid aandoen, wat vir jou gesê het: Buig, dat ons oor kan gaan; en jy moes jou rug maak soos die grond en soos 'n straat vir die wat daaroor gaan.
Chapter 52
Isai Afr1953 52:1  Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie.
Isai Afr1953 52:2  Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!
Isai Afr1953 52:3  Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word.
Isai Afr1953 52:4  Want so sê die Here HERE: In vroeër dae het my volk afgetrek na Egipte om daar as vreemdeling te vertoef, en Assur het hom sonder rede verdruk.
Isai Afr1953 52:5  Maar nou, wat vind Ek hier? spreek die HERE; want my volk is vir niks weggeneem, sy oorheersers maak geraas, spreek die HERE, en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster.
Isai Afr1953 52:6  Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek!
Isai Afr1953 52:7  Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!
Isai Afr1953 52:8  Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Sion.
Isai Afr1953 52:9  Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die HERE het sy volk getroos, Jerusalem verlos.
Isai Afr1953 52:10  Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God.
Isai Afr1953 52:11  Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!
Isai Afr1953 52:12  Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede.
Isai Afr1953 52:13  Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word.
Isai Afr1953 52:14  Soos baie hulle oor U verstom het — so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van 'n mensekind nie —
Isai Afr1953 52:15  so sal Hy baie nasies laat opspring, konings sal hulle mond oor Hom toehou; want wat aan hulle nie vertel is nie, sien hulle; en wat hulle nie gehoor het nie, word hulle gewaar.
Chapter 53
Isai Afr1953 53:1  Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?
Isai Afr1953 53:2  Hy tog het soos 'n loot voor sy aangesig opgespruit en soos 'n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
Isai Afr1953 53:3  Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
Isai Afr1953 53:4  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
Isai Afr1953 53:5  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Isai Afr1953 53:6  Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
Isai Afr1953 53:7  Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.
Isai Afr1953 53:8  Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote — wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.
Isai Afr1953 53:9  En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.
Isai Afr1953 53:10  Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.
Isai Afr1953 53:11  Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.
Isai Afr1953 53:12  Daarom sal Ek Hom 'n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.
Chapter 54
Isai Afr1953 54:1  Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.
Isai Afr1953 54:2  Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in.
Isai Afr1953 54:3  Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk.
Isai Afr1953 54:4  Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie.
Isai Afr1953 54:5  Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.
Isai Afr1953 54:6  Want soos 'n verlate vrou en 'n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos 'n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God.
Isai Afr1953 54:7  Vir 'n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader.
Isai Afr1953 54:8  In 'n uitstorting van toorn het Ek vir 'n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser.
Isai Afr1953 54:9  Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie.
Isai Afr1953 54:10  Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.
Isai Afr1953 54:11  Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere;
Isai Afr1953 54:12  en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes.
Isai Afr1953 54:13  En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.
Isai Afr1953 54:14  Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie.
Isai Afr1953 54:15  As hulle ook die aanval begin — dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor jou val.
Isai Afr1953 54:16  Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en 'n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
Isai Afr1953 54:17  Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.
Chapter 55
Isai Afr1953 55:1  o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!
Isai Afr1953 55:2  Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.
Isai Afr1953 55:3  Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.
Isai Afr1953 55:4  Kyk, Ek het hom tot 'n getuie van die volke gemaak, tot 'n vors en 'n gebieder van die nasies.
Isai Afr1953 55:5  Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die HERE jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.
Isai Afr1953 55:6  Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.
Isai Afr1953 55:7  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.
Isai Afr1953 55:8  Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.
Isai Afr1953 55:9  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
Isai Afr1953 55:10  Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter;
Isai Afr1953 55:11  so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
Isai Afr1953 55:12  Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap.
Isai Afr1953 55:13  Vir 'n doringboom sal 'n sipres opgaan; vir 'n distel sal 'n mirteboom opgaan; en dit sal vir die HERE wees tot 'n naam, tot 'n ewige teken wat nie uitgeroei sal word nie.
Chapter 56
Isai Afr1953 56:1  So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want my heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.
Isai Afr1953 56:2  Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit geen kwaad doen nie.
Isai Afr1953 56:3  En laat die uitlander wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê: Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê: Kyk, ek is 'n droë boom nie.
Isai Afr1953 56:4  Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond:
Isai Afr1953 56:5  Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure 'n gedenkteken en 'n naam gee wat beter is as seuns en dogters; 'n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.
Isai Afr1953 56:6  En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees — elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond,
Isai Afr1953 56:7  hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die volke.
Isai Afr1953 56:8  Die Here HERE wat versamel diegene wat van Israel verdryf is, spreek: Ek sal by hom nog meer versamel, by sy versameldes.
Isai Afr1953 56:9  Al julle wilde diere van die veld, kom eet! Al julle wilde diere in die bos!
Isai Afr1953 56:10  Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer.
Isai Afr1953 56:11  En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam.
Isai Afr1953 56:12  Kom, sê hulle, laat ek wyn gaan haal, en laat ons sterk drank drink, en die dag van môre sal wees soos vandag, buitengewoon groot!
Chapter 57
Isai Afr1953 57:1  Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid.
Isai Afr1953 57:2  Hy gaan in die vrede in: hulle sal rus op hulle bedde — hy wat sy reguit pad loop.
Isai Afr1953 57:3  Maar julle, kom hierheen, kinders van 'n towerheks, geslag van 'n owerspeler en van haar wat hoereer!
Isai Afr1953 57:4  Oor wie maak julle jul vrolik? Oor wie spalk julle die mond oop, steek julle die tong uit? Is julle nie kinders van oortreding, 'n leuenagtige geslag nie,
Isai Afr1953 57:5  wat verhit is by die terpentynbome, onder elke groen boom; wat die kinders slag in die dale, onderkant die rotsklowe?
Isai Afr1953 57:6  By die gladde klippe van die dal is jou deel; dit, dit is jou lot; ook het jy vir hulle drankoffers uitgegiet, spysoffers gebring! Sou Ek daarmee vrede hê?
Isai Afr1953 57:7  Jy het jou bed op 'n hoë en verhewe berg gemaak; ook het jy daar opgeklim om offers te bring.
Isai Afr1953 57:8  En agter die deur en die deurpos het jy jou gedenkteken gesit; want, ontrou aan My, het jy jou bed ontbloot en beklim en wyd gemaak, en jy het vir jou bepaal die loon wat van hulle moes kom; jy het hulle byslaap liefgehad, jy het die vlees gesien.
Isai Afr1953 57:9  En jy het na die koning getrek met olie en jou salf baie gemaak; en jy het jou boodskappers gestuur na ver plekke, ja, diep na die doderyk toe.
Isai Afr1953 57:10  Jy het moeg geword deur jou groot reis; tog het jy nie gesê: Dit is tevergeefs nie! Vernuwing van jou krag het jy gevind; daarom het jy nie uitgeput geraak nie.
Isai Afr1953 57:11  Maar vir wie was jy bedug en bevrees? — want jy het 'n leuenaar geword en aan My nie gedink nie; jy het dit nie ter harte geneem nie. Is dit nie omdat Ek swyg nie, en dit baie lank al, dat jy My nie vrees nie?
Isai Afr1953 57:12  Ék sal jou geregtigheid bekend maak en jou werke, dat hulle jou geen voordeel bring nie.
Isai Afr1953 57:13  As jy skreeu, laat jou hoop gode jou red; maar die wind lig hulle almal op, 'n luggie neem hulle weg. Maar wie op My vertrou, sal die land beërwe en my heilige bergland in besit neem.
Isai Afr1953 57:14  En hulle sal sê: Vul op, vul op, berei die weg, verwyder die struikelblok uit die weg van my volk.
Isai Afr1953 57:15  Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.
Isai Afr1953 57:16  Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het.
Isai Afr1953 57:17  Ek was toornig vanweë die ongeregtigheid van hulle hebsug en het hulle geslaan terwyl Ek My toornig verberg het; ewenwel het hulle afkerig voortgegaan op hulle eie weg.
Isai Afr1953 57:18  Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges.
Isai Afr1953 57:19  Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees.
Isai Afr1953 57:20  Maar die goddelose is soos 'n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op.
Chapter 58
Isai Afr1953 58:1  Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos 'n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.
Isai Afr1953 58:2  Wel soek hulle My dag vir dag en het 'n behae in die kennis van my weë! Soos 'n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het 'n behae in die toenadering tot God.
Isai Afr1953 58:3  Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? — Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan.
Isai Afr1953 58:4  Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.
Isai Afr1953 58:5  Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos 'n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en 'n dag wat die HERE welgevallig is?
Isai Afr1953 58:6  Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?
Isai Afr1953 58:7  Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?
Isai Afr1953 58:8  Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.
Isai Afr1953 58:9  Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord,
Isai Afr1953 58:10  en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.
Isai Afr1953 58:11  En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.
Isai Afr1953 58:12  En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.
Isai Afr1953 58:13  As jy jou voet terughou van die sabbat — om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat 'n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie;
Isai Afr1953 58:14  dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.
Chapter 59
Isai Afr1953 59:1  Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie;
Isai Afr1953 59:2  maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.
Isai Afr1953 59:3  Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg.
Isai Afr1953 59:4  Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat 'n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil.
Isai Afr1953 59:5  Basilisk-eiers broei hulle uit, en spinnerakke weef hulle; hy wat van hulle eiers eet, moet sterwe; en as dit stukkend gedruk word, bars daar 'n adder uit.
Isai Afr1953 59:6  Hulle weefsels deug nie vir klere nie, en met hulle voortbrengsels kan niemand hom toemaak nie; hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande.
Isai Afr1953 59:7  Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie.
Isai Afr1953 59:8  Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.
Isai Afr1953 59:9  Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op 'n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid.
Isai Afr1953 59:10  Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense.
Isai Afr1953 59:11  Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg, maar dit is nie daar nie; op heil — dit bly ver van ons.
Isai Afr1953 59:12  Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede — ons ken hulle:
Isai Afr1953 59:13  die afval en verloëning van die HERE en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart.
Isai Afr1953 59:14  So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie.
Isai Afr1953 59:15  Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie.
Isai Afr1953 59:16  En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun.
Isai Afr1953 59:17  En Hy het geregtigheid aangetrek soos 'n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in 'n mantel.
Isai Afr1953 59:18  Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde: grimmigheid aan sy teëstanders, vergelding aan sy vyande; aan die eilande sal Hy die loon vergelde.
Isai Afr1953 59:19  En hulle sal die Naam van die Here vrees van die westekant af, en sy heerlikheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos 'n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe.
Isai Afr1953 59:20  Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE.
Isai Afr1953 59:21  Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.
Chapter 60
Isai Afr1953 60:1  Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op.
Isai Afr1953 60:2  Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.
Isai Afr1953 60:3  En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.
Isai Afr1953 60:4  Slaan jou oë rondom op en kyk — hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra.
Isai Afr1953 60:5  Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.
Isai Afr1953 60:6  'n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die HERE.
Isai Afr1953 60:7  Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nebájot sal jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike huis heerlik maak.
Isai Afr1953 60:8  Wie is dit wat daar aangevlieg kom soos 'n wolk en soos duiwe na hulle vensters?
Isai Afr1953 60:9  Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die HERE jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het.
Isai Afr1953 60:10  En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm.
Isai Afr1953 60:11  En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog.
Isai Afr1953 60:12  Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal seker verwoes word.
Isai Afr1953 60:13  Die heerlikheid van die Líbanon sal na jou toe kom, die sipres, die plataan en die denneboom almal saam, om te versier die plek van my heiligdom; en Ek sal die plek van my voete heerlik maak.
Isai Afr1953 60:14  En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel.
Isai Afr1953 60:15  In plaas dat jy verlate en gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek jou maak tot 'n ewige heerlikheid, 'n vreugde van geslag tot geslag.
Isai Afr1953 60:16  En jy sal die melk van nasies suig en die bors van konings suig en sal weet dat Ek, die HERE, jou Heiland is, en jou Losser die Magtige van Jakob.
Isai Afr1953 60:17  Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silwer, en vir hout koper en vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders.
Isai Afr1953 60:18  Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie — van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof.
Isai Afr1953 60:19  Die son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans sal die maan vir jou geen skynsel gee nie; maar die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig, en jou God sal jou sieraad wees.
Isai Afr1953 60:20  Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want die HERE sal vir jou wees 'n ewige lig, en die dae van jou treurigheid is verby.
Isai Afr1953 60:21  En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit — as lote deur My geplant, 'n werk van my hande, tot my verheerliking.
Isai Afr1953 60:22  Die kleinste sal 'n geslag word en die geringste 'n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.
Chapter 61
Isai Afr1953 61:1  Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis;
Isai Afr1953 61:2  om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;
Isai Afr1953 61:3  om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot sy verheerliking.
Isai Afr1953 61:4  En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.
Isai Afr1953 61:5  Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees.
Isai Afr1953 61:6  Maar júlle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet en op hulle heerlikheid julle beroem.
Isai Afr1953 61:7  In plaas van julle skande ontvang julle 'n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land 'n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet.
Isai Afr1953 61:8  Want Ek, die HERE, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg, en Ek sal hulle getrou hul loon gee en 'n ewige verbond met hulle sluit.
Isai Afr1953 61:9  En hulle nageslag sal bekend word onder die nasies en hulle nakomelinge onder die volke; almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle 'n geslag is wat die HERE geseën het.
Isai Afr1953 61:10  Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel — soos 'n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos 'n bruid wat haar versier met haar juwele.
Isai Afr1953 61:11  Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos 'n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.
Chapter 62
Isai Afr1953 62:1  Ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos 'n glans en sy heil soos 'n fakkel wat brand.
Isai Afr1953 62:2  En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met 'n nuwe naam genoem word wat die mond van die HERE sal noem.
Isai Afr1953 62:3  En jy sal 'n sierlike kroon wees in die hand van die HERE en 'n koninklike tulband in die hand van jou God.
Isai Afr1953 62:4  Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want die Here het 'n behae in jou, en jou land sal getroud wees.
Isai Afr1953 62:5  Want soos 'n jonkman 'n jongedogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.
Isai Afr1953 62:6  o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes — moenie rus nie
Isai Afr1953 62:7  en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot 'n lof op aarde!
Isai Afr1953 62:8  Die HERE het gesweer by sy regterhand en by sy magtige arm: Waarlik, Ek sal jou koring nie meer gee dat jou vyande dit eet nie, en uitlanders sal jou mos nie drink waarvoor jy gewerk het nie.
Isai Afr1953 62:9  Maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en die HERE prys; en hulle wat dit oes, sal dit drink in my heilige voorhowe.
Isai Afr1953 62:10  Gaan in, gaan in deur die poorte, berei die weg van die volk! Vul op, vul op die grootpad, gooi die klippe weg, steek 'n banier op oor die volke!
Isai Afr1953 62:11  Kyk, die HERE laat dit hoor tot by die einde van die aarde: Sê aan die dogter van Sion: Kyk, jou heil kom; kyk, sy loon is by Hom en sy beloning is voor sy aangesig.
Isai Afr1953 62:12  En hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die HERE; en jy sal genoem word: die begeerde, die stad wat nie verlaat is nie.
Chapter 63
Isai Afr1953 63:1  Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.
Isai Afr1953 63:2  Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap?
Isai Afr1953 63:3  Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het.
Isai Afr1953 63:4  Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom.
Isai Afr1953 63:5  En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun.
Isai Afr1953 63:6  En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.
Isai Afr1953 63:7  Ek sal die goedertierenhede van die HERE prys, die roemryke dade van die HERE, ooreenkomstig alles wat die HERE aan ons bewys het, en die veelvuldige goedheid jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het, na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede.
Isai Afr1953 63:8  Want Hy het gesê: Hulle is tog my volk, kinders wat nie sal lieg nie. So het Hy dan vir hulle 'n Heiland geword.
Isai Afr1953 63:9  In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.
Isai Afr1953 63:10  Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in 'n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry.
Isai Afr1953 63:11  Toe het sy volk gedink aan die dae van die ou tyd, van Moses: Waar is Hy wat hulle uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het?
Isai Afr1953 63:12  Wat sy heerlike arm laat trek het aan die regterhand van Moses; wat die waters voor hulle uit gekloof het, om vir Hom 'n ewige Naam te maak?
Isai Afr1953 63:13  Wat hulle deur die watervloede laat trek het soos 'n perd deur die woestyn, sonder om te struikel?
Isai Afr1953 63:14  Soos vee wat aftrek in die laagte, het die Gees van die HERE hulle na die rus gelei. Só het U u volk gelei, om vir U 'n heerlike Naam te maak.
Isai Afr1953 63:15  Kyk van die hemel neer en aanskou uit u heilige en heerlike woning! Waar is u ywer en u magtige dade? Die ontroering van u binneste en u barmhartighede het hulle jeens my ingehou.
Isai Afr1953 63:16  Want U is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. U, o HERE, is ons Vader; ons Verlosser is van ouds af u Naam.
Isai Afr1953 63:17  HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!
Isai Afr1953 63:18  U heilige volk het dit vir 'n kort rukkie besit; ons teëstanders het u heiligdom vertrap.
Isai Afr1953 63:19  Ons het geword soos hulle oor wie U nie van ouds af geheers het nie, oor wie u Naam nie uitgeroep is nie.
Chapter 64
Isai Afr1953 64:1  Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig
Isai Afr1953 64:2  — soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel — om u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe
Isai Afr1953 64:3  wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie — as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig!
Isai Afr1953 64:4  Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het 'n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.
Isai Afr1953 64:5  U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op u weë. Kyk, U was toornig, en ons het gesondig; in dié toestand was ons baie lank, en — sal ons verlos word?
Isai Afr1953 64:6  En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
Isai Afr1953 64:7  En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede.
Isai Afr1953 64:8  Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.
Isai Afr1953 64:9  HERE, wees nie uitermate toornig nie, en dink nie vir ewig aan die ongeregtigheid nie; aanskou dit tog dat ons almal u volk is.
Isai Afr1953 64:10  U heilige stede het 'n woestyn geword; Sion het 'n woestyn geword, Jerusalem 'n wildernis.
Isai Afr1953 64:11  Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het, is met vuur verbrand, en al wat vir ons dierbaar was, het 'n puinhoop geword.
Isai Afr1953 64:12  HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk?
Chapter 65
Isai Afr1953 65:1  Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan 'n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek!
Isai Afr1953 65:2  Ek het my hande die hele dag uitgebrei na 'n opstandige volk wat wandel op 'n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan;
Isai Afr1953 65:3  'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg, wat offer in tuine en rook laat opgaan op bakstene;
Isai Afr1953 65:4  wat in die grafte sit en vernag in verborge plekke; wat varkvleis eet, en daar is brokke onrein vleis in hulle skottels;
Isai Afr1953 65:5  wat sê: Bly daar! Kom nie naby my nie, want ek is heilig vir jou! Hierdie mense is 'n rook in my neus, 'n vuur wat die hele dag brand.
Isai Afr1953 65:6  Kyk, dit staan voor my aangesig geskrywe; Ek sal nie swyg nie, tensy dat Ek dit vergeld het; ja, Ek sal dit vergelde in hulle boesem —
Isai Afr1953 65:7  julle ongeregtighede en die ongeregtighede van julle vaders tesame, sê die HERE; dat hulle offerrook laat opgaan het op die berge en My smaadheid aangedoen het op die heuwels — ja, Ek sal vóór alles hulle loon in hulle boesem toemeet.
Isai Afr1953 65:8  So spreek die HERE: Soos wanneer iemand mos vind in 'n tros druiwe en sê: Verniel dit nie, want daar is 'n seën in — sal Ek doen ter wille van my knegte, om nie alles te verniel nie.
Isai Afr1953 65:9  En Ek sal 'n nakroos uit Jakob laat voortkom en uit Juda die erfbesitter van my berge; en my uitverkorenes sal dit erflik in besit neem en my knegte daar woon.
Isai Afr1953 65:10  En Saron sal 'n weiveld vir kleinvee word, en die dal Agor 'n lêplek vir beeste, vir my volk wat My gesoek het.
Isai Afr1953 65:11  Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat 'n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot —
Isai Afr1953 65:12  Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag nie.
Isai Afr1953 65:13  Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.
Isai Afr1953 65:14  Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.
Isai Afr1953 65:15  En julle sal jul naam vir my uitverkorenes as 'n woord van verwensing laat agterbly, en die Here HERE sal jou ombring. Maar sy knegte sal Hy noem met 'n ander naam,
Isai Afr1953 65:16  sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid, omdat die vorige benoudhede vergeet is en verborge vir my oë.
Isai Afr1953 65:17  Want kyk, Ek skep nuwe hemele en 'n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.
Isai Afr1953 65:18  Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees.
Isai Afr1953 65:19  En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.
Isai Afr1953 65:20  Daarvandaan sal nie meer kom 'n suigling van 'n paar dae of 'n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want 'n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.
Isai Afr1953 65:21  En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet:
Isai Afr1953 65:22  hulle sal nie bou dat 'n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat 'n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.
Isai Afr1953 65:23  Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is 'n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.
Isai Afr1953 65:24  En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.
Isai Afr1953 65:25  Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos 'n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.
Chapter 66
Isai Afr1953 66:1  So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?
Isai Afr1953 66:2  Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.
Isai Afr1953 66:3  Wie 'n bees as offer slag, is soos hy wat 'n man doodslaan; wie 'n lam offer, soos hy wat 'n hond se nek breek; wie 'n spysoffer bring — dit is varkbloed; wie wierook as gedenkoffer bring, is soos hy wat 'n afgod prys. Soos húlle hul eie weë verkies het en hulle siel 'n behae het in hul verfoeisels,
Isai Afr1953 66:4  so sal Ek ook hulle ongeluk verkies en wat hulle met skrik vervul, oor hulle laat kom; omdat Ek geroep en niemand geantwoord het nie, Ek gespreek en hulle nie gehoor het nie; maar hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë, en verkies wat My nie behaag nie.
Isai Afr1953 66:5  Hoor die woord van die HERE, julle wat vir sy woord bewe! Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat die HERE heerlik word, dat ons julle vreugde kan aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!
Isai Afr1953 66:6  Hoor — 'n rumoer uit die stad! Hoor — uit die tempel! Hoor — dit is die HERE wat sy vyande hulle dade vergeld!
Isai Afr1953 66:7  Voordat sy weë gekry het, het sy gebaar; voordat smart oor haar gekom het, is sy van 'n seuntjie verlos.
Isai Afr1953 66:8  Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word 'n land op een enkele dag gebore? Of word 'n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.
Isai Afr1953 66:9  Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat baar nie? sê die HERE. Of sou Ek wat laat baar, self toesluit? sê jou God.
Isai Afr1953 66:10  Wees bly saam met Jerusalem en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het!
Isai Afr1953 66:11  sodat julle kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge; sodat julle kan uitdrink en julle verlustig in die oorvloed van haar heerlikheid.
Isai Afr1953 66:12  Want so sê die HERE: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos 'n rivier en die rykdom van die nasies soos 'n oorlopende stroom; en julle sal suig, julle sal op die heup gedra word en op die knieë getroetel word.
Isai Afr1953 66:13  Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word.
Isai Afr1953 66:14  En julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees, en julle gebeente sal groei soos die jong gras; dan sal die hand van die HERE bekend word aan sy knegte, en Hy sal op sy vyande grimmig wees.
Isai Afr1953 66:15  Want kyk, die HERE sal kom in vuur, en sy waens soos 'n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.
Isai Afr1953 66:16  Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees.
Isai Afr1953 66:17  Die wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine, terwyl hulle die een nadoen wat in die middel staan; wat varkvleis eet en verfoeisels en muise — almal saam sal hulle tot niet raak, spreek die HERE.
Isai Afr1953 66:18  Maar Ek ken hulle werke en hulle gedagtes; die tyd kom dat Ek al die nasies en tonge versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien.
Isai Afr1953 66:19  En Ek sal 'n teken onder hulle doen, en vrygeraaktes uit hulle stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud, wat die boog span, na Tubal en Jawan, na die ver kuslande wat my tyding nie gehoor en my heerlikheid nie gesien het nie; en hulle sal my heerlikheid onder die nasies verkondig.
Isai Afr1953 66:20  En hulle sal al julle broers bring uit al die nasies as offergawe aan die HERE, op perde en op waens en in draagstoele en op muilesels en op kamele na my heilige berg, na Jerusalem, sê die HERE, net soos die kinders van Israel die spysoffer in 'n rein voorwerp bring na die huis van die HERE.
Isai Afr1953 66:21  En ook sal Ek uit hulle priesters en Leviete neem, spreek die HERE.
Isai Afr1953 66:22  Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees.
Isai Afr1953 66:23  En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE.
Isai Afr1953 66:24  En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.